Numsa gaan staak; Solidariteit veg voort vir niestakende werkers

Argieffoto van Numsa-lede wat staak. Foto: @WisaniMadibs / Twitter

Argieffoto van Numsa-lede wat staak. Foto: @WisaniMadibs / Twitter

Meer as 220 000 van Numsa se lede in die metaal- en ingenieurswesebedryf sal die week regoor die land begin staak terwyl die vakbond Solidariteit steeds veg om te verseker dat niestakende werkers sal kan werk.

“Die nasionale uitvoerende raad het ingestem tot die besluit van ons lede om vir ‘n onbepaalde tydperk te begin staak vanaf 1 Julie,” het Irvin Jim, hoofsekretaris van Numsa, gesê.

Die vakbond dring aan op ‘n verhoging van 12%, die afskaffing van arbeidsmakelaars en ‘n een jaar bedingingsooreenkoms.

Jim sê die staking volg na ‘n reeks onderhandelinge. “Dit was nie ‘n maklike besluit nie maar ‘n pynlike een, aangesien die beginsel van geen-werk-geen-betaling deur die onversetlike base toegepas sal word.”

Die vakbond Solidariteit veg intussen voort om seker te maak dat niestakende werkers sal kan werk tydens die staking. “Die werkgewersagent Seifsa bly volgens aanduidings van voorneme om niestakende werkers saam met stakende werkers by die meer as duisend Seifsa-geaffilieerde maatskappye uit te sluit (“lockout”) en daardeur al die betrokke besighede se werksaamhede in geheel op te skort,” sê Gideon du Plessis, hoofsekretaris van Solidariteit.

Hy sê die ironie is dus nou dat Solidariteit daarvoor veg dat niestakende werkers die besighede ten volle of gedeeltelik aan die gang hou terwyl die staking en onderhandelinge voortduur, terwyl Seifsa dit inderwaarheid teenstaan. “Die gevolg van Seifsa se ondeurdagte uitsluitingsaksie is dat dit die impak van die staking versterk en dat maksimum skade aan die ekonomie daardeur verseker word.”

Du Plessis sê Seifsa se optrede gaan Solidariteit en Seifsa se toekomstige samewerking ongetwyfeld negatief raak. “En dít terwyl Seifsa boonop om oorlewing veg omdat sy status as bona fide-verteenwoordiger van werkgewers in die MEIBC (Metaal- en Ingenieurswese Bedingingsraad) uit verskeie oorde bevraagteken word.”

“Meeste werkgewers en ander stakende vakbonde, met die uitsondering van Numsa, het wel aan Solidariteit se oproep tot die voortsetting van die onderhandelinge gehoor gegee. Onderhandelinge tussen hierdie partye hervat reeds Maandag, 30 Junie. Die staking van Numsa en die ander vier vakbonde sal nietemin steeds op Dinsdag, 1 Junie ’n aanvang neem.”

Solidariteit gaan intussen voort om ’n dringende hofaansoek voor te berei om Seifsa se uitsluiting van niestakende werkers teen te staan, “veral in die lig daarvan dat Solidariteit die steun van heelwat Seifsa-lede geniet wat weens die negatiewe impak van die platinumstaking nie ‘n onnodige produksie-onderbreking kan bekostig nie en hulle nie van hul lojale werknemers wil vervreem nie,” sê Du Plessis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

lorayne ·

Uiters tragies dat hierdie stakende spul net nie kan besef hoeveel skade hulle, hulself die land en ekonomie berokken nie. . . Maar so sal hulle seker aanhou tot daar nou net mooi boggerol oor is nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.