Nuuskommentaar: Doodskiste, spoedwalle en brûe met ras

Willem Oosthuizen (voor) en Theo Martins Jackson in die hof. Foto: Landi Slatter

Die uitspraak in die sogenaamde doodskis-video-geval is skaars gelewer, of nog ’n rasse-insident haal die media. Dié keer het AfriForum ’n oud-redakteur van Volksblad as lid geskors omdat hy die k-woord in ’n elektroniese boodskap op ’n groep van AfriForum se buurtwagstelsel in een van Bloemfontein se voorste woonbuurte met ’n “vingerfout” uitgestuur het. Hy was besig om sy mond uit te spoel oor die baie en baie hoë spoedwalle wat die munisipaliteit in ’n hoofweg in die buurt opgerig het – so hoog dat sommige motors nie daaroor kan ry nie. Dié spoedwalle is erg omstrede en het menige humeur laat ontvlam.

Wat die doodskis-video betref, ná vonnisoplegging sal waarskynlik appèl aangeteken word, en dit is waarskynlik dat veral die skuldigbevinding aan poging tot moord onder die vergrootglas gaan kom. Daar durf nie ’n persepsie by sommiges in Suid-Afrika bestaan dat dié betrokke skuldigbevinding eerder die gevolg van emosies was, as die feite wat aangebied is nie.

Die regspraak maak immers nie voorsiening vir ’n misdryf soos “poging tot strafbare manslag” nie, en indien ’n hoër hof sou beslis die opset om te dood was aanwesig, sal daar waarskynlik weer sterk argumente oor dolus eventualis en dolus directus gevoer word, soos wat in die Reitz-vier- en die Oscar Pistorius-saak gebeur het.

Die regsbeginsels daar gelaat, veral omdat nie almal in hul daaglikse handel en wandel met genoegsame regskennis toegerus is nie – die boodskap is duidelik – sou jy ’n misdaad oor die rassegrense heen pleeg, is daar by ’n groot deel van die breë publiek ’n skerp vooroordeel aanwesig. Dit het ongelukkig na die voorsittende beamptes oorgespoel in sake soos die Reitz-vier (hulle is deur die hooflanddros gevonnis op “aanklagte” waarvoor hulle nie aangekla is nie en dis op appèl reggestel) en die sogenaamde leeukampverhoor.

Die kort en die lank is… weerhou jou van optrede wat enigsins die potensiaal het om deur ander as rassisties vertolk te word – nie omdat dit jou nog dieper as gewoonlik in die sop sal laat beland nie, maar omdat dit in ieder geval verkeerd is. Bou eerder brûe.

Die geval van die genoemde afgetrede redakteur, Jonathan Crowther, is nuuswaardig weens die profiel van die persoon. Volksblad en Netwerk24 het die saak in ’n taamlik omvattende berig deur die huidige redakteur van Volksblad, Gert Coetzee, belig. Crowther was van 1999 tot 2009 redakteur van Volksblad, en is as liberaler as die gemiddelde leser van destyds beskou. Volksblad se eie stel beginsels is ná kritiek op die koerant oor onder meer die hantering van ’n studenteraadsverkiesing by Kovsies in ’n hoofartikel geplaas, en dit was in wese dieselfde as dié van die DA. Instansies wat ook dié beginsels handhaaf, sou dan die steun van die koerant “verdien”.

Crowther het in ’n hoofartikel ook verklaar dat “aborsies nie meer deel van die openbare debat is nie” en die kwessie het tot ná sy aftrede nie meer deel van die nuustoneel uitgemaak nie, selfs toe openbare verhore in die Vrystaat gehou is om Suid-Afrika se aborsiewetgewing van die “liberaalste” ter wêreld te maak.

Baie mense was verbaas om te hoor dat hy ’n lid van AfriForum was.

Sy naam het ook ter sprake gekom in ’n saak voor die mededingingstribunaal wat deur die mededingingskommissie teen Media24 (eintlik Volksblad) aanhangig gemaak is oor die ondergang van ’n onafhanklike koerant op die Goudveld, GoldnetNews. Die tribunaal het in 2015 teen Media24 beslis, en beide Media24 en die kommissie het vorme van appèl aangeteken. Die kommissie het gevoel genoegsame getuienis is aangebied om Media24 op ’n ernstiger klag skuldig te bevind wat wél vir ’n administratiewe boete voorsiening maak.

Die Citizen se berig oor die slotbetoë vertel die verhaal: “Advocate Rafik Bhana SC for the commission said in closing arguments that an adverse inference should be drawn from Media24’s failure to call Jonathan Crowther, at the time editor of Volksblad, to testify.

“While the alleged lapa meetings [waar GoldnetNews se ondergang glo beplan is] were attended only by Bonthuyzen and Du Preez, who has since passed away, Crowther attended the 2003 Volksblad indaba at Moolmanshoek where the alleged strategy was confirmed and accelerated, as reflected by the minutes, Bhana argued.”

Brûe bou is nie net die werk van gewone mense of die elite nie, dis almal se werk, in hul privaat lewe en in hul openbare amp. Ons sal nog moet sien of AfriForum se uitskop van Crowther voldoende is. AfriForum kom juis onder druk van persone soos dr. Piet Croukamp omdat hulle (AfriForum) te sektorale belange sou bevorder (volgens hom die Afrikaner en wit mense), en slegs periodiek prominente gevalle oor die kleurgrens kies om sy werklike beeld te versag. Dis nou gevalle soos die model wat deur Grace Mugabe, die Zimbabwiese presidentsvrou, aangerand is, en die Wes-Kaapse DKD-amptenare (wat in werklikheid deur Solidariteit, van wie hulle lid is, hanteer is).

AfriForum en Solidariteit het as deel van sy veldtog teen die onewewigtige hantering van rassisme en haatspraak deur die owerhede en onder meer die Menseregtekommissie, ’n eie veldtog van stapel gestuur, onder meer deur talle sake teen beweerde swart oortreders ook aanhangig te maak. AfriForum se aanspraak dat dit alle vorme van rassisme ten sterkste veroordeel, sal nou in sy optrede teen Crowther gemeet word. AfriForum loods ’n interne ondersoek.

Wees waaksaam, baie waaksaam, sodat jy nie dalk met ’n ondeurdagte optrede of vingerfout kniediep in die sop beland nie. Die land het dit nie nodig nie, en jý nog minder om ge-Penny Sparrow te word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Eish ·

Baie dankie vir die tydige en wyse raad.
Jakobus 3:6. ” Die tong is ook n vuur, die wêreld van ongeregtigheid. Net so n plek neem die tong onder ons lede in; dit besmet die hele liggaam en steek die hele lewensloop aan die brand en word uit die hel aan gesteek. ”
Aan die einde van die dag is dit maar net deel van die Christelike waardestelsel.

Eish ·

Dr. Piet Croukamp kan maar n artikel vir ons skryf insake sy siening oor die gemelde organisasies. Synde n uitgesproke ateïs te wees, slaan hy klaar die bal mis deur die Christelike waardestelsel buite rekening te laat in sy kritiek op Solidariteit en Afriforum.

Theresa ·

As dit sal help dat mense onnodig in selle, tronke en howe beland – is dit tog die moeite werd om ‘n wag voor die mond te sit!!! Mens leer mens se kinders oor die eeue heen om nie ander te na te kom het sy met woorde of met dade nie. Almal moet dit prober – ter bevordering van baie wanpersepsies. DInk wat jy wil, maar dink 2 of 3x voordat jy dit sê – en nog erger – tik en die lugruim instuur!! Die skrif is aan die muur dat daar diskriminerend gefokus word op ‘n klein (maar sterk) groep mense. Sit ‘n wag voor die mond. Beheersheid is ‘n bate en doen sommer jou gesondheid ook goed.

Tammy ·

Ons is nou al moeg brue gebou en kruip en smeek in Suid Afrika. Die land is ten gronde, ons kan nie eers meer buite ons huise gaan sonder om eers uit te vind of daar nie n klipgooiery of afbrandery aan die gang is op pad winkel toe om n brood te gaan koop nie. Ons wil met vakansie gaan maar moet eers wag dat die klipgooiery en gemors naby Kruger wildtuin einde kry voordat ons kan ry. Ag nee wat, ek en ek glo n groot persentasie van ons landsburgers is siek en sat vir ons regering wat net vir hulleself en hulle eie rykdom omgee.
Die mense wat so graag dr Piet Croukamp kritiseer… hou asseblief op daarmee, jy is mos kamtig n christen en hulle doen nie sulke dinge nie. Nee man

Ronniem ·

So word ons as Afikaners (Blank en Bruin) se stemmr gesnoer .

Hendrik ·

Soos ek dit sien en ervaar is die enigste , tot ‘n mindere mate, net afrikaans wat die gemene deler is. Die Bruin mense is maar baie na links geneig. So saam met die DA langs.

Knikkebollen ·

Beste Herman. Goeie artikel. Die probleem wat nou snel aan die posvat is, en aktief deur die hoofstroom media ondersteun word, is dat dit onmoontlik raak vir n Blanke om enigsens sy mond oop te maak om Swartes aan te spreek oor blatante wetsoortredings of om hulle eie menswaardigheid te beskerm. ELKE insident word dadelik ‘n rasse-knoop gegee. Wanneer die swarte egter die blanke kan vloek en skel of dreig is dit nie ‘n rasse aangeleentheid nie. Hierdie probleem gaan nog baie mense in die hof laat beland…

Hans Richardt ·

Media het sistemiese ideologie siekte. As wit die geveg wen is dit Rassisme, wen die politieke swartes, is dit net geweld en misdaad. Die verskynsel word sistemiese diskriminasie genoem.

Breek die Doofpot ·

Op 28 Maart 2017 is landwyd berig oor die aanval op ‘n vermeende dief deur die Dwarsloop gemeenskap naby Bosbokrant. Die man is lewend begrawe, met ‘n graaf oor die kop gemoker dat die bloed loop en sou met petrol lewendig verbrand word indien die polisie nie opgedaag het nie.

Geen klag is gele^ en niemand is vervolg nie.

Daarteenoor het ons hierdie heksejag mediasirkus van twee wit mans wat ‘n koperkabeldief eenvoudig wou afskrik nadat hy dreig om hulle families te vermoor en plase af te brand.

Afrikaanse Knaap ·

As daar nou een man is wie se opinie vir my geen gewig dra nie, is dit dr. Piet Croukamp. Hy het niks goed oor Afrikaners en God te sê nie.
Ek het hom nog nooit hoor kritiek lewer oor enige ander groep in SA as Afrikaners nie. Dis hoekom hy nog sy werk het. Want spreek jouself uit teen enige ander groep, en jy is jou werk kwyt.

Ken2 ·

Alle vorme van vryheid van spraak is besig om te val. Ons raak nou amptelik n kommunistiese diktatorskap.

Jaco ·

Wat n pot strooi. Ek dink daar is al genoeg brue probeer bou en verskoning gevra en wat nog. Hoog tyd dat die bruggies maar gebrand word. Kan nie net van een kant in stand gehou en gebou word nie. Hoog tyd dat dieselfde beginsels aan albei kante toegepas word en almal oor dieselfde kam geskeer word of nie.

Ella ·

Jaco, wat Herman sê is: Hou JOU kant skoon! Lees weer die artikel. Jy baat niks daarby om te sê wat jy wil soos jy wil, in sosiale media nie.

Ada ·

Die brue wat ons gebou het vanaf 1994 is nie deur ons vernietig nie. Ons is moeg gebou aan brue. Dit is tyd dat die ander ouens hierdie brue begin bou. Watter brug het Zuma en kie gebou? Watter brug het die Guptas gebou? Watter brug het Malema en die ANC Jeugliga gebou? En die ANC vroue-liga? Watter brug het Baleka gebou? Watter brug het die DA oor die plaasmoorde gebou? En so kan ons aangaan en aangaan…….Neewat ek is klaar gebou en ek dink daar is baie ander wat soos ek voel.

adriana ·

Ons kan nie meer ‘brue” bou nie want al die bakstene is gesteel en terwyl ons “brue” bou word ons met die klippe gegooi en vir alles uitgemaak wat sleg is deur die media. Nee-wat laat die media die “brue’ bou want hulle het ‘n groot aandeel in die afbreek daarvan.

CG ·

Afriforum aanvaar hiermee onherroepelik die onsinnige norm dat die gebruik van n enkele woord, selfs per ongeluk, n mens tot ” rassis” vedoem. Dit is so goed om te se dat ‘ n enkele vloekwoord n mens tot sondaar en vir ewig en altyd tot die hel vedoem. Besef julle hoe kwesbaar dit elke liewe nie-swarte maak? Al wat nodig is is twee wat saamspan en beweer jy het die woord gese en siedaar, jy verloor jou werk (sommer sonder verhoor) en is vir ewig gebrandmerk! Regtig treurig dat Afriforum daartoe bydra om ons so kwesbaar te maak!

SARIE VAN HEERDEN ·

Die enigste brug wat ek bou is die brug om my mede Afrikaners te ondersteun. Vir die motorwagte wat my motor oppas tenspyte van n alarm en assuransie wat ek betaal, betaal ek ‘n fooitjie. Wanneer ek in ‘n restaurant eet en die kelner lyk soos ek, betaal ek ‘n fooitjie. Die rede? My mense kry nie meer werk nie en baie leef armoedig en daarom moet ek hul help en bystaan. Die ander is geholpe.

Johannes Meintjes ·

Met ‘n onlangse akademiese verslag wat aandui dat 30 miljoen mense in SA verarm is, is dit maklik om frustrasies op mekaar uit te haal op ‘n honger maag, met skuldeiesers by die voordeur en te midde van ‘n legio van kulturele verskille en opvattings. My beskeie pleidooi is vir groter ekonomiese herlewingsfokus (nie net bedrieglike lippetaal vir ekonomiese groei en hol-simbaal evangelies in SA nie), en vir doelgerigde, konstruktiewe arbeidsaamheid.

Faan ·

Miskien verstaan ek verkeerd, maar indien jy wit is, word jy outomaties geklassifiseer as rassis?

Maak nie saak wie of wat jy is nie.
Maak ook nie saak hoe goed of sleg jy is nie.
Net omdat jy wit is.

Maar as jy enige ander kleur behalwe wit is, dan word jy outomaties geklassifiseer as nie rassis.
Maak nie saak wat jy doen, of hoe goed of sleg jy is nie.

ONREGVERDIG!!!!!!!

Weet die nie rassistiese mense ooit wat is die betekenis van rassisme?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.