Numsa dreig met regstappe oor Eskom-hoës se heraanstelling

Argieffoto: GCIS

Die National Union of Metalworkers of South Africa (Numsa) het Saterdag gesê hy veroordeel die heraanstelling van Matshela Koko, die voormalige geskorste waarnemende uitvoerende hoof van Eskom, en Prish Govender, die voormalige waarnemende hoof vir groepskapitaal, ten sterkste.

Koko en Govender is Woensdag weer in hul poste aangestel nadat hulle in ʼn dissiplinêre verhoor onskuldig op alle aanklagte teen hulle bevind is. Ses aanklagte het Koko in die gesig gestaar, onder meer die beweerde versuim om ʼn konflik van belange te verklaar nadat die afdeling wat hy bestuur ʼn tender toegeken het aan die maatskappy waarin sy stiefdogter aandele het.

Govender was betrokke by die skandaal met die firma McKinsey waar hy na bewering geld aan die firma betaal het in ʼn kontrak wat sedertdien onwettig en ongeldig verklaar is.

Irvin Jim, sekretaris van Numsa, sê dié twee partye se heraanstelling is ʼn bewys dat Eskom “nuwe en kreatiewe maniere gevind het om diefstal en korrupsie te beloon”.

“Numsa eis antwoorde aangesien dit blyk dat daar ʼn patroon in die maatskappy voorkom waar sekere prosesse misbruik word om te verseker dat sekere bestuurders beskerm word en nie verantwoordbaar gehou word nie.”

Jim sê die Eskom-direksie word al vir langer as tien jaar gekenmerk deur wanbestuur, verkwistende uitgawes en korrupsie.

“In die geval van blatante nepotisme, soos dit na bewering met Koko was, is dit ʼn skande dat hy heeltemal kwytgeskeld word. Gewone werknemers by Eskom is onderworpe aan ʼn baie streng dissiplinêre proses wanneer hulle van selfs die kleinste oortredings beskuldig word, maar topbestuurders word skynbaar beloon of oor die vingers getik.”

Volgens hom het die direksie nie die regte strafregtelike prosesse gevolg tydens die dissiplinêre verhoor nie omdat Koko en Govender beide saam met Eskom-hoës werk wie se integriteit bevraagteken kan word.

Jim sê die werksmag, wat “reeds oorbelas word”, is moeg daarvoor om meer vir krag te betaal wat verskaf word deur ʼn maatskappy wat keer op keer swak korporatiewe bestuursvermoë getoon het. Hy het ook gesê die twee partye se heraanstelling is soos om ʼn “middelvinger vir Suid-Afrikaners te wys”.

“Die direksie het deurlopend bewys dat hy nie vertrou kan word om in die belang van gewone mense op te tree nie. Daarom is die enigste oplossing dat die raad bestaan uit verteenwoordigers wat in belang van die meerderheid sal optree. Numsa sal prokureurs raadpleeg om te sien watter regsopsies ons het om ’n oënskynlik belaglike dissiplinêre proses se uitkoms teen te staan.

Khulu Phasiwe, woordvoerder van Eskom, het vroeër volgehou dat die dissiplinêre verhore vir die hoofde deursigtig en regverdig was.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

pote ·

dit sal fantastie wees. hoekom moet dit duurder wees net omdat ons meer gebruik as ander. as munisipaliteite gratis krag wil gee kan hulle dit op eie onkoste doen. Basta met die snert.

Jacques venter ·

Interne ondersoeke en dissiplinête verhore beteken in ons huidige bestel slegs n coverup

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.