Nuusflits oor die toekoms van nuus

nuus-nuuswebblad-rekenaar

Foto: Negative Space/Pexels.com

Verandering en aanpassing gaan die nuwe konstante wees vir die medialandskap van die toekoms. Inligting gaan al hoe minder gedruk word, en meer op aanlyn platforms en sosiale media gedeel word, waar dit met propaganda en fopnuus sal moet meeding. Dit sal ál meer die leser se verantwoordelikheid wees om te bepaal watter nuusbronne betroubaar is en watter nie.

Só voorspel Glenda Daniels, medeprofessor in die departement mediastudies aan die Universiteit van die Witwatersrand.

Die mediawêreld is op 30 April geruk toe die onafhanklike mediahuis Associated Media Publishing (AMP), wat tydskrifte soos Cosmopolitan en House & Leisure publiseer, aangekondig het dat hy sluit. Op 5 Mei 2020 het ʼn tweede skokgolf getref toe die mediahuis Caxton aankondig dat sy tydskrifafdeling gesluit gaan word, wat beteken dat tydskrifte soos rooi rose, Vrouekeur, Garden & Home en People nie meer gepubliseer gaan word nie.

Die rede wat vir dié besluit gegee word, is dat daar oor die afgelope paar jaar ʼn afname in advertensie-inkomste en sirkulasie was, en dat die negatiewe impak van die Covid-19-grendelstaat die situasie vererger het en onvermydelik tot hierdie stap gelei het.

Martie Pansegrouw, rooi rose se redakteur, het op 6 Mei aan Maroela Media gesê dat die besluit onverwags was.

“Ons steier nog onder die nuus. Ons het hierdie week eers uitgevind. Oor die fyner detail weet ek nog niks nie. Ek weet die proses begin nou loop en dat daar volgens wet konsultasies moet plaasvind.”

Dié vrouetydskrif bestaan al vanaf April 1942, dus 78 jaar.

“Hoewel die medialandskap grootliks verander het en steeds verander, voel ons dat ons op ons verskillende platforms met ons lesers in kontak gebly het en steeds bly. Tydens die koronaviruspandemie het rooi rose se unieke aanlynbesoekers gestyg van 283 591 in Maart tot 462 320 in April 2020,” sê Pansegrouw.

“Ons kan nie voorspellings maak oor die volgende paar maande nie, maar dit wys die waarde wat die tydskrif bied in moeilike tye.”

Kate Skinner, direkteur van die Suid-Afrikaanse redakteursforum (Sanef) sê die organisasie is baie bekommerd.

“Ek dink gedrukte media gaan sukkel om te oorleef in die toekoms. Baie publikasies sal noodgedwonge slegs digitaal beskikbaar wees.”

Hoe lyk die medialandskap?

Die gedrukte media beleef die afgelope dekade reeds ʼn afname, met baie poste wat geskrap is. Die bedryf het nooit van 2008 se resessie herstel nie, sê Daniels.

“Sowat die helfte van alle professionele joernalistieke poste het oor die afgelope dekade verdwyn. Dit blyk dat die Covid-19-krisis hierdie geleidelike afname versnel, sodat ʼn skerp daling plaasvind, hoofsaaklik weens advertensies wat oornag gekanselleer is.”

Alan Finlay, dosent in joernalistiek en mediastudies aan Wits, sê in die jongste State of the Newsroom-verslag, met 2018 se gegewens daarin, dat nuus oor die afgelope dekade geleidelik verander het, hoofsaaklik weens die groei van internetnuusbronne en die veranderende “nuusdieet” van Suid-Afrikaners, wat nou formele én informele bronne insluit.

“Veral in krisistye dien sosiale media byvoorbeeld as ʼn onmiddellike nuusbron wat die jongste inligting veel vinniger weergee as wat koerante of die radio ooit kan.”

Die verslag het bevind dat al hoe minder mense in Suid-Afrika koerant lees. Tussen 2016 en 2018 het die sirkulasie van daaglikse, weeklikse en naweekkoerante op gemiddeld met 20% gedaal. Gemeenskapskoerante het tien jaar gelede sowat 4 000 joernaliste in diens gehad, maar hierdie syfer is intussen gehalveer, saam met die aantal gemeenskapsmediatitels.

Radiogehore het sterk en stabiel gebly, maar kykers na gratis televisiekanale het ook afgeneem, weens die aantrekkingskrag van betaaltelevisie en die impak van aanlyn nuus, wat vir miljoene Suid-Afrikaners ʼn onontbeerlike nuusbron geword het.

Vir Daniels vorm dit deel van die veranderende tye.

“Mense, en veral jongmense, is deel van die digitaal onderbroke wêreld en lees nuus aanlyn – meer dikwels as nie, en boonop gratis. Modetydskrifte raak ook irrelevant in hierdie tyd van Instagram. Die digitale tendens is op spoed en gaan nie gekeer word nie.”

Unieke besoekers aan groot plaaslike aanlyn nuusbronne het inderdaad noemenswaardig gestyg hierdie jaar, volgens die internasionale metingsmaatskappy Narratiive. Besoekers aan Maroela Media en netwerk24.com het van Februarie tot Maart met meer as 500 000 toegeneem en in April steeds opwaarts geskuif, sodat Maroela Media meer as 2,6 miljoen lesers in April gehad het.

Engelse aanlyn nuusbronne se besoekertal het ook die hoogte ingeskiet, met news24.com se unieke besoekers wat verdubbeld het van 7 miljoen in Februarie tot 14 miljoen in Maart, Business Live wat van Maart tot April van byna 2,5 miljoen unieke besoekers na meer as 4 miljoen gespring het, en Times Live van 8,6 miljoen tot 9,7 miljoen.

Hoewel die sprong in Engelse nuuslesers soveel groter is as die Afrikaanse besoekers, is dit toe te skryf aan die feit dat die Afrikaanse mark veel meer stabiel is, met meer ouer mense wat al die nuus lees, teenoor jonger Engelse lesers wat net die grootste nuusgebeure volg.

Uitdagings en moontlike oplossings

Sedert die vorige ekonomiese resessie het dit baie duur geword om koerante te druk, beaam Chris Louw van Caxton in die verslag. Hy verduidelik dat baie plaaslike advertensies wat vroeër in gemeenskapskoerante gedruk sou word, nou op sosiale media geplaas word.

“Die mark is onder ernstige druk vanuit ʼn advertensieperspektief en dis baie moeilik om kleiner adverteerders te lok. Facebook het dinge baie verander.”

Skinner voeg by dat nie net gedrukte media sukkel om advertensies te lok nie, dis ook moeilik om advertering vir digitale platforms te werf.

“Mediahuise sal hul befondsingsmodelle moet transformeer en na meervoudige inkomstestrome kyk. Sanef gaan elke moontlike manier om die nuusmedia te ondersteun, ondersoek, soos om bestaande fondse te heroorweeg en moontlik ʼn noodfonds te stig. Ons is tans besig met navorsing en sal ons daardeur laat lei.”

Met befondsing wat een van die grootste struikelblokke is, vermoed Daniels saam met Skinner dat die winsmodel dalk iets van die verlede is – joernalistiek moet moontlik na groepsbefondsing of filantropie draai.

Ten spyte van hierdie uitdagings het die media nog nooit ʼn belangriker rol gespeel as juis nou nie, sê Skinner.

“Om betroubare nuus te bied, waarvan die feite nagegaan is, is broodnodig.”

Die joernaliste van die toekoms sal opgelei moet word om met propaganda en fopnuus mee te ding.

Volgens die State of the Newsroom-verslag is een van joernaliste se belangrikste rolle in ʼn demokrasie, buiten om diegene in mag verantwoordelik vir hul aksies en die besteding van belastingbetalers se geld te hou, om feitelike inligting wat bevestig is te bied, ʼn verskeidenheid van perspektiewe voor te hou en inligting betroubaar te analiseer.

Een respondent van die verslag glo dat die media se “industriële era” verby is.

“Die weg vorentoe vir goeie joernalistiek is deur innovasie, eksperimentering en nuwe, ligter inisiatiewe. Die gemeenskap het steeds goeie joernalistiek nodig, maar dit hoef nie op dieselfde ou, baie duur maniere bekom te word nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Gustav ·

Gedrukte media was tot sover alles behalwe betroubaar. Hulle was nog altyd uiters opsetlik om slegs een kant van n saak te stel, veral as ras betrokke is.

Anel ·

Dieselfde kam gesê word van TV nuus. Nie een nuuskanaal saai dieselfde nuus uit nie. Geen Afrikaanse advertensies meer nie, selfs op KNET word swattalige advertensies uit gesaai. Daar word ook net vertel van swart swaarkry en hoe sleg die blankes is. Nuus is rassisties en eensydig.

Debbie ·

Ek stem nie saam nie. Jy kan onbetroubare
inligting gedruk of digitaal kry. Jy gaan altyd joernaliste kry wat net een kan van ‘n saak gaan stel. Mense sal moet mooi lees en die waarheid van die leuens onderskei.

Michael 1 ·

Nie in SA met sy beleid van polities korrektheid ten koste van alles nie.

Debbie ·

Ek hou daarvan om nuus op maroela media en ander kanale te lees. Ek dink digitale platforms is belangrik. Ek hoop egter dat alles nie digitaal gaan word nie. Ek verkies dit veel eerder om ‘n fisiese boek of tydskrif te lees. Ek koop nie baie tydskrifte nie. Ek weet baie mense gaan nie met my saamstem nie, maar ek was nog nooit mal oor ‘n digitale tydskrif of boek nie. Ek verkies dit ook om ‘n fisiese boek te lees. Ek weet ons is in ‘n digitale era. Maar ek verkies ‘n fisiese boek. Dalk is ek van die min mense wat so voel. Baie hartseer dat soveel joernaliste hul werk gaan verloor.

Boerkind ·

Nou kan ons verwag om meer “cut & paste” te sien… Ook makliker om deur die regime beheer en “ge-track” te word. Ons sien reeds hoe bv. Trump uitgebeeld word (Die Burger), maar nie ‘n woord oor ons eie messias CR nie. Fake media word net al makliker….

Martinet ·

Die huisgenoot is elke geval te duur en dan is dit net vol advertensies

capie ·

Ek praat nou net uit my perspektief. Ek was baie jare betrokke by ‘n koerant. Die hoeveelheid koerante wat vandag gedruk word teenoor 20, 30 jaar terug is minimaal. Die media se klem lê slegs op wins en glad nie meer op diens nie. Die diens is weggevat en nou is die wins minder. Media 24 se koerante en tydskrifte lees ek nie want hulle wil he ek moet my advertensie blokker vir hulle afsit. My advertensie blokker is aan om ongevraagde indringing op my rekenaar te keer. Hulle beheer nie die advertensie nie. As hulle die advertensie deel van die bladsy maak wat ek aflaai, weet ek dit is ‘n adverteerder wat vir sy advertensie betaal.

Iemand het genoem van Huisgenoot. My vrou het dit ook gekoop. Op ‘n stadium het sy gesê ” Ek weet nie hoekom ek dit koop nie. Net 10 minute en alles klaar gelees” . Nou tydens die afsondering het ‘n vriendin ‘n paar tydskrifte ge epos en na ‘n kort rukkie se lees het sy dit net uitgevee. Nie die moeite werd nie

Ferryman ·

Die Covid-19 pandemie het die media nou skoppend en skreeuend in die 21ste eeu ingesleep. Dit is die 4de Nywerheids Revolusie en aanpassings sal gemaak moet word. Aan die positiewe kant kan nuus nou goedkoper versprei word met ‘n baie beter groen voetdruk.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.