‘NSFAS-dief’ tronk toe gestuur

Sibongile Mani in die hof. (Foto: Skermskoot/eNCA)

Sibongile Mani, ʼn oudstudent aan die Walter Sisulu Universiteit (WSU), is vyf jaar tronkstraf opgelê nadat sy meer as R800 000 van die nasionale hulpskema vir studente (NSFAS) op allerlei luukshede uitgegee het.

Hierdie vonnis sal nie opgeskort word nie, maar eerder direk uitgedien word.

Mani het Woensdag in die streekhof in Oos-Londen verskyn nadat sy verlede maand in die einste hof aan diefstal skuldig bevind is.

Landdros Twanette Olivier het in haar uitspraak gesê dit is die hof se plig om ʼn regverdige vonnis op te lê, al stem dit nie met die openbare mening ooreen nie.

“Hierdie hof is deeglik bewus van die feit dat ʼn hof nie moet streef om onnodig swaar te straf nie, maar hom ook nie moet oorgee aan misplaaste simpatie nie.”

Die hof het menigmaal gehoor dat Mani swaar groot geword het, maar volgens Olivier is die realiteit dat die meeste Suid-Afrikaners swaarkry en dat haar saak dus nie uniek is nie.

(Foto: Skermskoot/eNCA)

“Trouens, jy het die voordeel gehad om by WSU te studeer; jy was die begunstigde van ʼn voedseltoelaag gedurende 2016 en 2017, jy was die begunstigde van ʼn boektoelaag, jy was die begunstigde van verblyf in Oos-Londen en jy was bevoordeel dat NSFAS jou studiegeld befonds het,” sê sy.

“Daarom kan daar nie gesê word dat jy ten tyde van die voorval ʼn slagoffer van jou omstandighede was nie. Jy was die ontvanger van al hierdie voordele om jou opleiding te bevorder.”

Mani het gedurende 2017 honderde duisende rand verduister nadat R14 miljoen verkeerdelik in haar rekening inbetaal is. Die geld is verkeerdelik deur Intellimali, ʼn kontrakteur wat NSFAS se betalings behartig, oorbetaal.

Sy het ʼn gedeelte van die geld op allerlei luukshede soos slimfone en ontwerpersklere uitgegee.

Volgens Olivier het Mani elke dag vir die 76 dae wat dié geld in haar rekening gelê het, ʼn besluit oor haar toekoms geneem.

“Jy was goed op pad om verder te studeer totdat jy hierdie besluit geneem het.”

Olivier het die vonnis opgelê en bygevoeg dat dit “onvanpas” sal wees om die vonnis op te skort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

36 Kommentare

jongste oudste gewildste
Bart-Man

Ewe skielik begin mense tronkstraf kry. Sien jou maatjie van McDonald’s gaan saam met jou sit.

Boris

Sy het maar net die voorbeeld van haar regerings amptenare gevolg. Al verskil is sy kry 5 jaar tronkstraf en hulle word na ander poste bevorder.

Vonkprop

As ek eweskielik R14 miljoen in my rekening het gaan ek onmiddelik bank toe en bevraagteken dit. Daar is te veel kriminele wat gewone rekeninge gebruik vir geldwassery ens. Ek stem saam met die regter. Sy het tyd gehad om oor haar aksies te dink en het besluit om oneerlik te wees. Geen simpatie nie. Laat sy sit.

Kobus

Ons lees heeltyd van dit wat sy gemors het maar wat die balans? Het sy dit terugbetaal?

quartus

Ek maak sommer my bottel johnny walker blue label oop van blydskap oor die vonnis!!!.geen maar geen simpatie vir haar nie!!!