Numsa verwerp Cosatu se steun vir Ramaphosa as ANC-president

Adjunkpresident Cyril Ramaphosa tydens 'n vergadering in Maart 2015 by die Uniegebou in Pretoria (Foto: departement van kommunikasie)

Adjunkpresident Cyril Ramaphosa tydens ‘n vergadering in Maart 2015 by die Uniegebou in Pretoria (Foto: departement van kommunikasie)

Die National Union of Metalworkers of SA (Numsa) het Vrydag die vakbondfederasie Cosatu se steun vir adjunkpres. Cyril Ramaphosa om die leisels van die regerende party oor te neem, verwerp.

Maroela Media het vroeër berig Cosatu se sentrale uitvoerende komitee het Ramaphosa die stempel van goedkeuring gegee om as leier van die ANC oor te neem. Cosatu het gesê hy sal ook ʼn veldtog van stapel stuur om ANC-strukture te beïnvloed om hom hierin te ondersteun.

“Numsa het dit reeds genoem dat Cyril Ramaphosa ʼn vyand van die werkersklas is,” het Irvin Jim, algemene sekretaris van Numsa, gesê. “Hy het werkers se swaarverdiende winste aangeval en die belange van die kapitaliste beskerm, waaronder toe hy onlangs wetgewing ondersteun het om armoedelone te beskerm.” Numsa het ook arbeidminister Mildred Oliphant se plan, om beperkings op stakings te plaas, veroordeel.

Bheki Ntshalintshali, Cosatu-sekretaris, het verslaggewers in Johannesburg toegespreek na afloop van ʼn drie dae lange vergadering van die federasie se sentrale uitvoerende komitee. ““Ons is bewus daarvan dat ons nie ʼn stemgeregtigde struktuur van die ANC is nie, maar ons verteenwoordig die werkers wat die lede en ondersteuners van die ANC is,” het Ntshalintshali gesê.

Die ANC-takke sal tydens die party se nasionale konferensie in 2017 pres. Jacob Zuma se opvolger kies. Dit is te midde van toenemende druk op Zuma om uit te tree.

“Ramaphosa het verseker dat daar ʼn eiendomsklousule in die Grondwet is om seker te maak die ekonomie van die land bly in die hande van Suid-Afrika se wit, rassistiese, kapitalistiese, koloniale elite, met ʼn paar swart gesigte soos sy eie om die feit te verbloem dat die status quo gehandhaaf word,” het Jim bygevoeg. “Hy het herhaaldelik die werkersklas se belange aangeval om die kapitaliste te bevoordeel, van wie hy ʼn lid is.”

Cosatu het gesê ondanks die feit dat Ramaphosa in die middel was van die uitval ná die Marikana-slagting, is hy die regte persoon om die ANC se leierskap oor te neem. Numsa het egter gesê as direkteur van Lonmin, word Ramaphosa direk geïmpliseer by die slagting waartydens 34 stakende mynwerkers in Augustus 2012 gesterf het.

Volgens Numsa sal ʼn ANC-regering onder Ramaphosa niks beter wees as die bestaande Zuma-regering nie.

“Ons is meer as ooit seker dat Cosatu stadig maar seker baie gevaarlik geword het en teen die belange van werkers is. Ons kan slegs tot een gevolgtrekking kom: dat Cosatu sy revolusionêre etos verloor het toe hy besluit het om van sy nywerheidproletariaat ontslae te raak.”

Die National Union of Mineworkers (NUM) het in September sy ondersteuning aan Ramaphosa toegeskryf om Zuma as leier op te volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

anti Zuma ·

Gee Ramaphosa ‘n kans, sal beter wees as Zuma, hou hom maar net met ‘n arendsoog dop. Ek steun Mildred Oliphant met die beperkings op stakings, sy is ‘n minister met verstand.

Waghond ·

Nog Ramaphosa, Mbete of Dlamini Zuma is geskik vir die pos nie want hulle het te veel bagasie.
Mothlante sal ‘n waardige en gerespekteerde Staatspresident wees.

Jan ·

Ek stem. Enigeen, buiten een van die drie. NIe EEN van hulle is ‘n oplossing vir Zuma nie.

Mark Mac ·

‘SvR’ het gesê die regerende party gaan teen homself verdeeld wees, met groot binne-gevegte. Dan gaan hulle ewe skielik saamstaan en teen die “koloniale elite” draai. En bloed gaan soos water in die strate vloei.
As ek verkeerd is koop ek vir Elk een hier n drink om te erken ek was verkeerd!! Maar as ek reg is………

Nel ·

Die gepeupel en veral die EFF gaan met niemand tevrede wees nie – Suid Afrika moet eers heeltemal verwoes word en die witman die see ingejaag word dan sal hulle dalk ‘happy’ wees.

PJ ·

Stem saam die Ramaphoza niks werd en beter as Zuma nie, maar as Ramaphoza oorvat gaan jy sien wie smelt saam, Malema en Ramaphoza om selfde vuur staan, en dan gaan die poppe dans

Adam Boshoff ·

Nee wat nie Ramaposa nie Ek het op n tyd gedink hy kan beter doen omdat hy ook n besigheidsman is wat sal weet hoe om die land se finansies te bestuur maar hy is te slapgat om sy rug teen Zuma styf te maak en is ook maar net daar om sy pappot te laat oorloop en voel nie werklik iets vir die land se burgers nie

Justice ·

Enige iemand behalwe iemand wat Julius Malema se steun het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.