Ntlemeza sluip glo terug na Valke-kantoor

Zakhele Mbhele. Foto: Jonisayi Maromo/ANA.

ʼn Handjievol betogers het Maandag na die kantoor van die Valke in Pretoria opgeruk en aangedring dat Berning Ntlemeza, voormalige hoof van die Valke, uit dié gebou verwyder word.

Zakhele Mbhele, die DA se woordvoerder van polisie, het die optog gelei. Ntlemeza het glo daarin geslaag om by die kantoor in te sluip en ’n groot groep joernaliste en betogers wat al ure lank by die ingang is te vermy.

“Ons het Fikile Mbalula, minister van polisie, gemaan om stappe te doen om die skorsing van Ntlemeza in werking te stel. Ons glo die parlement en die minister kan nie so rustig wees terwyl die leierskap van die Valke in twyfel getrek word nie,” het Mbhele gesê.

Volgens Mbhele het hy nog nie bevestiging gekry dat Ntlemeza wel tans in die kantoor is nie. “As dit die geval is, dan is dit ʼn duidelike oortreding van die wet. Hy is nie bevoeg om sy werk te doen nie en sy teenwoordigheid bedreig die doeltreffende funksionering van die Valke.”

Mbalula het vroeër vandeesmaand vir lt.genl. Khomotso Phahlane, waarnemende nasionale polisiekommissaris, opdrag gegee om al die staatsbates wat in Ntlemeza se besit is terug te neem. Hy het bygevoeg dat dié bates nou aan die nuwe waarnemende nasionale hoof van die Valke, lt.genl. Yolisa Matakata, oorhandig moet word.

Mbalula het gesê dat hy so gou moontlik ʼn permanente hoof vir die Valke sal aanstel in ʼn poging om stabiliteit by dié instelling teweeg te bring. Die minister sal vandag 13:00 by die Valke se kantoor besoek aflê om die kwessies rakende die eenheid te bespreek en vrae te beantwoord.

Nathi Nhleko, die voormalige minister van polisie, het verlede maand hofdokumente ingedien om te appelleer teen die hof se besluit dat sy aanstelling van Ntlemeza ter syde gestel moet word. Hy het die aansoek ingedien nadat die hooggeregshof in Pretoria beslis het Nhleko moet Ntlemeza se aanstelling ter syde stel. Die Helen Suzman-stigting (HSS) en Freedom Under Law (FUL) het aanvanklik die aansoek ingedien.

Nhleko het Ntlemeza aangestel ten spyte daarvan dat regter Elias Matojane in Februarie 2015 bevind het Ntlemeza was “bevooroordeeld en oneerlik” en het nie oor “integriteit en eerbaarheid” beskik nie.

Ntlemeza is in Desember 2014 deur Nhleko as waarnemende hoof van die Valke aangestel nadat Anwa Dramat as hoof van die Valke geskors is.

Lees alle vorige berigte oor Berning Ntlemeza op Maroela Media.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Johann ·

Narre Parradys; Handpop Hoof Kwartier;;;; die huidige Suid Afrika! Dat EEN “mens” se magsbeheptheid só vêr kan strek dat hy al wat n wetstoepasser is in sy korrupte kloue het? Maar dan moet NUMBA WHONE dood seker maak hy “cover” als en almal wat sy siek magsspel kan omvêr gooi. SIEK!

Alida ·

Ag wat sal ons tog se? Die hele regering en al die ministers is sleg verby. Geen wet en orde of hofbevele word gehoorsaam nie. Wat doen mens met ‘n spul wat net hul eie gang gaan. Vervolg daai stortkop met 700+ aanklagtes dan doen hulle iets positiefs.

cor ·

Hy word of n munisipalebestuurder, of LP of Minister en kry ‘n stywe handdruk van sy vorige werkgewer. Die wet is in elk geval net vir jou en my en die gewone wets gehoorsame burgers.

cor ·

Minister Fikile moet oppas as hy een oggend wil kantoor toe gaan lees hy op n lamppaal koerant opskrif Ntlemeza is die nuwe minister van polisie, want as een nie bevoeg is in sy pos nie kry hy so R30 miljoen of meer en skuif parlement toe vir n ministers pos. Dit verander sommer vinniger as die weer.

snoefie ·

hy was nie net vandag op kantoor nie, hy het vanmiddag huis toe gery, oop en bloot in n amptelike voertuig.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.