Nuus oor Oscar se parool ‘skok’

oscar-pistorius

Oscar Pistorius op 21 Oktober 2014 in die Pretoriase hooggeregshof tydens vonnisverrigtinge Foto: Themba Hadebe/AP/Pool

ʼn Week voor die paroolraad sou sit om Oscar Pistorius se moontlike vrylating te bespreek, is die oorlede Reeva Steenkamp se ouers eers ingelig dat reeds begin is met die proses om hom op parool te plaas. Dit terwyl aanvanklik gekommunikeer is dat hy eers in 2023 vir parool in aanmerking sou kom.

Tania Koen, June en Barry Steenkamp se regsverteenwoordiger, het aan Maroela Media gesê dit het as ʼn groot skok vir die ouerpaar gekom, wat steeds sukkel om hul dogter se dood te verwerk.

“Dit lyk nou of die departement ʼn fout begaan het met die aanvanklike berekening van sy moontlike parooldatum omdat hulle vergeet het om in berekening te bring dat hy reeds 500 dae agter tralies was.”

Pistorius dien tans 13 jaar tronkstraf vir Reeva se moord uit nadat hy haar op Valentynsdag in 2013 doodgeskiet het. Hy is aanvanklik tot ses jaar tronkstraf gevonnis, maar dié vonnis is deur die appèlhof in Bloemfontein verleng nadat die staat teen Pistorius se vonnis geappelleer het.

Koen sê Julian Knight, Pistorius se prokureur, het haar in Oktober gebel en gevra of sy weet die paroolraad sit op 27 Oktober om Pistorius se vrylating te bespreek. “Voor dit kan gebeur, moet die slagoffer of slagoffer se familie eers skriftelik in kennis gestel word dat die proses gaan begin. Dié kennisgewing moet reeds dertig dae voor die tyd uitgereik word. Die familie moet die geleentheid gebied word om deel te wees van ʼn dialoog en verskeie verslae moet eers opgestel en aan die raad voorgelê word,” verduidelik Koen.

Barry en June Steenkamp, Reeva se ouers, tydens Pistorius se moordverhoor. Foto: Antoine de Ras/Independent Newspapers/ Pool

Koen het toe met die betrokke owerhede in gesprek getree om te verseker dat die sitting nie plaasvind nie alvorens die regte stappe gevolg is.

“Die departement het wel met June en Barry in gesprek getree en ʼn afspraak vir verlede Donderdag gemaak, maar dit is die dag voor die tyd gekanselleer omdat die besoek nie deur die kommissaris goedgekeur is nie,” sê Koen.

Sy sê die egpaar is bereid om deel te neem aan die proses en dat al die nodige verslae nou eers opgestel moet word voor ʼn nuwe datum vir die raad se sitting vasgestel kan word.

Volgens haar krap dit nou weer ou wonde vir die Steenkamps oop. Hulle word reeds daagliks herinner aan die seer en verlies wat Reeva se dood meegebring het. “Elke keer as iemand verjaar, of wanneer ʼn vriend se dogter trou, besef hulle net weer dat hul dogter van hulle af weggevat is en dat hulle Reeva self nooit sal sien trou nie.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

35 Kommentare

Kattebol ·

Hy behoort die volle tydperk agter tralies te wees. Hy was voor die tyd onstabiel en sulke mense verander selde.

Anon ·

Hoekom? Die res van Suid-Afrika kom op parool uit, wat maak hom spesiaal dat hy moet bly sit? Dis maklik om oordeel te fel, is dit nie?

Jannie van Niekerk ·

Parool in hierdie land vol misdaad is te maklik. Daar behoort sekere kategporieë misdaad te wees waarvoor mens GEEN parool behoort te kry nie soos bv moord, kindermolestering, plaasaanvalle, transitorooftogte, motorkapings en dwelmhandel. Inteendeel, die strawwe wat vir hierde misdade opgelê word is na my mening hopeloos te lig.

Androclus ·

Waarheid,hy kom doen dit weer want in die eerste plek het hy lig daar van afgekom.

Agge nee ·

Goeie genade, Androclus, jy maak asof die man ‘n reeksmoordenaar is. Dit was een verskriklike groot tragedie, dit is nie asof hy in Kerkstraat afgeloop het en wild en wakker mense afgemaai het nie. Dit was ook nie beplan nie, dit was impulsief. Ek dink nie hy gaan elke maand ‘n meisie doodskiet nie. Lig daarvan afgekom???? Ek dink nie so nie.

AmY ·

Reeds 500 dae agter tralies gewees?
Daar is mense wat bedrog gepleeg het, wat al langer as hy agter tralies sit.

anniekiewiet ·

Eie aan my aard en geloof in Christus, sou ek nie meer omgee wat die paroolraad en die hof ens doen nie. Die saak is uit die ouers se hande. Gun hulle liewer kans om met Vrede en Genade van Bo af, na vergifnis en vrede te leef.

Porseleintjie ·

Laat die een wat sonder sonde is die eerste klip gooi. Laat die Here Sy werk self doen. Ons is geroep om Jesus se voorbeeld te volg.

Mariaan ·

Moord is moord…almal het sonde…maar MOORD…nee porseleintjie..ek sal beslis baie klippe gooi…jy kan nie net iemand vermoor en in watte toegraai word nie..sorry!

Zombie ·

En kinderverkragtes se strawwe is dikwels nog ligter.
As ń oorteder ń sekere ouderdom bereik, moet hy glad nie vervolg word nie, aldus sommige MM-lesers.

Samuel ·

Waarom is mense so verbaas oor Pistorius se parool? Ons was dit tog te wagte en in hierdie gekkeparadys kry ieder en elk parool. Die regte prosedures is wel nie gevolg nie, maar andersins weet ons mos wat gaan gebeur.

Casper ·

Oscar verdien om op parool vrygelaat te word.Net omdat hy Reeva geskiet het word hy nou deur sommige lede van die publiek parool “geweier”,.

AH ·

Wat maak Oscar anders as ander moordenaars? Omdat jy sê hy het “net vir Reeva geskiet”, laat jy dit klink of sy ‘n kleinigheid, ‘n minderwaardige iets was i.p.v. ‘n pragtige jong meisie wat haar lewe verloor het. Sy was iemand se kind, so jy kan gerus meer empatie met die ouers hê!

Ian ·

So, hy was nie “stabiel” toe die “ongeluk” gebeur het nie? Mooi man. ‘n Mooi stabiele uitkyk wat jy daar huldig….

Oujongvrou ·

Zombie jy het seker geen geloof nous jy jaloers op mense wat spog met hulle geloof. En dis nie mooi nie

Hendrik ·

Kain het vir Abel dood geslaan en was nie een dag in die tronk nie. Hy het sy tyd gedoen volgens landswette.

Rooikopheks ·

Hy het sy straf uitgedien, dis ook ń bittere hartseer gebeurtenis wat altyd ń uitwerking op sy lewe gaan hê. Hy het nooit gesê hy was onskuldig nie, hy leef elke dag met daardie pyn en herinneringe.

SjN ·

Alles is n skok, So word berekeningsfoute al die afgelope 27 jaar gemaak, 3de rangse wereld word gemeet aan 3 kriterias, nl gesondheid, opleiding en infrastruktuur, en al 3 is in die afgrond bestuur deur kaders.

Porseleintjie ·

En as Oscar jou seun was Marius? Die maat waarmee jy meet sal weer vir jou gemeet word se die Woord.

Star ·

Maar is Reeva se Pa nie oorlede aan n hatraanval nie dit was mos ook op Maroela Media. ??

Catherina ·

Enough misery in this country. Leave the man alone. Done his time. Worse things to be concerned about in RSA

Jakes ·

Parool word volgens wet toegeken of geweier. Oscar sal altyd daardie kruis moet dra vir dit wat hy gedoen het. Hy het Reeva geskiet en daardeur ook sy eie lewe verwoes. Hy is ook daarvoor gestraf en mense moet vrede maak daarmee. Al sou hy sy volle straf uitdien sal dit niks verander aan wat daardie aand gebeur het nie. Gun hom dus nog n kans om opnuut die skerwe van sy lewe op te tel.

Lindi ·

Ek wonder nou – Al die plaasmoorde – word die slagoffers se familie ook in kennis gestel van parool vir die moordenaar? Daar is tonne moordenaars wat uit is op parool – ek glo nie vir ‘n oomblik dat al daai slagoffers se naasbestaandes ok is daarmee nie.

Elsabé ·

Reeva se ouers rou en moet deur die rouproses gaan. Of Oscar langer sit, of lewenslank sit, of op parool uitkom, gaan nie hul rouproses beinvloed nie. Hulle moet hulle eie rou-pad stap. Oscar het fouteer, hy betaal daarvoor, en volgens ‘n oud-skoolhoof struggle hy om homself te vergewe. Dit is ‘n pad wat hy stap – dis nie nodig dat ons of Reeva se ouers nog klippe moet gooi nie. Laat die land se regstelsel sy gang loop en gun vir Oscar ‘n plek in die son. Sy sonde is niks groter as my en jou daaglikse sonde nie. Ons s’n word net nie aan lamppale gehang nie, maar kon ook iemand se lewe verwoes het.

Mrs H ·

Ek voel ook die ouers van Reeva kan gerus minder haatdraend optree. Dit bly hartseer beide kante toe.

Akhenatha ·

Hy is ‘n gestremde persoon. Lewe in die tronk moet vir hom duisend keer erger wees. 500 dae moet wees soos 5000 vir ‘n normale persoon. Al kom hy uit, hy het reeds al sy aansien in die lewe verloor en lewe buite die tronk sal nie maklik wees nie. Mense sal aanhou om klippe na hom te gooi.

Waarnemer ·

Desjare geledewas daar iets soos n “bylae 1 oortreding” te wete hoogverrad,moord,verkragting ensovoorts waarvoor die maksimum vonnis van toepassing was nl die doodstraf of lewenslank en lewenslank was presies wat dit se…so lank as wat jy lewe…..nou met die huidige regering is die maksimum vonnis en lewenslank blykbaar net 3 maande……

Mariaan ·

Wat n teleurstelling van die reg! Mense sit langer vir bedrog as moord…wat n grap…hierdie ou het MOORD uit woede gepleeg…nee man…hy moet sit vir die res van sy lewe!

Mariaan ·

Kyk net volgende berig..stropers kry 16jaar…maar Oscar het MOORD gepleeg..geen ongeluk! Hy het presies geweet wat hy doen…ek kan nie eers vir hom kyk nie…

Jack ·

Chris Hani se medepligtige tot moord is borgtog geweier. Is 2 en 2 nie meer 4 nie? Hy het nie eers gedoen wat oscar gedoen het nie.

Malan ·

Hoekom is dit ‘n skok? Parool word in hierdie land uitgedeel “left, right en centre”. Dit sal uiters onregverdig wees om Pistorius anders te behandel. Dit is natuurlik baie moontlik gegewe sy kleur.

gwb ·

n moordenaar verdien nie parool nie. hy het n lewe geneem. hoekom moet sy lewe nou saak maak? Reeva kan nie weer terug kom nie. maar hy kan weer vry rondloop waar is dit regverdig?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.