Numsa dreig weer met staking by Eskom

Argieffoto: GCIS

Die metaalwerkersvakbond Numsa het Donderdag gesê sy bestuur sal met die minister van openbare ondernemings en Eskom se raad vergader in ʼn poging om die dooiepunt rakende loononderhandelinge by die kragvoorsiener op te los.

Irvin Jim, sekretaris-generaal van Numsa, het gesê die vakbond wil Eskom se bestuur waarsku om enige dreigemente rakende dissiplinêre aksie of ontslag teen enige van sy lede wat tydens die onderhandelinge gestaak het te laat vaar.

“Numsa is baie duidelik daaroor dat ons nie enige vorm van wangedrag deur ons lede bevorder nie, maar ons bly oop vir die toepassing van dissiplinêre stappe indien daar geldige bewyse is van wangedrag. Dit is die behoorlike roete.

“Ons sal nie vir Eskom die geleentheid gee om van ons lede ontslae te raak nie aangesien dit ʼn duidelike strategie is om van ʼn groot aantal werkers ontslae te raak. Ons waarsku Eskom se bestuur, die raad en die regering as aandeelhouer dat indien hulle nie hierdie dreigement terugtrek nie hulle ons geen ander keuse laat nie as om ons grondwetlike reg uit te oefen om met ʼn beskermde staking te begin.

“Dit is hoekom ons ook ʼn vergadering aangevra het vir Maandag met die raad en minister Pravin Gordhan om oor die saak te beraadslaag ten einde ʼn oplossing te vind vir die dooiepunt.”

Jim het gesê indien die vergadering nie die gewenste resultate lewer nie, sal die vakbond met sy lede konsulteer oor of hulle moet staak. “Ons is seker dat die arbeidshof sy vorige hofbevel teen ʼn staking ter syde sal stel.”

Numsa het Woensdag met Eskom vergader om terugvoer te gee oor die kragvoorsiener se jongste loonaanbod. Die vakbond het Eskom se bestuur daarvan beskuldig dat hy ter kwade trou onderhandel en dat Eskom se bestuur se ware voorneme om werkers te ontslaan blootgelê is toe die partye byeengekom het om ʼn ooreenkoms te bereik rakende die loononderhandelinge.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Ad ·

Verhooging en prestaties bonusse klaar spandeer? Nou terug vir meer?

ZAR ·

NUMSA lees ons-soek-ons-sin-en-sal-alles-tot-die-grond-vernietig-totdat-niemand-niks-het-en-dan-protes-oordat-ons-nou-nêrens-werk-het-nie Vakbond

Sieg ·

Ag staak maar tot julle geen job het meer nie, privatiseer Eskom verjaag unies.

VanAfrika ·

Sieg gaan jy dan vir my n werk gee as ons “gejaag” met word. Tel julle woorde, daar is van ons wat ons werk nodig het!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.