NSRI help twee van skepe ná mediese noodgevalle

Lede van die NSRI tydens die reddingspoging. (Foto: NSRI)

Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) het twee siek bemanningslede in afsonderlike operasies op skepe by Port Elizabeth en Kaapstad te hulp gesnel.

Lede van die NSRI in Port Elizabeth is Donderdag kort na 19:00 ontplooi om ʼn bemanningslid met ʼn mediese probleem op ʼn olietenkskip op pad na Port Elizabeth by te staan, het die instituut Saterdag in ʼn verklaring gesê.

ʼn Dokter van die Oos-Kaapse nooddienste, maritieme koördinasiesentrum en Telkom se maritieme radiodiens het gehelp met die koördinering van die pasiënt se noodvervoer, het Justin Erasmus, stasiebevelvoerder van die NSRI in Port Elizabeth gesê.

Die vaartuig JLK Rescuer is met ʼn reddingsparamedikus aan boord te water gelaat en na die skip gestuur.

“Ons het vier seemyl van die kus van die Port Elizabeth-hawe die olietenkskip bereik. Die reddingsparamedikus en ʼn NSRI-reddingspan is aan boord en die pasiënt, wat in ʼn bestendige toestand was, is op ʼn gespesialiseerde draagbaar vasgemaak en na die reddingsvaartuig vervoer.”

Die pasiënt is aan land gebring en daarna met ʼn ambulans na ʼn hospitaal geneem, het Erasmus gesê.

In die tweede voorval het die NSRI se Tafelbaaistasiebevelvoerder, Marc de Vos, gesê die haweowerheid het die span vanoggend omstreeks 09:00 versoek om ʼn siek bemanningslid van ʼn vragskip te gaan haal.

ʼn Dokter van die Wes-Kaapse nooddienste, die maritieme koördinasiesentrum en Telkom se maritieme radiodiens het ook in dié voorval gehelp om die pasiënt te hulp te snel.

Die vaartuig Spirit of Vodacom is ontplooi en het inderhaas na die skip in Tafelbaai gevaar.

De Vos het gesê die bemanningslid is veilig aan boord van die NSRI se vaartuig gebring en aan land geneem, waarna hy na private dokters vir behandeling geneem is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Cherokee ·

Dit is lekker om te lees dat besoekers onmiddellike aandag kry wanneer nodig. (en moet nie enige kinkel in my kommentaar soek nie, want dit is nie daar nie. Ek woon op ‘n skiereiland met die hawe en die oseaan weerskante van my woning bine enkele honderde meters, en ontmoet skeepsbemanning periodiek (of periodies as jy ‘n selfs erger taalaktivis is as ek.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.