Numsa na konstitusionele hof oor 733 werkers se afdanking

Argieffoto (Foto: Nokuthula Mbatha/ANA)

Die National Union of Metalworkers of South Africa (Numsa) gaan die konstitusionele hof nader om te versoek dat 733 werkers weer by Aveng Trident Steel aangestel moet word.

Die maatskappy het in 2015 artikel 189-kennisgewings uitgereik om werknemers in kennis te stel van sy herstrukturerings- en afleggingplanne, het Phakamile Hlubi-Majola, nasionale woordvoerder van Numsa, in ʼn verklaring gesê. Tydens die proses, in April 2015, het Aveng in ʼn skrywe gesê werknemers moet veranderinge aan hul diensvoorwaardes aanvaar. Indien werkers sou weier, sal hul kontrakte beëindig word.

“Ons lede het geweier om die nuwe bepalings en voorwaardes te aanvaar en hulle is gevolglik afgedank. Dit is ʼn oortreding van die Wet op Arbeidsverhoudinge, wat bepaal dat werkers nie afgedank kan word indien hulle nie wysigings aan hul diensvoorwaardes wil aanvaar nie.”

Numsa het die arbeidshof genader wat beslis het die afdankings is geldig. Numsa het daarna die arbeidsappèlhof genader, en sy aansoek was weer onsuksesvol.

“Die werkgewer het in die hof aangevoer die personeellede is afgedank weens ʼn verandering in die bedryfsvereistes en nie weens ʼn verandering in diensvoorwaardes nie. Die werkgewer het aangevoer die brief, wat aan ons lede uitgestuur is, was nie ʼn eis nie, maar eerder ʼn voorstel gebaseer op bedryfsvereistes.”

Numsa daag nou die werkgewer voor die konstitusionele hof. “Die regsimplikasies van die saak is baie ernstig. As Aveng by die konstitusionele hof slaag, beteken dit dat werkgewers die artikel 189-konsultasieproses kan omseil deur bloot eise aan werknemers ter tafel lê oor veranderings aan hul diensvoorwaardes. As hulle weier, sal hulle afgedank word. Dit is dus belangrik dat die konstitusionele hof duidelikheid verskaf oor dié kwessie om seker te maak werkers word nie uitgebuit nie.”

Die saak word Donderdag in die hof aangehoor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Tokkel ·

Wat verstaan die Numsa nie????, daar is nie geld om die mense te betaal nie!!!!Moet hulle nou verniet werk…..

Nie Verbaas ·

Stel die 733 werkers weer aan en dan het die hele maatskappy binnekort geen werk nie. Vakbonde nie baie slim nie.

Sean ·

As daar nie werk is nie is daar nie werk Blameer die regering

Elize ·

Hoekom gaan toi-toi hulle nie voor parapot se huis nie. Hy is die een wat hierdie land in sy glorie in het met sy blinde oë en dowe ore. Laat hy kyk of hy himself uit so ‘n situasie kan lieg as hulle in hulle hordes voor hom staan en skree “we demand”

Leon ·

Die alternatief is, stel die werkers aan, likwideer die maatskappy, dan is daar meer werkers op straat en hulle kan nie eers vir skeidingpakkette beding nie. dan verloor die unie meer maandelikse bydraes.

Tjom ·

Dit was sekerlik n alternatief eerder as S189 aflegging. Geen Werkgewer sal so n groot stap neem, inagname die astronomiese bedrag begroot in aflegging, as hy weet dit gaan onregverdig eindig nie. En dan bysê die vakbond verwerp die appelhof se kundigheid? Belaglik. Numsa speel weer met woordjies om sy maandelikse ledegeld te regverdig. Kort n Thatcher uitspraak teen vakbonde.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.