Ntlemeza ‘gee amptelike voertuig terug’

Lt.genl. Berning Ntlemeza (Foto: chronicle.co.cw)

Die voormalige hoof van die Valke, Berning Ntlemeza, se prokureur beweer Ntlemeza het die amptelike voertuig en selfoon wat in sy besit was aan die Valke terugbesorg.

EWN berig Ntlemeza se regsverteenwoordiger, Comfort Ngidi, het gesê sy kliënt het die voertuig en selfoon wat hy by die Valke gevat het teruggegee. Ngidi het ook gesê sy kliënt het niks verkeerd gedoen nie.

Dit kom nadat Fikile Mbalula, minister van polisie, Maandag tydens ʼn mediakonferensie by die Valke se kantoor in Pretoria gesê het hy het inligting ontvang dat Ntlemeza gisteroggend by ʼn bestuursvergadering van die Valke opgedaag het. Volgens Mbalula het Ntlemeza die Valke se hoof van die voorsieningsketting opdrag gegee om ʼn voertuig aan hom te gee en het hy die kantoor in die voertuig verlaat. Mbalula het gesê Ntlemeza het ook ʼn selfoon van die regering in sy besit.

Die polisieminister het gesê hy het lt.genl. Khomotso Phahlane, die waarnemende nasionale polisiekommissaris, opdrag gegee om Ntlemeza op te spoor en beslag te lê op die staatsvoertuig en -selfoon in sy besit.

“Hy [Ntlemeza] het geen reg om hier in te kom en enigiemand opdragte te gee nie,” het Mbalula gesê. “Ek het dit aan lt.genl. [Yolisa] Matakata, [die waarnemende hoof van die Valke], ook verduidelik en sy verstaan dit baie goed. Sake gaan voort soos normaal. Ons het nie hierdie drama en Hollywood-rolprent nodig nie. Hierdie situasie is eenvoudig ʼn rolprent wat tot ʼn einde moet kom,” het Mbalula gesê.

Nathi Nhleko, voormalige minister van polisie, het verlede maand hofdokumente ingedien om te appelleer teen die hof se besluit dat sy aanstelling van Ntlemeza ter syde gestel moet word. Hy het die aansoek ingedien nadat die hooggeregshof in Pretoria beslis het Nhleko moet Ntlemeza se aanstelling ter syde stel. Die Helen Suzman-stigting (HSS) en Freedom Under Law (FUL) het aanvanklik die aansoek ingedien.

Nhleko het Ntlemeza aangestel ten spyte van die feit dat regter Elias Matojane in Februarie 2015 bevind het Ntlemeza was “bevooroordeeld en oneerlik” en het nie oor “integriteit en eerbaarheid” beskik nie.

Ntlemeza is in Desember 2014 deur Nhleko as waarnemende hoof van die Valke aangestel nadat Anwa Dramat as hoof van die Valke geskors is.

Nadat Mbalula as minister van polisie aangestel is, het hy die aansoek om verlof tot appèl teruggetrek. Hy het Matakata toe aangestel om in waarnemende hoedanigheid by Ntlemeza oor te neem.

Lees alle vorige berigte oor Berning Ntlemeza op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Johann ·

Die een is meer arrogant as die ander een! Vat geld; vat karre, vat aelfone, vat wat ook al te vat is? En met n voorbeeld soos ZUMA as die hoof vatter; is niks nie te vat nie? Die vermetelheid is net ongelooflik!

Gatvol ·

Dis diefstal! Waarom word hy nie sumier in hegtenis geneem nie.

snoefie ·

hy het n hofbevel verontagsaam. mnr mbalula ons wag om te hier hoe jy die waarnemende hoof se “mo£® hom.”

cor ·

As’n kader eers in ‘n posissie aangestel is kan daar nie so maklik van hom ontslae geraak word nie. Al is dit n staatsvoertuig beskou hulle dit as hulle persoonlike eiendom , die familie en vriende word daarmee karwei en persoonlike besigheid word gedoen. Dit het vir hoelank so aangegaan nou wil die minister sy eiendom vat aikona dit werk nie so nie dit is n diensvoordeel en hy is nog in diens.

Andre ·

Iets is nie heeltemal pluis nie. Wat gaan aan dat die skurke weier om n hof bevel na te kom?

Alida ·

Ag wat sal hulle nou ‘n hofbevel nakom? Stortkop verontagsaam elke liewe wet en reel in hierdie land en die res volg hom soos miere. Hulle mag want die baas mag!!!!! Fikile moet gaan sokker speel en doen waarin hy goed is. Grappies en sport. Belaglik dat die nar nou hoof is oor die SAPD.

pieter ·

ANC het hom goed geleer volg net sy President se voorbeeld so wat is die Minister se probleem.Sluit liewers Mnr Zuma toe asb..

Cherokee ·

En dan sê sy prokureur hy het niks verkeerd gedoen nie. Iemand moes Ngidi gevra het waarom die voertuig en telefoon dan terug gegee is.

Johann ·

Hyt se n berning behoefte gehad aan n tjor? En toe het hy in comfart en weelde die dag gaan shop met sy corporate kredet kart. Of die tjor se boot vol gelaai met computjirs om te gaan re distribjute? Of nog beter… sy BONUS in die kar gelaai?

ken benoni ·

Los tog die arme man, hy was laat vir sy tand-arts afspraak!!

vermeende ·

Nou hoekom is dit sulke groot nuus, dit sal beter nuus wees as hy aangekla word vir onregmatige gebruik van die voetuig en selfoon en dan verantwoordelik gehou word vir sy oproepe en die km’s wat hy gery het soos die AA dit bepaal per km.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.