Nudistestrand vir KZN kry groen lig

Argieffoto

Argieffoto

Die Hibiskuskus-munisipaliteit het toestemming gegee vir ʼn nudistestrand aan die KwaZulu-Natalse suidkus.

“Die raad het Dinsdag vergader en goedkeuring gegee dat ʼn gedeelte van die Mpenjati-strand noord van die strandmeer en Trafalgar-strand as ʼn nudiste-strand verklaar word,” het Simon Soboyisa, woordvoerder van die munisipaliteit, gesê.

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Nudistevereniging en die Kwazulu-Natalse Nudistevereniging het die aansoek gebring. Hulle het aangevoer dat ʼn nudistestrand die land se ekonomie sal baat en eiendomswaardes in die area ʼn hupstoot sal gee.

Soboyisa het gesê die aansoek was ʼn toets vir die munisipaliteit se vasberadenheid om aan die Grondwet se bepalings teen onregverdige diskriminasie gehoor te gee. Die aansoek is deur talle mense teengestaan. Hulle het aangevoer dat ʼn nudistestrand kan lei tot ʼn toename in misdaad, losbandigheid sal bevorder en tot morele verval sal lei. Ander het aangevoer dat openbare naaktheid teen hulle kultuur en godsdiens is. Daar is bevind dat dit subjektiewe aannames is.

Volgens Soboyisa het die nudistestrand die potensiaal om vir die munisipaliteit ʼn bemarkingsplatform te skep ten einde nasionale en internasionale toeriste te lok wat sal lei tot werkskepping en ekonomiese ontwikkeling.

Die munisipaliteit en die aansoekers sal die departement van ekonomiese ontwikkeling en Ezemvelo KZN Wildlife nader om die nodige toestemming te kry vir naamborde en die konstruksie van ablusiegeriewe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

zahn ·

Werkskepping? Watse werkskepping kan dit nou eintlik skep? Beslis nie fyn goetertjies en lappietjies wat gewas moet word nie, want dit word nie eers gedra nie? Nee wat, as jy ‘n hond WIL slaan, sal jy ‘n stok kry.

oom Koos ·

Natuurlik gaan dit toerisme en veral roomysverkope op warm dae aanwakker.Hordes nuusskierige pruitse omies en tannies gaan toesak op die strand om hulle te verkyk aan die kaalbasse en daarna te weeklaag in die koerante oor die morele verval van die volkie.

oom Koos ·

Natuurlik gaan ‘n nudistestrand toerisme en veral roomysverkope op warm dae aanwakker. Hordes pruitse omies en tannies gaan op die strand toesak,hulle verkyk aan die kaalbasse en hierna in die koerante kla oor die morele verval van die volkie!

Oom Corrie ·

Nudiste strand – die antwoord is maklik:As jy nou gladnie daarvan hou nie, bly eenvoudig weg! Wat soek jy daar? Laat elkeen vir homself kies. Om aandag aan die spulletjie te gee beteken niks anders as gratis publisiteit

Drieks ·

Ek sal ook nou stem vir nudiste plekke.”” ANC STEEL ONS KAAL.””
Gaan ons nuwe tuistes wees.

Hanlie ·

Dit is nou ‘n jammerte dit is so ver van waar ek bly…….

Daar is ‘n GROOT verskil tussen naak en seks. Daar sal baie minder selfmoord, eetsteurings, ens. wees as mense gemaklik is in hulle velle.

Die ouma wat haar kinders soontoe wil neem gaan dit baie geniet. Jare terug het ek gereeld ‘n nudiste strand besoek. Saam met my familie en ‘n hele klomp ander families. Daardie kindertjies wat saam met hulle ouers elke Saterdag en Sondag na kerk soontoe gekom het is vandag sulke goed gebalanseerde jongmense. Hulle is gemaklik met hulle lywe en met enige mens rondom hulle.

Ons het nooit probleme gehad met “loeragies” nie en wanneer daar probleme was met “loeragies” dan het ons hulle baie mooi voor ‘n keuse gestel, trek uit of gaan. Elke dag daar was vir my ‘n vakansie en ek mis dit regtig baie. Ek bly tans te ver van ‘n nudiste strand….miskien moet ek vra vir ‘n oorplasing….

Patat ·

Hanlie, gaan lees gerus Genesis se eerste boeke. God het SELF besluit die mens moet maar eerder klere dra. Wie is die mens nou om SY wil te ignoreer?

Leeutjie ·

Ek droom soms ek sit in ‘n bus tussen my oud skoolmaats sonder klere…. dis ‘n nagmerrie! Ek weet darem nie hoe opvoedkundig dit vir ‘n kind kan wees nie!

Beau ·

Die plek anderkant Warmbad het juis gefaal oor wit en swart nie WIL saam kaalgat rondloop nie. Hierdie een gaan ook nie vreeslik suksesvol wees nie, veral nie nou met die “rainbow nation” en alles nie..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.