Numsa bekommerd ondersoek na De Ruyter gaan ‘foppery’ wees

André de Ruyter, uitvoerende hoof van Eskom. (Foto: Facebook)

Die metaalwerkersvakbond Numsa sê hy neem kennis van ʼn besluit van die Staande Komitee oor Openbare Rekeninge (Skoor) om sy ondersoek na bewerings van wangedrag teen André de Ruyter vir eers op te skort.

Skoor het vroeër vandeesweek gesê die ondersoek word gestaak terwyl Eskom sy eie interne ondersoek na sy uitvoerende hoof doen.

De Ruyter word onder meer daarvan beskuldig dat hy swart diensverskaffers ten gunste van wit verskaffers vervang. Die ondersoek spruit uit bewerings wat die nou geskorste hoofverkrygingsbeampte, Solly Tshitangano, daaroor gemaak het.

Skoor het Eskom 90 dae gegee om sy eie ondersoek af te handel en daarna aan die komitee verslag te doen.

Numsa sê egter hy het geen vertroue in die ondersoek wat Eskom se raad na die bewerings van stapel gestuur het nie.

“Die tydsberekening is verdag omdat [die raad] gekies het om die bewerings 14 maande lank te ignoreer en nou, eers nadat Skoor sy voorneme bekend gemaak het om [Tshitangano] se bewerings te ondersoek, besluit die Eskom-raad skielik om dieselfde te doen.

“Ons deel die siening van Skoor-voorsitter Mkhuleko Hlengwa dat die Eskom-raad sake vooruit geloop het en glo die doelwit was om die Skoor-proses te ondermyn,” sê Irvin Jim, hoofsekretaris van Numsa.

Jim sê Numsa glo nie die raad tree onafhanklik op nie. “Ons is bekommerd dat die proses foppery is.”

Jim het ook verwys na Eskom se ondersoek na Jan Oberholzer, die bedryfshoof, wat hy bestempel het as ʼn toesmeerdery om Oberholzer van enige blaam te onthef.

Jim sê De Ruyter het sy onvermoë bewys om Eskom te stabiliseer en dat die land onder sy leiding die ergste beurtkrag tot nog ondervind. “De Ruyter, wat geen ingenieursagtergrond het nie, het duidelik nie ʼn benul hoe om beurtkrag te stop nie en ons twyfel of hy ooit sal.”

Numsa vra dat De Ruyter in die pad gesteek word.

“Ons neem ook kennis dat Eskom, onder De Ruyter se leierskap, versuim het om weer te onderhandel oor byna al die steenkoolkontrakte wat uitgewys is as nodig is om uitgawes te besnoei.”

News24 het intussen berig altesame 22 klagte teen die geskorste Tshitangano word ondersoek. Die spil waarom die ondersoek draai is ʼn kontrak van R8 miljoen wat aan Econ Oil toegeken is – ʼn maatskappy wat Tshitangano in sy wydverspreide briewe aan die minister van openbare ondernemings en die president gestuur het gebruik het as voorbeeld van De Ruyter se beweerde rassisme en onregverdige behandeling.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

24 Kommentare

jongste oudste gewildste
Korrelkop

Luister, NUMSA, hou op om draaie te hardloop. Julle mense kon nog nooit enige firma in SA ordentlik bestuur nie. De Ruyter probeer die plek se agterwêreld red en sommer die hele SA ‘n guns bewys!

Nie Verbaas

Shame, de Ruyter is nou n rassis omdat Solly geen idee het hoe om sy werk te doen nie. Arme Solly.

Blikke

Bla bla bla en nou is Numsa skielik die ridder op die wit perd…..genoeg om van te KOTS!!! Hulle het geen idee waarvan hulle praat nie……small things amuses small minds…

Mariana

Ja wat ondersoek die ondersoek wat die oorsaak van die ondersoek is. Kyk as hulle wit is moet hulle rassiste wees, hoe dan anders, is mos altyd, maar omdat die klaer swart is, is hy reg. Hy het geen fout begaan nie, geen korrupsie het plaasgevibd nie, nee as jy swart is is jy onskuldig. Begin liewer ondersoek instel na die klaer. So gaan niks ooit eindig nie. As die man swart maatskappye laat gaan het, moes hy rede gehad het. Hierdie heksejag gaan nie end kry voordat die wittes uit is nie. Staatsinstansie = ANC en kyk hoe lyk… Lees meer »

ouMo

…sal eerder sonder krag sit as om ‘n wit ou daar te sien…