NSFAS ‘op pad na herstel’

Voornemende studente in Limpopo wag om hul aansoeke vir finansiering vir die 2020-studiejaar in. (Foto: NSFAS/ Facebook)

Die nasionale finansiële hulpskema vir studente (NSFAS) is op die lang herstelpad. Dit blyk uit ’n voorlegging wat Maandag voor die parlementêre portefeuljekomitee oor onderwys gemaak is deur die admininistrateur van NSFAS, dr. Randall Carolissen.

NSFAS is ’n beurs-en-leningskema vir behoeftige studente en was tot omstreeks 2010 die juweel in die land se onderwyskroon. Daarna het dit op ’n afwaartse glybaan beland en in 2018 is Carolissen ingebring met die taak om die skade te herstel. Dit is ’n reusagtige stelsel wat tans 426 399 universiteitstudente en 294 843 TVET-kollegestudente se studies help finansier.

Studente wat by NSFAS geregistreer is, kla jaarliks dat hulle nie betyds hul klasgeld of toelaes vir kos, verblyf en handboeke kry nie. Daarbenewens was daar die afgelope paar jaar verskeie geleenthede toe astronomiese bedrae geld “per ongeluk” in studente se bankrekenings beland het.

Voordat Carolissen as administrateur ingegryp het, was die NSFAS se wanbestedingsyfer R7,5 miljard. Probleme het ingesluit groter uitbetalings as waarop studente geregtig was, foutiewe kontrakte, studente wat gefinansier is vir kursusse waarvoor die NSFAS nie veronderstel is om te betaal nie, uitbetalings aan studente wat nie vir hulp kwalifiseer nie en uitbetalings sonder dat kontrakte geteken is.

Carolisson kon egter Maandag enkele verbeterings rapporteer.

Waar die situasie in alle afdelings, gemeet aan die maatstawwe van die ouditeur-generaal, kritiek was by sy oorname as administrateur, is daar reeds merkbare verbeteringe.

Die situasie omtrent kubersekerheid is steeds kritiek, maar data-integriteit, intitusionele kapasiteit en institusionele kultuur het verbeter van “kritiek” na “hoë risiko”. Datadeling, stelselstabiliteit en finansiële bestuur val nou in die kategorie “medium risiko” en uitbetalings aan studente is verskuif na “geen risiko”.

Carolissen het Maandag gesê die fonds ervaar steeds probleme met inligtingstegnologie, swak finansiële kontrole, swak funksionerende personeel, bedrog en korrupsie.

Die stelsels wat Carolissen ingebring het om finansiële risiko te verminder sluit in inligtingstegnologie-opdatering en kubersekerheid, verbeterde data-integriteit, beter bestuurspraktyke, beter finansiële bestuur en beter skakeling met universiteite en TVET-kolleges.

Carolissen het benadruk dat daar vir verdere verbeterings ’n paar sleutel-boublokke is. Eerstens moet daar minder tussengangers tussen die NSFAS en die studente wees. Tweedens moet regulering van die finansiering van studenteverblyf strenger gereguleer word en derdens moet die praktyk waarvolgens NSFAS-koepons vir geld geruil word, in die kiem gesmoor word.

Carolissen het gesê die belangrikste haalbare doelwit is om teen die einde van die huidige boekjaar in Maart 2021 ’n skoon oudit te kry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Willem

Dis n groot klug

Sarel

Weereens niks omtrent die vermisde fondse niexen niemand word vervolg nie.