NSRI-seereddingsboot onderneem langste, verste reis

(Foto: NSRI)

Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) se vyfde seereddingsboot gaan die langste seereis in die organisasie se geskiedenis onderneem: dit gaan van Kaapstad – waar die boot gebou is – na Richardsbaai vaar.

Die vaartuig het Donderdag van Kaapstad vertrek en die NSRI beoog om teen Saterdagmiddag by Stasie 19 op Richardsbaai aan te kom.

Brett Ayres, direkteur van die NSRI se reddingsdienste, sê die boot sal die noordelike kuslyn van KwaZulu-Natal tot by die Mosambiekse grens bewaak. Die vaartuig is ook spesifiek ontwerp om Suid-Afrikaanse seetoestande te trotseer.

“Die boot sal altesaam 1 068 seemyl aflê, wat gelykstaande is aan 1 900 km. Die bemanning beoog om teen ʼn spoed van 38 km/h te vaar,” sê Ayres.

Dit is boonop veel goedkoper om oor see te reis.

Die NSRI is die enigste maritieme reddingsdiens wat in Suid-Afrikaanse gebiedswater werk. Daar is egter ʼn toenemende behoefte om moderne reddingsvaartuie soos dié in te span vir seereddingsdienste.

“Om vir ʼn reis van hierdie aard voor te berei, verg ure lange beplanning,” sê Graeme Harding, die NSRI se opleidingsbestuurder.

“ʼn Mens moet ʼn volledige vaartplan opstel, asook logistiek, weer- en seetoestande en gevare in ag neem. Jy moet ook seker maak dat daar genoeg brandstof aan boord is.”

Die kuslyn waarlangs die vaartuig gaan reis, loop ook verby die NSRI-stasies by Durban, asook Ballito by die Tugelarivier, wat die grootste rivier in KwaZulu-Natal is.

(Foto: NSRI)

“Daar is ʼn behoefte aan ʼn reddingsboot in dié gebied omdat die Richardsbaai-reddingsbasis baie kommersiële skeepvaart en seiljagverkeer ondersteun. Die afstande en plaaslike seetoestande van die gebied maak dit noodsaaklik om ʼn klas-een-boot te hê.”

Die boot sal in Mosselbaai vir brandstof en voorraad stilhou, en dan by Gqeberha, Oos-Londen en ook Durban. Dit sal daarna tot by die eindbestemming in Richardsbaai vaar.

Ayres sê die vaartuig se vordering sal fyn gemonitor word.

“Met die boot se vaart langs die KwaZulu-Natalse kus, sal ons ʼn groot verbetering in ons vermoë kan sien om reddingsdienste in die noordelike dele van KwaZulu-Natal te lewer. Aangesien Richardsbaai ons mees noordelike klas-een-stasie is, is dit op ʼn noodsaaklike strategiese ligging geleë om ons kuslyn te dek.”

Die NSRI het, benewens dié boot by Richardsbaai, ʼn ander boot by die NSRI se Durban-reddingsbasis.

“Dit beteken dat ons vinnig oor ʼn veel groter kusgebied kan reageer. Ons sal voortgaan om ons werk te doen om lewens te red, en die reddingsvaartuig maak dit beslis meer doeltreffend.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Goldy ·

Om soveel keer te stop vir brandstof is een ding maar hoekom vir voorraad? ‘Tweedaguitstappie in die verlate kan mos met een krat gedek word?

Goldy ·

Vervoer langs kus is baie goedkoper as oor lamd, maar waarom is daar nie passasiersbote, nie plesierbote nie maar gewone transportdiens, nie al met die kus af nie? Baie mense sal,bereid wees omlanger te vat maar minder te betaal?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.