NUK-vergadering: Ace se lot steeds duister

Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC. (Foto: Twitter)

Die lot van die ANC se sekretaris-generaal, Ace Magashule, is toe nie bespreek op die afgelope naweek se virtuele vergadering van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) nie, ondanks die party se vroeëre ondernemings.

Verlede maand het die regerende party onderneem dat die eerste NUK-vergadering vir vanjaar sou uitklaar of Magashule moet afstand doen van sy magtige pos totdat sy korrupsieverwante verhoor afgehandel is.

Dit is wat die party se integriteitskommissie bevind het, maar luidens ʼn berig in die Sondagkoerant City Press is geen besluit oor die inwerkingstelling daarvan nog geneem nie. Die hantering van die kwessie is oorgedra aan ʼn komitee van vyf ANC-veterane, te wete Mathews Phosa, Thenjiwe Mthintso, oudpres. Kgalema Motlanthe, Josiah Jele en Dipuo Peters.

Ter sprake is of dit wettig en grondwetlik is om te vereis dat ʼn ampsdraer opsy staan uit ʼn pos voordat die persoon in ʼn hof skuldig bevind is. Geen besluit hieroor is al gefinaliseer nie, het City Press berig.

Pres. Cyril Ramaphosa het wel Sondagaand terugvoer verskaf oor ander aspekte wat wel ter sprake gekom het op die vergadering (lekgotla), wat onder andere bygewoon is deur oudpresidente Jacob Zuma, Motlanthe en Thabo Mbeki. Dié besluite sluit in:

  • Die ANC onderneem opnuut om die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping volkome te ondersteun.
  • Meer toetse vir die koronavirus onder die bevolking moet gedoen word, en die ANC en sy vennote moet die waninligting oor entstowwe aktief teenwerk. Entstowwe se toediening moet dus ondersteun word.
  • Werkskepping en strenger projekbestuur, asook strenger strawwe vir diegene wat wette en regulasies oortree, word in die vooruitsig gestel. Ramaphosa het gesê goeie beleid is reeds ingestel, maar die klem moet nou val op die uitvoering daarvan. Waar besluite en beleid nie ten volle uitgevoer word nie, is straf volgens hom noodsaaklik.
  • Landbou-transformasie word steeds as belangrik geag, veral wat swart en vroueboere betref, en Eskom moet aandag kry, met noodmaatreëls, indien nodig.
  • Mits daar genoeg geld en ʼn besliste spertyd is, sal die regering probeer om die huidige basiese inkomstetoelaag vir werklose Suid-Afrikaners wat geen ander staatstoelaes ontvang nie, vol te hou.
  • Die ANC gee toe dat die skema om R100 miljard vir die ondersteuning van sakeondernemings te bewillig, nie goed gewerk het nie en dat dit toegankliker vir kleinsakeondernemings gemaak moet word, veral omdat daar nou 2 miljoen bykomende werkloses is. Werkskepping en die uitbou van die Suid-Afrikaanse vervaardigingsektor is dus vir die ANC ʼn
  • ʼn Spitsberaad oor die invloed van die koronavirus-pandemie op die ekonomie moet plaasvind met die klem op swart en vroue-entrepreneurs.
  • ʼn Werkswinkel oor klimaatverandering en nog een oor die toekoms van die radiogolf-spektrum gaan gehou word.
  • Die ANC bly oortuig dat die distriksgebaseerde ontwikkelingsmodel baie gaan help met die oorkoming van swakhede in munisipale regering. Doeltreffender munisipale regering met strenger strawwe is noodsaaklik. Die ANC is veral bekommerd oor munisipale projekte wat nie afgehandel word nie en oor vandalisme.
  • Wat die komende munisipale verkiesing betref, het die NUK besluit die ANC moet kundige, ervare, gerespekteerde en eerlike kandidate kry, en dat alle dienende raadslede streng geëvalueer gaan word deur ʼn ANC-verkiesingskomitee wat aan die hoof van die kandidate se nominasieproses sal staan.
  • Daar is besluit dat immigrasiewette strenger toegepas sal word omdat dit in Suid-Afrika se belang is.

Daar is ook baie gepraat oor hoe die koronavirus-pandemie en die ekonomiese gevolge daarvan oorkom kan word, gegewe die land se benarde ekonomiese situasie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Marius ·

Julle is meesters in nonsens praat , watse werkskepping ? Behou eers die werk wat daar is deur die drankverbod op te hef en dan praat julle oor werkskepping .

Dries ·

Wat is daar nog wat Ramaphosa en sy kaders nog nie verwoes het nie

LANA is ELANè ·

Hierdie Ace het ‘n “card up his sleeve” en is beslis onaantasbaar juis oor dit

Werner ·

Sal niks oorkom nie anders moet ou Cyril ook pa staan vir sy Eskom kaskenades

Hennie J ·

Eish my bra, die ace (advanced criminal elite) bly maar n tameletjie.
Wat die komende munisipale verkiesing aanbetref is die gestelde norme vir kandidate dat hulle kundig, ervare, gerespekteerd en eerlik moet wees, regtig voor die hand liggend, maar tog ook erkenning dat hul huidige raadslede n useless klomp is en ek wonder, met die gestelde norme, of die anc aan die verkiesing gaan kan deelneem?

gatgogga ·

“Wat die komende munisipale verkiesing betref, het die NUK besluit die ANC moet kundige, ervare, gerespekteerde en eerlike kandidate kry, …..”
Onmoontlik. Dus kan daar nie verkiesings gehou word nie.

Aai ·

Die @NC het geval hulle kan nie meer voortgaan met wat Ramaphosa gese her as jy korrupsie saak teen jou het moet jy afstaan want dit raak nou die groot koppe.

DieKriek ·

Duister? Nee, dit is nie; hy sal in sy pos aanbly. Miskien nog bevorder word ook.

Heinrich ·

Klomp snert. Cyril het my klaar verllor by die eerste punt dat hulle Zondo gaan ondersteur, terwyl Zoempies lekker vir hulle lag, en hy maak nogal deel van hierdie lekgotla.

Jakes ·

Die ANC het in 26 jaar nooit verander nie en sal ook nie. CR sal sy mater ACE nooit laat aankla nie want dan sal hy self waarskynlik sekere sensitiewe vra moet beantwoord. CR is n meester om met mooi praatjies tyd te koop maar hy is maar net nog n jabroer soos al sy voorgangers. As jy onbevoeg is om n land te regeer dan bly jy onbevoeg.

tweeling ·

Ek kan nie glo dat die woorde kundig, eerlike, ervare en gerespekteerde saam met die cANCer genoem kan word nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.