Numsa weier om memorandum by protesoptog te oorhandig

Lede van die National Union of Metalworkers of South Africa (Numsa) en die National Union of Mineworkers (NUM) het Saterdag (17 November 2018) aan ʼn protesoptog teen onder meer afleggings by Eskom deelgeneem. Foto: Verskaf

Lede van die National Union of Metalworkers of South Africa (Numsa) en die National Union of Mineworkers (NUM) wat Saterdag aan ʼn protesoptog teen onder meer afleggings by Eskom deelgeneem het, het geweier om hul voorbereide memorandum aan die departement van energie te oorhandig.

“Ons het besluit om nié die memorandum te oorhandig nie, want die departement het ons beledig deur junior verteenwoordigers te stuur om dit te ontvang,” het Phakamile Hlubi-Majola, woordvoerder van Numsa, gesê. Volgens Hlubi-Majola het Eskom glad nie verteenwoordigers gestuur om die memorandum te ontvang nie.

Irvin Jim, sekretaris-generaal van Numsa, het vroeër gesê vakbondlede sal by die NUM aansluit vir die optog teen verskeie kwessies by die kragvoorsiener. Afgesien van afleggings, is die vakbond ook gekant teen die sluiting van steenkoolmyne en die regering se hernubare energieprogram.

Die optog het om 11:00 vanaf Burgerspark in Pretoria begin.

Die vakbond het vroeër probeer om ʼn interdik teen die departement van energie te bekom nadat hy bewus geraak het van die departement se planne om kontrakte met Onafhanklike Kragprodusente (IPP) te finaliseer, maar daarin misluk.

Luidens Numsa se memorandum het die ANC-regering “die werkersklas verraai” deur die hernubare energieprogram in te stel en die kontrakte met IPP’s te finaliseer. Die vakbond sê die program sal tot die verlies van byna 100 000 werksgeleenthede lei waarvan die meeste in Mpumalanga sal wees.

“Die ander leuen wat ons onmiddellik wil verwerp, is dat daar besluit is om steenkoolkragstasies te sluit omdat die stasies aan die einde van hul lewensiklus gekom het. Nog al hierdie jare het die Eskom-rade wat in belang van Eskom opgetree het die lewensduur van hierdie kragstasies verleng. Dit is wat die huidige raad versuim om te doen; die raad laat dit na, want dit is ʼn raad vir IPP’s en nie ʼn raad vir Eskom nie. Ons eis dat hierdie raad verwyder en vervang word met ʼn raad wat in die belange van Eskom optree.”

Lede van die National Union of Metalworkers of South Africa (Numsa) en die National Union of Mineworkers (NUM) het Saterdag (17 November 2018) aan ʼn protesoptog teen onder meer afleggings by Eskom deelgeneem. Foto: Verskaf

Die vakbond eis verder dat IPP’s van die nasionale kragnetwerk verwyder word, asook dat die lewensduur van Eskom-kragstasies tot 2030 verleng word. Die vakbond eis dat daar tot in 2030 ʼn nasionale debat gehou word oor die optimale samestelling van kragbronne vir die land. “Daar moet geen heilige koeie wees nie – selfs kernkrag moet gedebatteer word.”

Numsa eis ook dat alle Eskom-bestuurslede wat by korrupte aktiwiteite betrek word die geld terugbetaal wat by die kragvoorsiener geplunder is. Hulle eis dat alle planne om Eskom te privatiseer vir goed geskrap word en dat alle staatsinstansies in die staat se besit moet bly.

Luidens die memorandum het Eskom en die regering 14 dae kans om op die vakbonde se eise te reageer. “Versuim om te reageer sal beteken dat ons lede tesame met NUM met ʼn nasionale staking begin wat die ekonomie tot stilstand sal bring en uiteraard die ligte sal afskakel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Hannetjie ·

Hierdie vakbonde is die grootste euwel ooit.Dit is ook voor hulle deur te le soveel verwoesting plaasvind.Die ou wat dit uitgedink het..moes liewer ‘n vrot eier gebaar het. Verpesting…al wat dit is

Dafer ·

Die doel van ‘n regering is om goed te regeer! Die doel van vakbonde is om goeie skakel te wees met die regering en moneybags! In Suid Afrika word albei totaal misbruik! Net die aasvoëls trek voordeel uit dit!

Jannie Nell ·

Ja Hannatjie, ongelukkig sit die huidige regering met hulle eie tamaletjie wat hulle aanmekaar geflans het. Nou het hulle nie ‘n oplossing daarvoor nie.

Andrew ·

Die huidige regime het die mense van kleintyd al geleer hoe om verwoesting te saai. En dis blykbaar ook al wat hulle geleer het.

Ruiter in Swart ·

“Kaptein, Kaptein….waarheen ry die trein? Die Duiwel fluister in my oor, ons gaan die spoor verloor! Die donker maak my bang….”

Rupert Ashford ·

Hoewel ek geen voorstander van Vakbonde in die algemeen, en die Marxistiese SA weergawe in besonder is nie, stem ek saam met baie wat Mnr. Jim te se het oor die energiesektor soos hier berig.

JZ ·

Vakbonde het die manier om , sonder ag slaan op die gevolge , verwoesting te saai as hulle nie hul sin kry nie. deur die stilswye keur die ANC die handeling goed en van sy lede doen daarmee mee. Dit laat my dink aan iemand wat sy neus af sny en dink hy lyk no baie mooi.

Dawie ·

Iewers trek iemand baie voordeel daariut om vir elke optog nuwe t-hemde te voorsien.

Sarel ·

Jim, waarom kerm julle? Staak man STAAK!!! en moet asb nie vergeet om af te breek nie . Moet nie ESKOM alleen blameer nie, julle het lekker ghaos veroorsaak en die geleendbeid vir korrupsie geskep .

Sarel Strydom ·

Die Vakbonde is net daar om af te takel en te vernietig. Hulle kla nou oor die ANC Regering maar met die verkiesing kry Lede opdrag om ANC te stem. Wat het hulle nog ooit bygedra tot verbetering vaaaaaan die land se ekonomie,

Nikita ·

As krag se toevoer regtig op grootskaal afgesny gaan word…gaan mense nie kan geld trek nie…nie petrol kan ingooi nie..besighede se deure sal toemaak ens, ens! Weet dan hel en paraffien gaan enige oomblik losbars…en wet & orde sal verdwyn by die agterdeur uit!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.