NSFAS hof toe gesleep oor opskort van beurse

Solidariteit Jeug wend hom nou tot die hof om die regering se nasionale finansiële hulpskema vir studente (NSFAS) te dwing om die beurse wat hy vroeër aan talle studente toegeken en sedertdien opgeskort het, weer in werking te stel.

Verskeie beurshouers is onlangs deur hulle betrokke tersiêre instellings ingelig dat NSFAS versuim het om hul studiegeld te betaal. Dit beteken studente kan nie hulle studies voortsit of afhandel nie.

Maroela Media het vroeër berig NSFAS het in April vanjaar sowat 5 000 studente se beursgeld vir 2020 gekanselleer nadat dit aan die lig gekom het dat hulle huishoudelike inkomste glo meer as die kwalifiserende drempel van R350 000 per jaar was.

Solidariteit Jeug het vroeër ʼn aanmaning aan NSFAS gestuur om die betalings te hervat. Die skema het in reaksie daarop ontken dat daar enige ongerymdhede of wanbestuur met die wanbetaling van studente se beurse bestaan.

Paul Maritz.

“NSFAS is besig om hom te verontskuldig terwyl duisende studente nou sonder ʼn toekoms is,” sê Paul Maritz, bestuurder van Solidariteit Jeug en loopbaanontwikkeling.

“Die gevolg van NSFAS se wanbestuur is dat studente hul beurse kwyt is en dus nie hul studie sal kan voortsit en voltooi nie. Hierdie studente is almal uit laerinkomstegroepe en kan nie hul studies op ʼn ander manier finansier nie. NSFAS was vir hulle ʼn uitkoms en ʼn kans om hul eie toekoms te vorm. Nou word hulle deur ongerymdhede by die hulpskema hiervan ontneem.”

In sy hofstukke verwerp die organisasie NSFAS se verweer dat hy billik en binne sy reg opgetree het deur die beurse op te skort. Solidariteit vra die hof om NSFAS te beveel om sy verpligtinge teenoor die studente met wie hy ʼn ooreenkoms aangegaan het, na te kom.

Anton van der Bijl, hoof van regsdienste by Solidariteit, het gesê geen instelling het die reg om eensydig ʼn einde aan ʼn kontrak te maak en sy verpligtinge te ontduik nie.

“Wat NSFAS gedoen het, is nie net oneties nie, maar ook immoreel. NSFAS vergeet dat hy nie bloot met nommers werk nie, maar met mense wie se toekoms op die spel is. Solidariteit sal sulke optrede deur instellings nie duld nie en veg teen sulke ongerymdhede.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Phumba ·

Wonder watter kleur die 5000 studente is?
Sal natuurlik as rasisties bestemple word as dit deur die media gepubliseer word.

Racheltjie Debeer ·

Ek weet watter kleur, want my kind sin is gestop, sonder waarskuwing.

Jaco ·

Waarom doen wit studente hoegenaamd aansoek vir staatsbeurse? Ek weet dis seker ‘n absolute wonderwerk as party van hulle dit kry, maar hulle behoort nou, na 26 jaar van ANC-wanbestuur, te weet dinge gaan skeefloop.
Dan ook, weet hulle van regstellende aksie en BEE nadat hulle eendag hulle wonderlike grade en diplomas gekry het? Ek weet hoe dit voel. Aansoek na aansoek, maand na maand; jaar na jaar. Ek het gedink my werksondervinding en my kwalifikasies, wat wel nie eintlik relevant is vir die huidige arbeidsmark nie, sal darem wys eks nie onnosel nie. Die harde werklikheid was egter dat ek op my CV gelieg het deur aan te dui dat ek niks op universiteit bereik het nie. Deur te lieg én deur dommer te lyk, het ek wel ordentlike werk gekry. Maar daar sal nie juis pensioen en “lekker agteroor aftree” wees eendag nie. Daarvoor het te veel skuld opgehou uit my werklose jare – werkloosheid wat aangehou het terwyl ek, hoe ironies, eerlik was oor my kwalifikasies.

Deon ·

Stig n massa fonds wat vir die studente van hulp kan wees. Wees objektief selektief wanneer julle die studente dan met so stelsel help…… Dit kan dan nog n “paralelle” sisteem met die staat wees. Dis mos deel van die plan om n paralelle stelsel te skep, of hoe?

B-Man ·

Ek is amper seker daarvan Helpende Hand het al reeds so ‘n skema. Studente kan dit by Akademia en seker nou SolTech ook voor aansoek doen.

Baardman ·

My kind wil volgende jaar ‘n honneursgraad doen. Probleem is dat Covid veroorsaak het dat hulle eers in Desember sal weet of hulle keuring gekry het, Maar Helpende hand se aansoeke het reeds einde September gesluit.

christo ·

NFSAS se administrasie is pateties. Die eerlike studente wat werk en wel hulle lenings terugbetaal sukkel om rekeningstate te kry en dat dit ‘n bomenslike taak is om ‘n debietorder te registreer om betaling te vermaklik.
Net nóg een swak bestuurde staatsinstelling.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.