Numsa wil ingenieursbedryf tot stilstand dwing

Argieffoto van Numsa-staking in 2019 (Foto: Nokuthula Mbatha/ANA)

Die National Union of Metalworkers of South Africa (Numsa) beplan om Dinsdag op die eerste dag van die nasionale staking in die ingenieursbedryf landswyd na die Bedingingsraad vir die Metaal- en Ingenieursbedrywe (MEIBC) se kantore op te ruk.

Irvin Jim, algemene sekretaris van die vakbond, doen ʼn beroep op alle werkers om by die staking aan te sluit “ter verdediging van geregverdigde eise vir ʼn betekenisvolle verhoging”. “Ons wil die ingenieursbedryf tot ʼn stilstand bring totdat die hardkoppige werkgewers tot hulle sinne kom. Hierdie bedryf het ʼn minimum van 430 000 werkers in diens en hulle kan almal aan die staking deelneem,” het Jim gesê.

Die vakbonde Mewusa en Uasa het ook reeds stakingsertifikate bekom indien hulle lede ook aan die staking wil deelneem.

“Alle werkers in die ingenieursbedryf kan dus aan die staking deelneem as hulle wil. Die staking is wettig en personeel kan dus deelneem sonder vrees dat daar stappe teen hulle gedoen sal word – of die persoon ʼn lid is van ʼn vakbond of nie.”

Numsa se onderhandelings het vasgeval met alle werkgewersverenigings in die bedryf, insluitend Neasa, Seifsa en Saefa. “Ons het geen ander keuse nie as om te staak en onbepaald ons arbeid op te skort totdat die werkgewers aan ons eise voldoen. Werkgewers in die ingenieursbedryf wil nie enigiets vir hul werkers teruggee nie. Hulle het selfsugtig gebaat uit die opoffering wat werkers verlede jaar gemaak het toe ʼn stilstand-ooreenkoms onderteken is. Daar was geen verhogings nie, om die bedryf te beskerm teen die impak van die Covid-19-pandemie. Nou is ons weer besig met onderhandelings en dit is tyd dat hulle begin teruggee. Die werkgewers het gerieflikheidsonthalwe vergeet van die pynlike opofferings wat werkers en hul families gemaak het vir die bedryf.”

Numsa eis ʼn algemene verhoging van 8% vir die eerste jaar en VPI plus 2% vir die tweede en derde jaar. As VPI plus 2% laer is as 6%, moet werkers minstens 6% aanbied of weer onderhandel. “Dit sal die dooiepunt oplos en die staking voorkom. As die werkers hoegenaamd besorg is oor die ekonomie, sal hulle ʼn betekenisvolle aanbod op die tafel plaas. Ons verwerp die beskuldiging dat Numsa die herstel van die ekonomie bedreig deur die staking. As enigiemand die ekonomiese herstel bedreig, dan is dit dié selfsugtige werkgewers. Hulle is uitbuiters wat niks vir hul werknemers wil teruggee nie. Die personeel se arbeid is die sleutel tot die sukses van die organisasie!”

Jim sê Numsa se leierskap was die hele naweek besig met gesprekke met alle werkgewersverenigings om die staking te probeer voorkom. “Ons pogings was egter tevergeefs. In ʼn poging om Seifsa te druk om ʼn betekenisvolle aanbod te maak, het die onderhandelings vasgeval. Ons sal steeds met hulle in gesprek bly, maar die staking gaan dus voort soos beplan.”

Numsa se staking vind plaas in Johannesburg, Durban, Gqeberha (Port Elizabeth), Bellville, George en Welkom.

Die National Employers’ Association of South Africa (Neasa) het vroeër ʼn kennisgewing van uitsluiting teen die metaalwerkersvakbond Numsa uitgereik. Neasa sê hy is verreweg die grootste werkgewersliggaam in die staalbedryf en hy bly in beginsel gekant teen die gesentraliseerde kollektiewe bedingingsmodel van die raad.

Gerhard Papenfus, hoof van Neasa, sê hoofsaaklik groot ondernemings in Suid-Afrika se ekonomiese hoofsentrums – en hoofsaaklik Numsa – beding loonooreenkomste wat hulle dan probeer uitbrei na klein- en mediumgrootte ondernemings (KMMO’s) wat onder heeltemal ander ekonomiese en bedryfsomstandighede werk.

Neasa volstaan met die beginsel dat elke individuele onderneming die lone van sy werkers moet kan bepaal en dat dit gegrond moet wees op die onderneming se eie omstandighede en finansiële vermoë.  Lees meer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

12 Kommentare

jongste oudste gewildste
Frederik C

Lyk my die suinige werkgewers bly net in sekere gebiede.

Kokerboom

Pragtig Numsa en alle ander comrades in struggle teen ‘n “wrede” ekonomie, volgens hulle wat almal net uitbuit…vergeet gerieflikheidshalwe van oorlewingstryd van ekonomie. Doen so voort Numsa ea en daar gaan NIKS oorbly . China lag in sy mou vir die arrogante dom comrades!Julle gaan nog klippe eet en smeek!!!

Jerry

Hulle vergeet gou van die geld wat hulle ontvang het tydens lock down. Daar tye waar daar nie n sent in gekom het nie maar almal het darem iets gekry. Al wat ek se is enige persoon wat vir my werk wat staak sal uitgewerk word in my besigheid en ja dit is nie n dreigement nie dit is n feit!

Piet parys

Tik tok tik tok Numsa sit een van die dae sonder lede en dan is julle ook werkloos. 430 000 is niks wat die enginieurs bedryf eens was.

Pieter

Mev slim sal haar kubaanse ingeneurs laat kom.