NSFAS in hof gedaag oor kansellasie van beurse

Paul Maritz, bestuurder van Solidariteit Jeug en loopbaanontwikkeling. (Argieffoto)

Solidariteit Jeug is oorval deur studente en hul ouers wat ewe skielik met die hande in die hare en boonop ʼn massiewe rekening sit nadat hul NSFAS-beurse opgeskort is.

Paul Maritz, bestuurder van Solidariteit Jeug en loopbaanontwikkeling, sê die betrokke studente se beurse is opgeskort al het hul omstandighede nie verander nie, en al het hulle ʼn getekende kontrak vir 2020 met NSFAS gehad.

“Die dringendheid van die kwessie het ons tot ernstige stappe gedryf en daarom neem ons nou die saak van heelparty Solidariteit Jeug-lede na die hof. Ons hoop om reg en geregtigheid te laat geskied, en ons hoop om aan jongmense die toekoms terug te gee wat nou skynbaar verlore is.”

NSFAS het onlangs aan nagenoeg 5 200 studente ʼn kennisgewing gestuur dat hul studies in 2020 nie meer befonds gaan word nie omdat hul ouers se inkomste, volgens inligting wat vanaf die Suid-Afrikaanse Inkomstediens bekom is, bo die R350 000-kerf val. Uit hierdie studente het 994 appèl aangeteken, waarna die befondsing van 488 uit die 944 studente hervat is.

Maritz sê NSFAS verontagsaam sy eie kontraktuele verpligtinge deur in die middel van die jaar ʼn kontrak te hersien wat aan die begin van die jaar, onder omstandighede wat in daardie stadium relevant was, gesluit is.

“ As my ouers byvoorbeeld in Oktober 2019, toe ek vir befondsing aansoek gedoen het, ʼn totale jaarlikse inkomste van slegs R300 000 gehad het, sou ek vir NSFAS-hulp vir die jaar 2020 kwalifiseer. My ouers se veranderende omstandighede in 2020, veral ʼn verhoging wat hul inkomste verby die R350 000-kerf stoot, mag dalk my befondsing vir 2021 beïnvloed, maar dit kan geen impak hê op die kontrak wat reeds tussen my en NSFAS bestaan nie.”

ʼn Oudit in die middel van die jaar is dus prosedureel bevraagtekenbaar, en kan ouers wie se kinders NSFAS-hulp ontvang ook ontmoedig om in die jaar van hulp hul finansiële omstandighede te probeer verbeter, meen Maritz.

“Wanneer in ag geneem word dat 488 van die 944 studente wat appèl aangeteken het, suksesvol was met hul appèl, besef ʼn mens dadelik dat NSFAS se administrateurs verkeerd was met 52% van hul terugskrywings.

“Een of twee foute kan administratiewe glipse genoem word; 488 sodanige foute is meer as net ʼn fout – dit dui op ʼn strukturele of dieperliggende probleem. Die hartseerste van alles is dat jongmense se lewens deur hierdie foute geraak word.”

NSFAS gaan gebuk onder gerugte van korrupsie en nepotisme. Die parlementêre portefeuljekomitee oor hoër onderwys het ’n eenparige besluit geneem om ’n oorsigtelike ondersoek na NSFAS te doen. Die komitee het onder meer getuienis aangehoor oor die oënskynlike totale miskenning van normale werwingsbeleid en -prosedures rakende die werwing van personeel by NSFAS.

Die NSFAS-werknemers wat voor die komitee verskyn het, het beweer dat Randall Carolissen, administrateur, die indiensneming van vriende en kennisse gefasiliteer het sonder om die behoorlike prosesse te volg.

Maritz meen die land kan nie bekostig om mense in beheer van belangrike instellings soos NSFAS te hê wat nie al hulle aandag fokus op hul taak om dit vir minderbevoorregte studente moontlik te maak om te studeer nie.

“In ʼn ideale wêreld sal alle staatsinstellings hul werk ernstig opneem, maar in ʼn land waar baie instellings vou, is daar tog sommige kritieke instellings – instellings waarsonder die land nie vorentoe kan beweeg nie. NSFAS is so ʼn instelling. Die taak waarmee hierdie instelling gemoeid is, is die toekoms van ons kinders, en die toekoms van ons land.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Hennie

Werklik? As jou omstandighede verander het en jou ouers se inkomste is nou bo die minimum bedrag, dan kan jy nie meer in aanmerking kom vir staat subsidie nie. Ons het nou werklik ‘n klomp “give me’ s” geword….

Mieke

Liewe aarde!!! Ek wens ek kon R350,000 per jaar verdien!!!