Numsa betoog vandag by lughawens

Argieffoto

Die National Union of Metalworkers of South Africa (Numsa) en die Suid-Afrikaanse Vereniging van Kajuitbemanning sê hul lede gaan Dinsdag by die meeste groot Suid-Afrikaanse lughawens betoog.

Die betoging hou verband met ʼn rits probleme by die Suid-Afrikaanse Lugdiens en SAL se tegniese afdeling, asook die onlangse aankondiging van die bedanking van die staatslugdiens se hoof, Vuyani Jarana.

Ander kwessies sluit in beweerde korrupsie deur die bestuur van SAL se tegniese afdeling (SAAT), probleme by die instandhoudingsafdeling asook bewerings van nepotisme, stamvoorkeur en beweerde korrupsie deur die menslike hulpbronbestuurder by SAAT.

SAL het Vrydag aangekondig dat Zuks Ramasia tydelik as uitvoerende hoof aangestel is ná Jarana se bedanking ʼn week tevore.

SAL sê hy doen stappe om die uitvoerende kapasiteit in die groep te versterk en het Adam Vos as die nuwe uitvoerende hoof van SAAT aangestel. Hy is ook besig om die aanstelling van ʼn permanente hoof vir die laekostelugredery Mango aan te stel.

Ramasia, voorheen SAL se algemene operasionele bestuurder, het Maandag as uitvoerende hoof begin werk.

In sy bedankingsbrief het Jarana gesê ʼn groot gedeelte van die R5 miljard-reddingsboei wat SAL in die 2018-’19-boekjaar van die regering gekry het, is gebruik om krediteure tot Maart verlede jaar te betaal. SAL het by die punt gekom waar die redery by drie geleenthede dit byna nie kon bekostig om selfs net salarisse te betaal nie.

“Die gebrek aan verbintenis om SAL te finansier is stelselmatig besig om die implementering van die omkeerstrategie te ondermyn, wat dit al hoe moeiliker maak om te slaag,” het Jarana in sy bedankingsbrief gesê.

Jarana se bedanking het spanning tussen bestuurders by die staatsbeheerde maatskappy en die regering aan die groot klok gehang, veral wees grys gebiede oor verantwoordelikhede van die nasionale departement van openbare ondernemings en die nasionale tesourie.

Pres. Cyril Ramaphosa het hoofde van die verskillende ondernemings verlede week vir ʼn vergadering byeengeroep.

Numsa het gesê betogings gaan plaasvind by die King Shaka-lughawe in Durban, by die OR Tambo-lughawe in Gauteng asook by die Kaapstad- en Oos-Londen-lughawe.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

emily ·

Betoog, betoog en weer betoog is al wat die probleem in die deurmekaar land kan oplos, Wel dis beslis hoe hulle dit sien.

marous ·

Hoe kan iemand skreeu teen die toestand wat hulle self geskep het ?

Johan Maritz ·

Gaan staak by die Luhuli huis want dit is die wortel van die kwaad

Kolle ·

Ja. Maar daar gaan waarskynlik. Hulle en toeriste sal mooi sien hoe donker Afrika werk.

BlinkStephaans ·

Ek sê julle wat… julle kan ñ permanente staking by Lutuli Huis begin…. eers die een vakbond… dan as hulle moeg raak die volgende… en so… jy weet… en oor ñ paar maande dan kom julle beurt weer op… en daar gaat julle. Alles mooi georganiseer en so julle weet. Dalk hoor iemand daar julle. Het julle nou al mooi gaan sit en die ding bekyk… hoeveel positiewe uitwerking het enige staking al ooit gehad?… kon nie een van julle tot nou toe ñ beter plan as staak uitdink? Een ding is wel duidelik… die geld probleem is maar net een van vele… die hele organisasie is vrot van binne. Daai voël is lankal dood… geen bedrag geld gaan hom lewe gee solank “our piepol” in beheer is daarvan. Sterkte met jul staking vandag. Wys sommer mooi duidelik vir die buitelandse besoekers waarvan alles aanmekaargesit is hier by ons…. hulle glo mos dis ñ pragtige bevryde land.

Nic ·

Dit sal interessant wees om te sien of hulle hier ook iets aan die brand gaan steek.

KrokodilBotha ·

Ek is baie seker daar is n paar wat in die reenboog nasie nou die ou springbok op oranje agtergrond mis. Menigte trotse ou Suid Afrika gedeeltes stink nou na riool.

Andrew ·

Hoekom maak hulle nie net vir SAL toe nie?
Die ding is al soooo ver in die rooi daar is nie omkeer nie.
Verkoop die vliegtuie aan ander lugdienste en laat SAL nou maar in vrede rus. Daar is geen wet wat se ‘n land MOET sy eie lugdiens he nie.

…but then again, as hulle SAL toe maak is daar seker geen “shop front” vir korrupsie en geldwassery nie ne?!

Penellope Jones ·

Die tyd, energie, emosies, skade en geld wat met protesoptogte vermors word, moet absoluut enorm groot en duur wees.

Nie net teenoor hulself nie, maar spesifiek ookl teenoor die publiek wat eintlik net moet en wil werk.

Boerin ·

Privatiseer die Lugdiens !!! Die regering vat nou arm mense se geld om nog n reddingsbooi te gooi…die hoeveelste een?…Arm mense vlieg nie! Verkoop SAL…en spandeer die geld op paaie, skole en ander nodige dienste! Word wakker!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.