Numsa vat jongste Eskom-aanbod na lede

Irvin Jim. Foto: Sapa

Die National Union of Metalworkers of South Africa (Numsa) het Vrydag laat hoor dat hulle Eskom se jongste loonaanbod nou na hulle lede sal neem vir oorweging.

Dit kom ná Numsa en ander vakbonde Donderdag met die bestuur van Eskom vergader het onder leiding van die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) om te probeer om die voortslepende loongesprekke af te handel en die geskil uit te stryk.

Irvin Jim, hoofsekretaris van Numsa, het gesê Eskom het ʼn voorstel gemaak en hulle het dit na hulle lede gestuur vir oorweging.

“Ons gaan nie die besonderhede van die aanbod met die media bespreek nie aangesien ons ons lede kans wil gee om self daaroor te beraadslaag of hulle die aanbod wil aanvaar of nie,” het Jim gesê.

Volgens Jim sal hulle die ooreenkoms teken indien die lede aandui dat hulle gelukkig is met die voorstel. “Ons het algemene vergaderings by verskillende aanlegte reg oor die land gereël oor die volgende paar dae om die ooreenkoms in detail met ons lede te bespreek.”

Eskom sal Woensdag weer met die vakbond vergader om hulle antwoord oor die aanbod te ontvang.

Maroela Media het vroeër berig Solidariteit het Donderdag aangekondig dat hy Eskom se loonaanbod aanvaar.

Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het in ʼn verklaring gesê Solidariteit het die verhoging van ʼn 7,5%-verhoging vir vanjaar, ʼn 7%-verhoging vir jaar twee en drie – met ʼn gewaarborgde verhoging gelykstaande aan die VPI op behuising, tesame met ʼn eenmalige kontantbetaling van R5 000 ná belasting, aanvaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

rina ·

7.5% vir 2018, 7% vir 2019 en 7% vir 2020 en R10000 once off bedrag is beding en Solidariteit het dit aanvaar maar NUM en NUMSA het dit verwerp, hulle se hulle staan by hulle eis en dat Eskom base hulle self verryk het en hoekom moet die werkers tevrede wees met wat Eskom offer, ek voel ons moet die aanbod aanvaar en dit agter die rug kry

JSO ·

@rina – NUM en NUMSA het nie verwerp of aanvaar nie. Hulle sal Woensdag antwoord. Die staking is sopas herroep en almal is terug op hul poste.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.