NUK bespreek Oekraïne, Nkandla-verslag

Gwede Mantashe Foto: Werner Beukes/SAPA

Gwede Mantashe Foto: Werner Beukes/SAPA

Die nasionale uitvoerende komitee van die ANC het die afgelope naweek die oorsig deur die president, stand van die organisasie, verslag oor die verkiesing, 20 jaar van demokrasie, internasionale situasie en die Nkandla-verslag bespreek.

“Die NUK het homself weer verbind tot die hoë vlakke van openbare aanspreeklikheid en die beskerming van onafhanklike instansies wat deur ons grondwet geskep is,” het Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, in ʼn verklaring gesê.

Die NUK het op 28 en 29 Maart by die President Protea-hotel in Kaapstad vergader.

“Die NUK het ingestem dat die regering sy kommunikasie moet versterk oor die prestasies van die afgelope 20 jaar,” het Mantashe gesê. “Die NUK verbind homself ook om met ons mense te praat oor enige saak wat hulle raak. Dít is hoe vertroue gebou word.”

Mantashe sê die NUK het opgemerk dat daar hoë vlakke van bespreking oor korrupsie in die openbare diskoers plaasvind. “Dit is ʼn duidelike bewys dat ons ons standaarde as ʼn land hoog gestel het en ons moet daarmee voortgaan. Maar ons moet wegbeweeg van praat en nou saam werk om korrupsie te beveg,” het hy bygevoeg.

Die NUK neem ook met kommer kennis van die internasionale neiging van regimeveranderingmetodes wat voorgehou word as die beskerming van demokrasie, terwyl dit inderdaad ondermyn word. Verkose regerings word ondermyn en in talle streke verdryf, waarvan Oekraïne die jongste voorbeeld is. Venezuela word ook bedreig. “Ons het ons regering aangemoedig om dié ontstellende neigings op internasionale forums aan te spreek, insluitend die Verenigde Nasies en Afrika-Unie.”

Mantashe sê die NUK het beswaar aangeteken teen die senior lede van die beweging wat nie van die strukture van die beweging gebruik maak nie, maar publiek negatief oor dié strukture praat. “Die betrokke individue moet aangespreek word,” het hy gesê.

Die NUK neem kennis van albei verslae oor die veiligheidsopgraderings by Nkandla. “Die komitee het sy tevredenheid uitgespreek oor die reaksie en werk wat deur ons beamptes gedoen is in verband met hierdie saak,” het Mantashe gesê. “Daar is prosesse wat ʼn kans gegun moet word, soos die verslag van die president wat binnekort uitgereik sal word en die vordering van die spesiale ondersoekeenheid in die verband.” -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.