Nuus was ‘verpletterend’ – ma van SA slagoffer in Mosambiek-terreur

‘n Argieffoto van Palma, Cabo Delgado, in Mosambiek. (Foto: John Wessels/AFP)

Tientalle mense is dood in gekoördineerde djihadiste-aanvalle in Palma in die noorde van Mosambiek, het dié land se regering Sondag gesê, vier dae nadat die aanvalle geloods is en die ontruiming van duisende mense na die provinsiale hoofstad Pemba tot gevolg gehad het.

Sewe mense is dood in ʼn hinderlaag tydens ʼn poging om hulle uit ʼn hotel waar hulle geskuil het na veiligheid te bring.

“Woensdag het ʼn groep terroriste Palma binnegesluip en begin met optrede wat gelei het tot die lafhartige moord op tientalle weerlose mense,” het Omar Saranga, woordvoerder van die Mosambiekse departement van verdediging, gesê.

Daar was ook buitelanders onder diegene wat in die geweld vasgevang is, maar die regering het nie gesê presies hoeveel van hulle het gesterf nie.

Tot dusver is een Suid-Afrikaner in die aanval dood.

Adrian Nel het twee dae lank saam met sy pa en broer in die Amarula Palma-hotel geskuil, het sy ma gesê.

Onderweg na ʼn konvooi voertuie wat hulle na veiligheid sou neem, is Nel doodgeskiet.

Sy pa moes sy liggaam dra totdat hulle gered kon word.

“Daar is geen manier om te beskryf hoe jy voel as jy sulke nuus ontvang nie,” het Meryl Knox, Adrian se ma, gesê.

“Dit is verpletterend, dit maak jou liggaam en jou brein lam.”

Martin Ewi, ʼn senior navorser by die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS), sê daar kan ná die aanvalle steeds van meer as 100 mense nie rekenskap gegee word nie.

“Dit is wat ons tot dusver weet,” sê hy, terwyl hy terselfdertyd waarsku die situasie op voetsoolvlak is baie verwarrend.

Reddingspoging

Woensdag het ʼn onbekende aantal militante Palma binnegeval. Die dorp in die Cabo Delgado-provinsie is die tuiste van sowat 75 000 inwoners en huisves ook die multimiljarddollar-gasprojek deur die Franse maatskappy Total, asook ander energiemaatskappye.

Human Rights Watch sê die militante het burgerlikes blindelings in die strate en in hul huise geskiet.

Die regering se veiligheidsmagte het die afgelope drie dae die redding van honderde mense geprioritiseer – dié van Mosambiekse burgers én buitelanders, het Saranga gesê.

Sommige mense is tydelik na die goed bewaakte gasaanleg op die Afungi-skiereiland suid van die Tanzaniese grens geneem, waarna hulle later sowat 250 km verder na Pemba verskuif is. Volgens polisielede wat Pemba se hawe patrolleer het ʼn boot met nagenoeg 1 400 mense Sondag daar aangekom.

Diegene wat die gebied ontruim het, sluit in nie-noodsaaklike werkers van Total en inwoners van Palma wat skuiling by die gasaanleg gaan soek het.

Verskeie ander kleiner bote met vlugtelinge is op pad na Pemba en sou na verwagting oornag of Maandagoggend daar aankom, het humanitêre noodlenigingsorganisasies gesê.

Lughawe-amptenare in Pemba het gesê humanitêre vlugte is opgeskort om plek te maak vir militêre operasies.

‘Skrikwekkende geweld’

Die militante se aanval op Palma is die naaste nóg aan die groot gasprojek in die sowat drie jaar wat Islamitiese insurgente in Mosambiek se noorde bedrywig is.

Ekstremiste plunder dorpies en nedersettings sedert Oktober 2017 en sowat 700 000 mense het reeds uit hul huise gevlug.

Hoewel die ekstremiste die veldtog in 2017 geloods het, sê kenners hulle het al ʼn dekade vroeër begin mobiliseer toe ontevrede jong mense ʼn sogenaamde ander soort Islam begin beoefen het, drank begin drink en moskees geklee in kortbroeke en met skoene binnegegaan het.

Die geweld het nou vastrapplek gekry en minstens 2 600 mense is reeds dood, die helfte van hulle burgerlikes volgens die Amerikaanse agentskap Armed Conflict Location and Event Data (ACLED).

Plaaslike media berig Britse werkers is dalk in die Palma-aanval vasgekeer. Brittanje sê sy ambassade in Maputo was in regstreekse verbinding met owerhede in Cabo Delgado om dringend verdere inligting hieroor te bekom.

Brittanje het die “skrikwekkende geweld” in Cabo Delgado ten sterkste veroordeel.

Die VSA, wie se troepe Mosambiekse magte help oplei om teen die insurgente te veg, het Sondag gesê hy “gaan voort om die afgryslike situasie in Palma te monitor”. Een Amerikaner in Palma is reeds na veiligheid gebring.

Die ambassade het vroeër vandeesmaand aangekondig Amerikaanse weermaglede gaan twee maande lank opleiding aan regeringsmagte in Mosambiek gee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

JM ·

Afgryslik! Wat my verstand te bowe gaan: waarom VSA 2 maande lank Mosambiekse magte wil oplei, terwyl duisende burgerlikes intussen vermoor word? Blykbaar is die korrekte(?) protokol vir hulle belangriker as onskuldiges wat intussen vermoor word!

Frank ·

Hoekom moet USA alewig dwarsoor die wereld terroriste baklei? Omdat buurlande (RSA en Zim) te sleg is om die streeks situasie self op te los? USA bewys Moz ‘n guns, al is dit net vir twee maande…. aanvanklik…..

Anthony ·

Hoe op deesaarde gaan ons verskoning van n weermag & polisie die tiepe aanvaale stuit of teen aanval ? Meeste van ons ” armed forces” lyk soos teletubbie of bananas in pajamas. Ons gaan maar vir ADT moet inspan.

Misky ·

SA se kammakastige weermag kan ongelukkig nie help nie. Hulle sit onder die bome by KFC

Frans ·

Lyk my die weermag van Mosambiek is net sou treurig soos die weermag van Irak wat weggehardloop het en hul wapens agter gelaat het toe Isis sy terreur begin het.Sou nie in die dae van die ou SAW gebeur het nie.
Hier is nou ‘n geleentheid vir Carl Niehaus en sy Mk soldate wat vir Zuma bewaak om hul staal te toon en die terroriste op hul plek te sit.My innige simpatie aan die mense wat wat geliefdes in die sinnelose terreur verloor het omdat die plaaslike weermag te sleg was om hul te beskerm.

Anoniem ·

Selfs Koffiefontein se neighborhood watch sal beter vaar as SANW.

gpsa ·

Wat is die VN se optrede is so situasie? Is hulle verplig om nasies by te staan in so gaval en te gaan help? Is dit net van toepassing op sekere lande? Of gaan help hulle net waar hulle kan, of belange het? Sal graag wil weet.

anniekiewiet ·

Kan Maroela dalk n artikel plaas wat ons meer inlig omtrent redes vir daardie terrorist se aksies? Ek verstaan nie hoekom hulle enigsins daar insypel en terreur saai nie?
Nie dat mens hulle optredes enigsins verstaan nie., maar hoekom Mosambiek?

Francois Le Cochon ·

Maklikste toegang na SA deur Kruger Park. Ons gaan dalk ‘n tweede Siria word. Vir alle praktiese redes het ons nie meer ‘n doeltreffende weer- en lugmag nie.

ES ·

‘n Nuwe soort Islam begin beoefen? Dit is net ‘n manier om godsdiens te gebruik om te skuil agter hul eie tiraniese gruweldade.

Hoekom beskerm die regering nie sy burgers nie?

Sarel ·

Op SA grens en ons is magteloos
Waar is die Moonthede wat destyds SA aangeval het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.