Nu Metro-fliekteaters heropen binnekort

(Foto: Karen Zhao/Unsplash)

Ná vyf maande sonder vermaak op die silwerdoek heropen Nu Metro volgende Vrydag die meeste van sy fliekteaters in Johannesburg, Pretoria, Kaapstad, Durban, Bloemfontein, Port Elizabeth en Giyani.

Weens die Covid-19-pandemie was fliekteaters die afgelope paar maande gesluit.

Nu Metro sê die veiligheid en gesondheid van sy werkers en fliekgangers bly die grootste prioriteit en dié fliekteaters wat nie volgende naweek heropen nie, sal in die nabye toekoms volg.

Fliekteaters sal aanvanklik net op naweke en vakansiedae oop wees en dan ook net met beperkte vertoontye. In ooreenstemming met vlak 2 van die afsonderingsregulasies sal fliektye só geskeduleer word dat daar aan die 22:00-aandklokreël, asook aan maatreëls oor sosiale afstandhandhawing voldoen word.

Maatreëls word ook ingestel om te verseker daar is nie ʼn samedromming van mense in die voorportale en in die fliekteaters is nie.

Tydens die eerste fase van heropening is regisseur Christopher Nolan se fliek Tenet een van die eerste nuwe uitreikings wat op die silwerdoek te sien sal wees. Tesame met ander nuwe uitreikings gaan Nu Metro sekere onlangse lokettreffers en ander gunstelinge weer vertoon.

Weens die Covid-19-pandemie en flieks se uitreikingsdatums wat uitgestel is, was daar die afgelope paar maande beperkte inhoud vir fliekteaters wêreldwyd beskikbaar.

Nu Metro sê hy moedig aanlyn kaartjieaankope aan en by fliekteaters self kan kaartjies by die selfhelppunte gekoop word. Betaalpunte sonder enige direkte kontak is ook beskikbaar.

Dit is verpligtend om ʼn masker in die fliekteater te dra en ʼn afstand van minstens 1,5m moet tussen mense gehandhaaf word. Sogenaamde buffersitplekke sal in teaters oopgehou word. Op hierdie manier word ook verseker daar is minder as 50 mense, ingevolge die afsonderingsregulasies, op een slag in ʼn fliekteater.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.