Nuuskommentaar: Geloftedag

Argieffoto

Argieffoto

Vanjaar se Geloftedag (en Versoeningsdag) staan teen die agtergrond van taalwoelinge by die Universiteite van Stellenbosch en Noordwes (Potchefstroom-kampus), en die minister van hoër onderwys se monduitspoelery oor Akademia.

Ook op ander terreine het baie Afrikaners ’n versnelde proses van vervreemding in hul eie land ervaar.

Nou is dit Geloftedag.

Daar kan, en is al lang stukke geskryf oor hoe Geloftedag nié gevier behoort te word nie, soos dat dit verkeerd was en is om dit vir politieke doeleindes te kaap. Oor bykans elke punt is al in die verlede rusie gemaak.

Maar wat van die positiewe?

Om ’n Gelofte te kan maak, moet die betrokkenes in die eerste plek Christene wees. Die Gelofte se viering daarna moet dus in die eerste plek staan in die lig van dit wat Jesus op aarde aan ons openbaar het. Sy opsomming van die Tien Gebooie, naamlik dat jy God en jou naaste moet liefhê (en jou vyande ook), kan nie deur die latere verstaan van ’n Gelofte ongedaan gemaak word nie.

’n Volk wat ‘n Gelofte aangaan, neem ook ’n groot verantwoordelikheid op hom en sy nageslag, veral in ’n Gelofte soos dié van toekomstige geslagte wat ook ingebind word.

In ’n Gelofte moet ook eerlikheid ingebou word, omdat die Afrikaner ’n God dien wat eerlikheid hoog stel. Word na die uiteenlopende weergawes van die gebeure in verskillende bronne gekyk, is dit duidelik dat minstens sommiges hul eie vooroordele in die weg van eerlike historiese optekening laat staan het. Terwyl veral ouer bronne ’n taamlike groot aantal swart soldate in die laer aandui – skerpskutters van Port Natal wat deur Alexander Biggar saamgeneem is om die moord op sy seuns te wreek), en die bruin bediendes en presies wat hul rol was, swyg ander bronne heeltemal hieroor.

Terwyl van die ouer bronne aandui hoeveel swart stamme na die slag uit hul skuilings kon kom en dus saam met die Voortrekkers grootliks beveilig is, bied ander bronne die geskiedenis as suiwer een van wit teen swart aan.

Gestroop van latere bymotiewe en misbruike, maak dit ook sin om die Voortrekkers se ideale na te gaan, soos onder meer kragtig in Piet Retief se manifes saamgevat. Ook hieruit blyk ’n strewe om in vrede met die ander mense wat hulle in die binneland aantref te kan woon, maar ook ’n vasbeslotenheid om hul eie kultuur, sterk gedrewe deur die Bybel in die wakis, te handhaaf.

God het die oorwinning by Bloedrivier beskik. God is ’n ewige God, en daarom verdamp die Gelofte nie maar mettertyd nie.

 

 

 

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: SA-nuus

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

6 Kommentare

lillian ·

Ons is versaak deur ons eie mense, maar ook is dit ons eie skuld dat ons toegelaat het dat Gelofte Dag verwyder word.

Hoekom het ons nie as een volk opgestaan en die regering teen gestaan toe hulle Gelofte Dag verwyder het nie?

Maak ek bid dat God Hom oor ons ontferm, ons lyding sien in hierdie land en ons red! Gebed en geloof, is al wat ons nou gaan red!

a vorndran ·

Dit pla my glad nie dat hierdie regering die naam verander het nie, vir my is dit nog steeds Geloftedag en ek vier dit nog soos wat dit in die Gelofte van 1838 staan.

Mense vier dit nie meer nie, want hulle is gebreinspoel deur al die soetsappige praatjies van versoening deur die regering. In een mond word gesê versoening en in dieselfde asem word alles wat verkeerd loop op die apartheid se stoep gelê.

stephanie ·

Al maak die verlede seer, bly dit steeds deel van die verlede. Jy kan dit nie uitwis net omdat dit jou nie pas nie. Niemand kan die massa moord van die Jode afmaak asof dit nie gebeur het net omdat die waarheid jou nie pas. Die afgelope week was apartheid die rede vir baie dinge, dit pas ons regering om dit te gebruik as verskoning, maar nes apartheid was en is Bloedrivier deel van ons land se geskiedenis. Meer as die gebeure waar n handjie vol boere teen oormag Zoeloes geveg het en oorwin het, is die feit dat GOD die oorwinning bewerk het. Dit gaan nie soseer oor die Zoeloes vs Voortrekkers maar God se aandeel daarin.. As blanke suid afrikaner moes ek al baie van my kultuur opoffer en toegewings maak in die naam van versoening, dis ok, maar ek weier om my God in die proses ook te moet opgee. Misken maar my bestaan as blanke, my kultuur en my taal maar nie vir God.

johnn ·

praat asb net die waarheid,ek het nou alles gehoor zoeloe vegters wat saam met die boere baklei-julle kan nie ernstig wees nie.gelofdedag is nie n grap nie

carel ·

Ek gee nie om wat die “hensopers” (veraaiers) se nie, wat nog omgee oor die wat voel hul voor-ouers het die slag verloor – die gelofte is aangegaan deur ons voor-ouers waar n handjie vol van hulle teen n groot oormag bedreig was – hulle het die gelofte teen oor die Here gemaak en ons as die nageslag is gebind – ons is waar ons is omdat ons nie ons geskiedenis trots oordra aan ons na geslag nie – as hulle nie hulself by Bloed rivier vededig het nie sou hulle vermoor gewees het soos ander trekkers – voor jy oordeel verstaan eers die geskiedenis en wat vooraf gebeur het (kyk wat gebeur het die jaar voor die slag van Bloed rivier) – Dingaan het die Voortrekers veraai en hulle begin moor – hy het grond oorgeteken vir vee wat Retief vir hom moes terug haal vanaf ander stamme – Retief het dit gedoen en is toe later vermoor saam met sy manskap – hierna het Dingaan jag gemaak op Voortrekkers.

Dis jammer as jy aan die kant staan van die groep wat op die dag verslaan is maar die ander kleiner groep wat hoogs gelowig is het hulself verdedig en hul het die gelofte afgele en ons moet dit so herken.
Daar is vele veldslae geveg en gewen en verloor en as jy nou aan die verloorders se kant staan en dit nie sien vir wat dit is nie dan is jy seker nie te slim nie – die voortrekkers het laer getrek en is aangeval en het hulself verdedig – wat wil die verloorders se kant nou he moes hul doen???

Nee ek is moeg vir dom mense – en ek het nie n saak wie jy is nie maar as jy nie die geskiedenis ken en verstaan nie moet dan eerder nie jou mening lig nie – die gelofte het niks te doen met hedendaagse ras nie – dit het te doen met n belofte aan die Here en dat die belofte nagekom moet word deur die nasade en dit is wat ons doen – en as enigiiemand vir my se ek mag nie my geloof beoefen/uitleef nie kan hy in sy dinges in vlieg want dit wys sy tekort aan insig.

carel ·

Oja soos elke jaar – was ek gister by die Vootrekkermonument en iets wat my opgeval het is dat die afrit na die monument vanaf die N1 gesluit was, ook vanaf Fonteine se kant af – weet iemand waarom dit toe was – ek kon geen ongeluk op die pad sien nie?

Dit is nogal baie verdag – dit lyk amper of iemand ons probeer weg hou het van die monument af??

Jammer jul dom goed ons ken die ander roetes…..

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.