Numsa veroordeel aanval op Madonsela

Thuli Madonsela Foto: Werner Beukes/SAPA

Thuli Madonsela Foto: Werner Beukes/SAPA

Die vakbond Numsa het Vrydag die ANC se aanvalle op die Openbare Beskermer veroordeel.

Die National Union of Metalworkers of SA (Numsa) het in ʼn verklaring gesê hy ondersteun die versoek dat pres. Jacob Zuma ʼn gedeelte van die openbare geld, wat aan sy huis in Nkandla in KwaZulu-Natal bestee is, moet terugbetaal.

“Numsa veroordeel ten sterkste die aanvalle op die kantoor en persoon van die Openbare Beskermer, Thuli Madonsela,” lui die verklaring. “Sy het slegs haar werk goed en professioneel afgehandel soos wat die liberale grondwet en betrokke wetgewing van Suid-Afrika vereis.”

Volgens Numsa het die woordewisseling tussen Madonsela en die regerende party nou ʼn “gevaarlike wending” geneem. Volgens die vakbond het die ANC Madonsela glo daarvan beskuldig dat sy die tydsberekening van die uitgelekte brief wat sy aan Zuma geskryf het, só gereël het dat dit ooreenstem met die “regmatige eise” van die Ekonomiese Vryheidsvegters om antwoorde van Zuma te eis of hy ʼn gedeelte van die R246 miljoen gaan terugbetaal.

Numsa se verklaring is deel van toenemende druk op Zuma om te reageer op Madonsela se aanbeveling dat hy ʼn gedeelte van die geld wat aangewend is vir verbeterings by Nkandla, moet terugbetaal.

Die EFF het Vrydag gesê hy sal die hof nader oor sy moontlike skorsing uit die parlement nadat dié party betogings in die Nasionale Vergadering gehou het. Die EFF-LP’s het gedreunsing: “betaal terug die geld” voor die speaker, Baleta Mbete, hulle versoek het om die vergadering te verlaat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.