NUM staak by Mpuma-myn

Argieffoto Foto: xstratacoal.com

Argieffoto Foto: xstratacoal.com

Lede van die National Union of Mineworkers (NUM) by Glencore se Koornfontein-myn in Mpumalanga het begin staak.

“Die staking het Vrydag begin nadat gesprekke tussen die maatskappy en NUM by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) vasgeval het,” het Livhuwani Mammburu, woordvoerder van die vakbond, in ʼn verklaring gesê.

Die staking vind by die myn se Gloria-skag plaas.

Gugulethu Maqetuka, woordvoerder vir Glencore, het in ʼn verklaring gesê ongeveer 500 NUM-lede neem aan die staking deel. “Dit volg ná ʼn besluit deur die maatskappy om afleggingspakkette aan werknemers beskikbaar te stel weens herstrukturering by die myn as gevolg van moeilike marktoestande,” het Maqetuka gesê. “Glencore het onderneem om ondersoek in te stel om sommige van die personeellede weer by ander Glencore-steenkoolbedrywighede aan te stel waar vakante poste beskikbaar is.”

Mammburu het gesê die werkers sal as vergoeding een week se salaris vir elke diensjaar gelewer, ontvang. By ander bedrywighede ontvang hulle glo drie weke se salaris vir elke diensjaar.

Stanley Lebelo, Hoëveld-streeksekretaris van die NUM, het gesê dit is nie duidelik waarom Glencore afwyk van die formule wat hulle by ander bedrywighede soos Tweefontein en Tugo gebruik het nie. “Die maatskappy is baie arrogant,” het Lebelo gesê. Hy is ook ontevrede oor betogingsreëls wat Glencore en die KVBA ingestel het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.