Numsa eis insae in Comair se sakereddingsplan

(Foto: Comair/Facebook)

Die metaalwerkersvakbond Numsa sê hy het kennis geneem van Comair se sakereddingspraktisyns se besluit om die bekendstelling van die sakereddingsplan met ʼn week tot 30 Junie uit te stel.

Die sukkelende lugredery se sakereddingspraktisyns, Shaun Collyer en Richard Ferguson, het vroeër gesê sy besprekings met finansiers het gelei tot moontlike kontantfinansiering vir die lugdiens.

Die sakeredders het vroeër bevestig hulle voer samesprekings met finansiers om die redery te herkapitaliseer sodat plaaslike passasiersvlugte weer op 1 November hervat kan word. Meer as 30 moontlike finansiers is genader en samesprekings met ses van hulle duur voort.

Verdere onderhandelings moet egter nog plaasvind en die praktisyns het gesê as ʼn bindende aanbod gemaak word, moet die besonderhede daarvan in die sakereddingsplan ingesluit kan word.

Numsa het Woensdag egter gesê hy sal nie verbaas wees as die besluit om die bekendmaking van die plan uit te stel te doen het met die prokureursbrief wat hy aan die sakeredders oor die hantering van die proses gestuur het nie.

Phakamile Hlubi-Majola, woordvoerder van Numsa, het gesê die praktisyns is gewaarsku dat Numsa hulle hof toe sal sleep as hulle nie voor die bekendmaking van die plan met Numsa daaroor vergader nie.

“Hulle het die meerderheidsvakbond tydens die ontwikkeling van die plan doelbewus op die kantlyn geskuif en as hulle gister [Dinsdag] die plan bekend gestel het, sou dit sonder ons insette gewees het.”

Sy het gesê werkers kry sedert die einde van April nie hulle volle salarisse nie.

“Daar is geen verskoning hiervoor nie en die Covid-19-afsonderingsregulasies stel hulle ook nie vry van dié wetlike plig nie.”

Hlubi-Majola het gesê die sakeredders gaan intussen voort met samesprekings oor die afleggingsproses waarmee op 23 Maart, voordat die sakereddingsplan nog bekend gestel, al begin is.

Numsa en die Suid-Afrikaanse Kajuitbemanningsvereniging (Sacca) het die sakereddingspraktisyns van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) reeds suksesvol oor dieselfde kwessie hof toe gesleep. Die hof het die vakbonde gelyk gegee dat die sakereddingspraktisyns ʼn plan moet voorlê alvorens hulle met enige afleggings kan begin.

Comair se sakereddingspraktisyns het verlede maand gesê daar is ʼn billike vooruitsig dat die redery gered kan word. Comair bedryf Kulula en British Airways in Suid-Afrika.

Collyer en Ferguson het toe gesê Comair het ʼn halfjaarverlies van R564 miljoen in die eerste helfte van 2020 gely. Boonop kon R790 miljoen nie ingevorder word nie nadat die Suid-Afrikaanse Lugdiens in Desember verlede jaar in sakeredding geplaas is. Die geld was vir uitstaande betalings wat SAL nog geskuld het vir ʼn skikking van R1,1 miljard ná ʼn klag by die Mededingingskommissie.

Comair kon sedert 26 Maart weens die Covid-19-pandemie en die gepaardgaande reisverbod, geen geskeduleerde vlugte onderneem nie en kon geen inkomste verdien nie.

Nadat die regering aangekondig het dat die afsonderingsregulasies in fases verslap gaan word en plaaslike vlugte eers op vlak 2 hervat mag word, het Comair “geen ander keuse gehad” as om in sakeredding geplaas te word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

JohanR ·

Wil ook altyd hulle neus by alles indruk, saam met al die ander vakbonde!

Yvonne ·

Liewe NUMSA, hou julle neuse uit dinge wat niks met julle te doen het nie. Julle is, nes ander vakbonde, eintlik van min waarde vir julle lede.

Hennie ·

Laat die vakbonde geld belê in Comair! Alleenlik dít sal hulle bedingensmag gee! Hierdie arrogante inmenging en eise moet end kry en gou ook! Hulle kos die land miljoene!!

Pieter ·

Hoeveel van numsa se geld is bele by comair wie dink numsa is hulle. Hulle dink omdat die ANC vir hulle bang is hulle kan maak soos hulle wil

Blikke ·

NUMSA……National Union Of Metalworkers…..wat het julle in elk geval met lugvaart uit te waai? Gaan speel op n treinspoor…..dis nou as daar een oor is wat nog werk na al julle geplundery!!!

koos10 ·

Nogal snaaks, ek kon nêrens iets vind oor NUMSA wat betrokke was met die begin en opbou van die maatskappy nie. Hoe kan hulle dan nou wil kom en “demand”?
Los die sake redders dat hulle hul werk kan doen en moontlik ‘n paar poste en ‘n besigheid red. Hierdie is nie die SAA wat, bykans onbeperkte, fondse van die staat (d.w.s. die belasstigbetaler) af kry nie.

Kokerboom ·

Comair is gelukkig ‘n privaatsektor investering en die sakeredders sal dit professioneel hanteer sonder dat die geblaas van die vakbonde enige effek sal he. Hier sal realisme, anders as by SAL, seevier. Sterkte

minnie muis ·

en ek boonop afbetaal deur een van die maatskappye waar ek gewerk het wat miljoene verloor het deur Comair en ons betaal toe die prys….die maatskapy by wie ek gewerk het , het die maand sy 5 de tak gesluit net in een provinsie en daar is take regoor sa wat sluit, so die werkersklas betaal weereens die prys

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.