NUM-lid se borgtogverhoor uitgestel

Die borgtogverhoor van ʼn lid van die National Union of Mineworkers (NUM), wat tereg staan op aanklag van poging tot moord, is Vrydag in die Brits-landdroshof in Noordwes uitgestel.

Die saak is tot 31 Oktober uitgestel vir betoë en uitspraak.

Die staat voer aan die 37-jarige man het gepoog om Malibongwe Mdazo, ʼn takleier van die Association of Mineworkers and Construction Union (Amcu), deur hom vyf keer op 22 Julie te skiet, tydens ʼn vermeende bakleiery tussen die twee mededingende vakbonde.

Sers. Aaron Khunou, ondersoekbeampte, het gesê die man was ʼn leier van die NUM en sy lewe is in gevaar indien sy aansoek om borgtog goedgekeur sou word. Hy is ook ʼn gevaar vir die samelewing indien die bakleiery tussen Amcu en die NUM in gedagte gehou word.

Amcu was sedert 2012 ʼn dominante vakbond by platinummyne rondom Rustenburg in Noordwes toe dit NUM onttroon het ná die staking by die Lonmin-platinummyn in Marikana waar 44 persone dood is. Altesaam 34 mynwerkers is op 16 Augustus 2012 dood toe die polisie op hulle geskiet het. Tien persone, insluitend twee polisiebeamptes en twee Lonmin-veiligheidswagte is die vorige week dood.

Khunou is besorg dat daar ʼn wraakaanval kan wees op die beskuldigde, aangesien Amcu-lede glo dat hy hul leier wou vermoor. Hy het gesê Mdazo is vyf keer geskiet, en 15 patroondoppies is op die toneel gevind. Een van die koeëls het die agterruit van sy motor getref, twee het die sitplek getref en drie het die kattebak getref. Dit is nie duidelik wat die oorblywende vier getref het nie.

Die verdediging hou vol die saak teen die man is swak, aangesien die polisie op 17 September ʼn waarskuwingsverklaring van die beskuldigde ontvang het, en hom vrygelaat het, ondanks Mdazo se verklaring op 16 Augustus dat hy deur die beskuldigde geskiet en gewond is. Die beskuldigde het steeds in Mooinooi gebly selfs al was hy bewus van die aanklagte van poging tot moord teen hom. Hy is op 19 Oktober by sy huis in Mooinooi in hegtenis geneem.

Die beskuldigde het aan die hof gesê hy was ʼn gewone lid van die NUM en nie ʼn leier van die vakbond in enige kapasiteit nie.

Amcu-lede het buite die hof betoog en die hof versoek om nie die man se aansoek om borgtog goed te keur nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.