Ntlemeza: ‘Booysen ontvang beloning vir 6 onskuldige mans se dood’

Johan Booysen

Johan Booysen

Johan Booysen, die geskorste KwaZulu-Natalse hoof van die Valke, word daarvan beskuldig dat hy en ander beamptes ʼn R10 000 beloning ontvang het nadat hulle ses onskuldige mans doodgeskiet het.

Hierdie bewering teen Booysen en mans in die Durbanse georganiseerde misdaadeenheid in Cato Manor waarvan hy die hoof was, word in ʼn beëdigde verklaring gemaak wat deur die nuutaangestelde hoof van die Valke, genl.maj. Berning Ntlemeza, by die Durbanse hooggeregshof ingedien is.

Ntlemeza beweer verder hoewel ’n beloning aangebied is om die mans op te spoor wat die polisiebeampte, supt. Zethembe Chonco, in Augustus 2008 vermoor het, is die saaknommers wat gebruik is om die beloning te ontvang vir onverwante sake van huisbraak en motordiefstal.

Booysen is vroeër geskors nadat hy na bewering vals saaknommers ingedien het om die beloning te ontvang. Booysen beweer egter die dokument wat daartoe gelei het dat hy en sy span ʼn beloning ontvang het vir die opsporing en dood van Chonco se moordenaars, is nooit deur hom saamgestel nie en hy het niks te doen gehad met die uitreiking van die beloning nie.

Chonco was die hoof van die KwaZulu-Natalse taxigeweld-taakspan en die bevelvoerder van die Kranskop-polisiestasie. Hy en ander polisiebeamptes het op 27 Augustus 2008 vier taxigeweld-verdagtes van Kranskop na die KwaDukuza-landdroshof vergesel, toe hulle aangeval en hy vermoor is.

Volgens Ntlemeza het ʼn ondersoek bevind die beloning is aangebied vir die opsporing van die ses mans betrokke by Chonco se moord. Die ses verdagtes is deur die ondersoekspan doodgeskiet toe hulle aangekeer is. Ntlemeza het egter gesê daar is geen bewyse wat die ses oorledenes verbind met die dood van Chonco nie. Die eenheid het bloot staatgemaak op inligting wat hulle vanaf bronne ontvang het.

Hy het ook bewerings deur Booysen dat daar bymotiewe vir sy skorsing is, ontken. Hy het gesê Booysen kan moontlik potensiële getuies wat in diens van die Valke is, intimideer en hy het toegang tot dokumente wat as bewyse tydens die ondersoek kan dien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Loeis ·

Hy moet nou nie soos Glynis Breytenbach maak en politiek toe gaan nie, maar moet baklei dat die waarheid uitkom.

Dit maak nie saak wat die hof gaan bevind nie nie, iemand gaan iets he om te verduidelik.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.