Nugent-kommissie meen Bain gee nie samewerking

Die Nugent kommissie van ondersoek. Foto: ANA

Regter Robert Nugent het Dinsdag die konsultasiemaatskappy Bain & Company oor die kole gehaal omdat hy meen die firma versuim om geredelik sy samewerking aan die kommissie van ondersoek na die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) te gee.

Nugent het gesê dit blyk dat die maatskappy se verklaarde belofte om R164 miljoen in fooie terug te betaal diskresionêr was.

Nugent het dit aan Stuart Min, Bain & Company se vise-president, gestel dat die maatskappy se bereidwilligheid om die geld terug te betaal wat die firma ontvang het om die inkomstediens se bedryfsmodel te herontwerp blykbaar “voorwaardelik” was. Min het hierop geantwoord dat die geld reeds eenkant gesit is en dat die uiteindelike betaling daarvan ʼn uitgemaakte saak was.

“ʼn Betaling van Bain & Company is nie opsioneel nie, dit sal gebeur,” het hy gesê.

Op ʼn vraag van Nugent het hy gesê die terugbetaling sal gebeur sodra die kommissie sy bevindinge bekendgemaak het en die maatskappy vasgestel het aan wie hy die geld moet oorbetaal. “Met ander woorde, Bain sal besluit watter voorwaardes verkieslik is,” het die regter geantwoord.

Min, wat in Boston in die VSA gesetel is, het hierop geantwoord: “Na my mening sal dit betaal word, ons weet net nie aan wie nie totdat sekere prosesse afgehandel is.”

Min het getuig nadat die kommissie ingelig is dat Vittorio Massone, Bain se plaaslike bestuursvennoot, teruggekeer het na Italië vir dringende mediese behandeling. Nugent het sy ontevredenheid hieroor uitgespreek en die maatskappy gekap omdat hy nie openlik was oor die omvang van die vergaderings tussen Massone en Tom Moyane, geskorste SAID-kommissaris, wat gelei het tot die sluiting van ʼn kontrak tussen die maatskappy en die inkomstediens nie.

Min het gesê die maatskappy het nie gemeen dat dié feit relevant was in die verkrygingsproses nie en dat hy persoonlik nie bewus was van die vergaderings nie. Massone en Moyane het agt keer vergader en hul eerste ontmoetings het glo Moyane se aanstelling as hoof van die SAID voorafgegaan.

Nugent het gesê hy is gefrustreerd deur die gebrek aan bekendmaking in ʼn vroeëre geskrewe voorlegging deur Massone omdat daar slegs genoem word dat hulle vergader het en dat hy Moyane hoëvlak uitvoerende- afrigting gebied het.

Bain se herstruktureringsmodel is in 2014 deur die inkomstediens aangeneem en het daartoe gelei dat sekere invorderingseenhede gesluit is. Dit het ook daartoe gelei dat bekwame personeel rondgeskuif is en sommige bedank het.

Die maatskappy het vroeër vandeesmaand ʼn verklaring uitgereik waarin die firma sê hy glo die maatskappy is gebruik vir ʼn politieke of persoonlike agenda.

Moyane is in Maart geskors. Hy het net vier maande ná sy aanstelling aanbeveel dat Bain se herstruktureringsmodel geïmplementeer word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Ellisras ·

Kommissie na kommissie en dan gebeur daar niks nie. Niemand word vervolg nie. Kyk nou maar na die Life Esidemeni kommissie. Op TV en alles. En nou gebeur daar niks nie.

Jack Klok ·

Onder die ANC het kommissies van ondersoek ‘n weerligafleier meganisme geword om wanbestuur en korrupsie te vertraag en onder die mat in te vee. Hoeveel keer het ons nou al gehoor/gelees dat een of ander verslag nou al maande op iemand se lessenaar lê en dit word nog oorweeg. Niemand word vervolg nie want die bevindings word net in lêer 13 geliasseer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.