NSFAS ontken hy verbreek bande met TUT

Die nasionale finansiële hulpskema vir studente (NSFAS) het Dinsdag gesê gerugte op sosiale media dat dié organisasie besluit het om alle bande met die Tshwane-Universiteit vir Tegnologie (TUT) se studente te verbreek, is onwaar.

In ’n mediaverklaring wat Dinsdagaand uitgereik is, het Kagisho Mamabolo, woordvoerder van NSFAS, gesê die organisasie is bewus gemaak van ’n skermskoot van ’n beweerde nuusberig wat hierdie gerugte bevat.

“Die berig noem verder dat dié besluit geneem is na aanleiding van die onlangse betogings by TUT rakende studente se ontevredenheid met die skema se versuim om maaltydtoelaes aan studente wat in nie-geakkrediteerde koshuise woon, uit te betaal. Die artikel het ook aangedui dat die organisasie nie meer van Fundi se dienste gebruik gaan maak om geld aan studente uit te betaal nie,” het Mamabolo in die verklaring gesê.

Volgens Mamabolo het NSFAS met TUT kontak gemaak om dit op skrif te stel dat die skermskoot van die nuusberig asook die gerugte wat versprei word, fopnuus is.

Mamabolo het dit ook duidelik gemaak dat NSFAS nie van plan is om bande met TUT of enige ander onderriginstansie te verbreek nie.

“Met betrekking tot die uitbetaling van studentetoelaes het NSFAS nog nooit ’n ooreenkoms met Fundi of enige ander derdeparty-diensverskaffer gehad nie. Sulke kwaadwillige inhoud is nie net onbetroubaar nie, maar kan ook paniek en ontwrigting veroorsaak en moet dus verwerp en streng veroordeel word,” het Mamabolo gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.