Numsa nié deel van Cosatu-staking

Cosatu

Die National Union of Metalworkers of South Africa (Numsa) het gesê hy steun nié die vakbondfederasie Cosatu se landswye staking wat vir die komende week beplan word nie.

“Cosatu het ʼn beroep op alle werkers gedoen om te staak teen staatskaping en korrupsie. Die ironie is dat die vakbondfederasie sonder twyfel deel is van ʼn stelsel van ‘kleptokrasie’ en ‘nieu-patrimonialisme’ wat die ANC gekaap het,” het Irvin Jim, Numsa se algemene sekretaris, in ʼn verklaring gesê.

Cosatu het verlede maand aangekondig sy lede gaan landswyd staak teen staatskaping, werksverliese en korrupsie in die private en openbare sektor. Dié staking word vir 27 September beplan.

Numsa het gesê hy sien Cosatu se oproep vir ʼn sosio-ekonomiese staking teen ʼn regering waarmee Cosatu in ʼn alliansie is as niks meer nie as “ʼn desperate poging om relevant te bly”.

Numsa, wat uit Cosatu geskors is en nou ʼn filiaal van die South African Federation of Trade Unions (Saftu) is, het die ANC verwerp “omdat baantjies vir boeties en korrupsie begin het om die party te vernietig”. Numsa het ook gesê die ANC het ʼn kampvegter vir witmonopoliekapitaal geword.

“Cosatu is ontbloot as ʼn hol mondstuk vir ANC-faksies. Dit tree nie op in die beste belange van die werkersklas nie. Dit het bloot ʼn rubberstempel op die ANC se nieu-liberale agenda geword wat verantwoordelik is vir die hoë vlakke van armoede, ongelykheid en werkloosheid in hierdie land. Cosatu se besluit om nou te staak is net ʼn poging om die aandag af te lei van sy ooglopende mislukking as ʼn arbeidsbeweging,” het Jim gesê.

“Wanneer Cosatu vra vir ʼn staking teen staatskaping, vra hulle basies vir ʼn staking teen hulself, want hulle is deel van die masjinerie wat gebruik word om werkers daagliks te onderdruk. Hulle voortgesette onwrikbare ondersteuning van die ANC beteken hulle is deel van dieselfde parasitiese netwerk wat ons ekonomie wurg.”

Numsa het ʼn beroep op sy lede gedoen om nie aan die staking deel te neem nie. “Werkers moet nie ʼn dag se lone opoffer om die leierskap van Cosatu te help om nou hul politieke agenda te bevorder nie,” het Jim gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.