NSS-hereksamen na November geskuif

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

Die departement van basiese onderwys het die gewysigde senior sertifikaat (ou matriek) en die Nasionale Senior Sertifikaat- (NSS-)eksamen wat in Mei en Junie herskryf sou word, uitgestel te midde van die Covid-19-pandemie.

Dit is die matriek-hereksamen wat geskryf moes word deur meer as 350 000 deeltydse kandidate wat nie aan die slaagvereistes in die eindeksamen van 2019 voldoen het nie, asook diegene wat wil herskryf om hul punte te verbeter.

Die departement het Saterdag in ʼn verklaring gesê Mathanzima Mweli, direkteur-generaal van die departement, het ʼn skrywe gerig aan die onderskeie hoofde van die provinsiale onderwysdepartemente om dié verandering te bevestig.

Volgens Mweli is daar uiteindelik besluit om dié eksamen uit te stel weens die verlengde algehele landwye afsondering. Die hereksamen sou tussen 4 Mei en 26 Junie afgelê word.

Mweli verduidelik dat dit nou saam met die November-eksamen geskryf sal word. “Die besonderhede oor die saamgevoegde Junie- en Novembereksamen sal mettertyd deurgegee word. Kandidate sal ingelig word oor registrasie, eksamensentrums en -roosters,” het die direkteur-generaal verseker.

Die departement doen ʼn beroep op kandidate om steeds voorbereiding te doen met leermateriaal wat op die departement se webwerf beskikbaar gestel is.

Hope Mokgatlhe, woordvoerder van die departement, het vanoggend aan Maroela Media bevestig dat die uitstel van die eksamen slegs van toepassing is op diegene wat die Mei-Junie-hereksamen sou aflê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Willem ·

Die klomp hoef nie eksamen te skryf nie hulle is reeds deur.

Patch ·

Willem, ek dink nie jy verstaan nie. In my kind se geval kort hy 3% vir ‘n vak om te gaan studeer vir iets wat hy al van laerskool af van droom. Om sy droom te bewaarheid moet hy die vak her. En ja hy het baie hard studeer verlede jaar, slegs 3% lê tussen hom en sy drome. Ek dink nie jy verstaan nou hoe dit die kinders beïnvloed nie.

Jaco ·

Slaagvereistes? Vreemde woord vir die “nuwe” SA. Ek dog almal word net deurgesit

Rodger17 ·

Los die eksamens en verkoop die sertifikate dis n inkomste vir die staat

marius ·

Wat gaan hulle doen aan die 397 skole wat geplunder en verwoes is die afgelope 3 weke ? Almal deursit soos slim jansen voorstel ?

Peetjie ·

Hulle kan maar net sowel n oopboek eksamen op die internet doen, sal die selfde resultate gee…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.