Ntlemeza as nuwe hoof van Valke aangestel

Nathi Nhleko. Foto: Werner Beukes/SAPA

Nathi Nhleko. Foto: Werner Beukes/SAPA

Polisieminister Nathi Nhleko het Donderdag aangekondig dat die waarnemende hoof van die Valke, Mthandazo Ntlemeza, permanent in dié posisie aangestel is.

Ntlemeza staan sedert Desember aan die hoof van die eenheid nadat Anwa Dramat uit die posisie geskors is ná ʼn ondersoek oor die onwettige uitlewering van Zimbabwiese burgers in 2010.

Nhleko het by die mediakonferensie gesê Ntlemeza het 34 jaar ervaring as ʼn polisiebeampte en om en by 30 jaar in die ondersoek- en intelligensiediens. Ntlemeza het in 1981 by die polisiemag aangesluit in die destydse Transkei en het sedertdien vir verskeie polisie-eenhede gewerk.

“Genl. Ntlemeza het baie prestasies bereik in die opsporing van misdaad en polisiëring,” het Nhleko gesê. Hy het gesê vyf kandidate is vir die pos oorweeg en onderhoude is met hulle gevoer. Ntlemeza was uiteindelik “die beste man vir die posisie”.

Ntlemeza, wat langs Nhleko gesit het tydens die konferensie, het gesê sy aanstelling dui op die kabinet se vertroue in sy bekwaamheid.

“Ek verseker julle en die burgers van hierdie land van my onwrikbare toewyding teenoor die stryd teen misdaad en die oppergesag van die gereg,” het Ntlemeza gesê. “Ek hoop die [Valke] sal hulself bewys as ʼn gevorderde, bevoegde en betroubare arm van polisiëring in Suid-Afrika.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Kobus ·

As dit waar is dat hy reeds in die ou bedeling by die polisie aangesluit het, behoort hy goeie opleiding ontvang het. Menige swart polisielede wat in die ou bedeling opleiding ontvang het en uitstekende polisiebeamptes was, is weg uit die mag omdat kaderontplooiing hulle bekwaamheid oor die hoof gesien het.
So, Genraal, as jy werklik jou werk gaan doen en misdaad en korrupsie gaan aanspreek, begin by Zuma en al sy lakeie wat hierde land en ons paar belastingbetalers miljarde kos.
Sterkte.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.