Numsa vir eers nog deel van Cosatu

Irvin Jim. Foto: Sapa

Irvin Jim. Foto: Sapa

Cosatu het nie gestem oor Numsa se skorsing uit die vakbondfederasie nie, het ʼn woordvoerder gesê.

“Cosatu het ingestem om weer op 7 November bymekaar te kom om uitstaande kwessies, insluitend die kwessie van Numsa, te bespreek,” het Patrick Craven, woordvoerder van Cosatu, gesê. “Geen besluit is geneem oor die status van Numsa in Cosatu nie. Die stemming het nie plaasgevind nie.”

Cosatu hou die week ʼn spesiale vergadering van sy sentrale uitvoerende komitee (SUK) in Johannesburg. “Numsa is steeds deel van Cosatu,” het Irvin Jim, Numsa se sekretaris-generaal, aan die SAUK gesê. “Die SUK het kla vergader en ons sal ʼn mediakonferensie hou om te verduidelik wat is Numsa se posisie oor die gebeure.”

Numsa en Cosatu is haaks sedert die skorsing van Zwelinzima Vavi, hoofsekretaris van Cosatu. Dit het gevolg nadat ʼn vrou aangevoer het Vavi het haar by die werk verkrag. Sy het dit nie by die polisie aangemeld nie. Vavi het aangevoer hulle het ʼn buite-egtelike verhouding gehad.

Numsa was ʼn vurige Vavi-ondersteuner tydens sy skorsing en het met regstappe teen die vakbondfederasie begin waarin hulle geëis het dat hy weer aangestel moet word. Numsa was een van die vakbonde wat ʼn spesiale Cosatu-kongres versoek het, waartydens hulle wou hê nuwe leierskap moet aangestel word.

Numsa het in Desember tydens ʼn spesiale kongres ook die besluit geneem om nie die ANC tydens die algemene verkiesing te ondersteun nie, ondanks die feit dat die vakbond ʼn filiaal is van Cosatu, ʼn alliansievennoot van die regerende party.

ʼn ANC-taakspan is in April saamgestel om te help om probleme binne Cosatu op te los.

Net nadat Vavi in April teruggekeer het werk toe, is ʼn spesiale vergadering van die uitvoerende komitee gehou waartydens die taakspan ʼn ooreenkoms tussen Cosatu, Vavi en sommige filiale bewerkstellig het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.