Numsa se skorsing is ‘tragies’, sê ANC

anc-vlagDie ANC het Saterdag gesê dit is tragies dat Numsa uit die vakbondfederasie Cosatu geskors is.

“Dit is tragies want ons het alles gedoen wat ons kon,” het Zizi Kodwa, woordvoerder van die ANC, gesê. “Die eenheid van Cosatu is vir ons belangrik. Ons het met al die filiale, insluitend Numsa, vergader en hulle het hulself daartoe verbind.”

Kodwa het gesê die party sal verder kommentaar lewer nadat hulle die verslag ontvang het oor die uitkomste van Cosatu se sentrale uitvoerende komitee se vergadering. Numsa is geskors na Vrydag se spesiale sitting van die komitee. Lede van die komitee moes stem oor of Numsa deel moet bly van Cosatu, met 33 stemme ten gunste van Numsa se skorsing en 24 stemme teen dit.

Irvin Jim, sekretaris-generaal van Numsa, het Vrydag ʼn voorlegging gedoen om aan te voer hoekom Numsa nie uit Cosatu geskors moet word nie. Numsa het Donderdag ʼn hofaansoek gebring in ʼn poging om die spesiale sitting te keer. Die saak is uitgestel en die vergadering het voortgegaan.

Die ANC het in April ‘n taakspan op die been gebring om binnegevegte in die vakbondfederasie aan te spreek. Die taakspan was onder leiding van adjunkpresident Cyril Ramaphosa. Die taakspan het met 19 van Cosatu se filiale vergader om hulle insette te kry oor spanning in die vakbondfederasie en of die drieparty-alliansie, Cosatu, die ANC en die SAKP moet voortgaan.

Numsa het tydens sy spesiale kongres in Desember besluit om nie die ANC in die algemene verkiesing te ondersteun nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.