Nuus oor ANC-veteraan se dood ‘uitgelek’

Die ANC-veteraan Zola Skweyiya. Foto: ANA

Die ANC-veteraan Zola Skweyiya se familie het gesê hulle betreur die feit dat die nuus oor die veteraan se dood in die media uitgelek is voordat baie van sy familielede en die ANC ingelig is.

Die voormalige minister het Woensdag omstreeks 07:00 in die ouderdom van 75 ná ʼn kort siekte gesterf.

Khulu Mbatha, woordvoerder van Skweyiya se familie, het gesê verskeie ANC-hooggeplaastes was van plan om Skweyiya vandag te besoek. “Ons is bewus daarvan dat verskeie ANC-leiers en -lede, onder wie pres. Cyril Ramaphosa en voormalige presidente Thabo Mbeki en Kgalema Motlanthe, vroeër aangedui het dat hulle [Skweyiya] vandag sal besoek. Ongelukkig het sy afsterwe as ʼn skok vir ons almal gekom,” het Mbatha gesê.

Hy het gesê die familie maak tans kontak met die res van die familielede wat nog nie amptelik ingelig is nie.

Die ANC het in ʼn verklaring gesê Skweyiya het net enkele dae voor sy verjaarsdag gesterf – hy sou Saterdag 76 jaar oud geword het.

“Namens die nasionale uitvoerende komitee (NUK) en al die lede van die ANC, betuig ons ons innige medelye met sy vrou, Thuthukile Skweyiya, en die hele familie vir hul verlies. Die beweging treur saam met hulle terwyl ons die lewe van hierdie reus van ons vryheidstryd vier.”

Skweyiya is in 1942 in Simonstad in Kaapstad gebore. As politieke aktivis op hoërskool en tydens sy universiteitsjare het hy hom in 1956 by die ANC aangesluit en was deel van die politieke bedrywighede totdat hy in 1963 in ballingskap in Tanzanië en later Zambië was.

Hy het hierna ʼn regsgraad aan die Universiteit van Leipzig in Duitsland verwerf en in verskeie hoedanighede vir die ANC gewerk. Skweyiya het in 1990 na Suid-Afrika teruggekeer en in die party se NUK gedien tot 2012. Hy het in 1994 lid van die parlement geword waar hy as minister van openbare dienste en administrasie gedien het. In 1999 is hy as minister van maatskaplike ontwikkeling aangestel en het in dié posisie gedien tot 2009.

“Ons betreur die afsterwe van hierdie saggeaarde reus, wie se lewe een van diens, uitnemendheid en liefde vir sy mense en die beweging was,” lui die ANC se verklaring. “Hamba kahle, saggeaarde reus.”

Bantu Holomisa, leier van die UDM, het ook hulde aan Skweyiya gebring en hom as ʼn denker en “ʼn groot argitek” van die land se openbare administrasie in die post-apartheidera bestempel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

snoefie ·

was hy deur syie anc misbruik tot ouderdom 70? terwyl n witman in nywerheid, veral op die myne, vervolg word na ouderdo 55 want nog nywerheid, nog mynbou wil met n blanke pensioenaris op hulle boeke sit.

Koos1 ·

snoefie, dit gebeur in politiek en parlament elke dag. Zuma was 75 met aftrede(?). Buthelezi aan die 80 gevat. Cyril is dan 65. Dis die ouderdom wat staandiens personeel moet aftree.
Maar dink net daaraan Juju is onder 40. Wil jy hê ons land moet bestuur word deur jong mense? Ek weet darem nie so lekker nie!

SjN ·

Was dit n geheim, een of ander tyd sal dit uitgekom het, waarvoor moet almal eers amptelik ingelig word.

Weg ·

Wragtie ek weet ook nie hoe steek jy die dood van iemand weg nie .. iemand sou hom mos nou al gemis het? Hoekom moet dit eers amptelik aangekondig word . daar kan sulke nonsens deesdae gepubliseer word terwyl mense op plase uitgeroei word.

Piet ·

Snaaks hy is in 42 gebore en gedurende sy hoërskool en univeriteits dae het hy in 56 by die ANC aangesluit. Op ouderdom. 14. Op hoërskool en universiteit. Komaan in 63 is hy land uit. Iets klop nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.