Nuuskommentaar: Kleptokrasie, nepokrasie, sekurokrasie…

President Jacob Zuma op 17 Februarie 2015 tydens die parlementêre debat oor die staatsrede Foto: Nardus Engelbrecht/SAPA

President Jacob Zuma op 17 Februarie 2015 tydens die parlementêre debat oor die staatsrede Foto: Nardus Engelbrecht/SAPA

’n Briefskrywer in die plaaslike media beskuldig politieke partye en kommentators dat hulle kleinlike politiek bedryf om die publiek negatief te stem. “Alle objektiwiteit en verantwoordelikheid word klaarblyklik oorboord gegooi om korttermyn- politieke punte aan te teken. Kiesers word gekonfronteer met ’n skrikwekkende, surrealistiese tafereel wat skynbaar geen einde het nie. Hulle word blote toeskouers wat moet toekyk hoe ons politieke instellings, implisiete grondwetlike waardes en beskaafde norme in die vlamme van politieke opportunisme verbrand,” skryf die briefskrywer onder meer.

Terwyl almal wat genoem word, stellig nie bo kritiek verhewe is nie, het dit ook tydens die jongste staatsrede (wat die NG Kerk as laagtepunt beskryf het) en debat wat gevolg het, duidelik geword dat daar twee uiteenlopende persepsies oor die land is. Die een is die “goeie storie” wat die ANC probeer opdis, die ander is die verhaal van verval waarop opposisiepartye verstaanbaar fokus (en die president hom ’n papie lag).

Maar waar laat dit die kommentators?

Elke kommentator het sy eie stelreëls – dit wat vir hom belangrik is soos vakkundige en objektiewe suiwerheid, of eie ideologiese doelwitte, of bloot die aanwend van truuks wat hy weet die lesers op massa-skaal trek.

Maar wat ’n kommentator veronderstel is om te doen, is om ’n objektiewe ontleding te doen aan die hand van feite – in ag genome kommentators het nie ’n hele intelligensiediens as rugsteun met feite en vertolkings nie.

Dit verg harde werk, en heelwat navorsing – navorsing wat dikwels net geen sin maak nie.

Moet ’n kommentator, soos die briefskrywer hierbo, die prentjie wat geskets word as ’n “skrikwekkende, surrealistiese tafereel”, ’n ander prentjie opdis as die NGK Kerk se moderamen soos volg op die staatsrede en verbandhoudende gebeure reageer?:

“Met die staatsrede… het ons land waarskynlik sy heel diepste laagtepunt in die bestaan van die jong demokrasie beleef. In die staatsrede en die gebeure van die 12de [Februarie] was die ononderhandelbare waardes (vir ons as kerk ook die Bybelse waardes) van geregtigheid, menswaardigheid en versoening in gedrang.

“Die president het die landwye gebrekkige dienslewering wat mense se lewens onmoontlik maak en tot groot onrus en geweld gelei het, geïgnoreer. Die gewelddadige aanvalle teen buitelanders is nie bespreek nie. Die krete uit die samelewing oor die onderwys is gesmoor met stilte daaroor. Die toenemende geweld deur en krisis in die SAPD, wat ons mense moet beskerm, was nie op die radarskerm nie. Daar was geen geluid van omgee nie. (Plaasaanvalle kon met vrug hierby gevoeg gewees het).

“Die grootste probleem met die toespraak, egter, het te doen gehad met die feit dat die president self – en daarom ook per implikasie die regering (en sy party wat dit al oor jare duld) – nie onbesproke in integriteit voor die nasie gestaan het nie. Geen regeringsvorm of finansiële beleid kan tot goeie resultate bestuur word as die bestuurders daarvan self korrup en onbevoeg is nie.

“Die geweld en chaos met die aanvang van die staatsrede moet daarom in die lig hiervan gesien word. Die EFF se optrede word nie hiermee goedgepraat nie. Ook nie die feit dat ander partye die byeenkoms verlaat het nie. Wat egter begryp moet word, is dat die president en regering se eie optredes en bestuur, hulle ooglopende gebrek aan insig in die lotgevalle van miljoene in ons land, hulle argeloosheid met die waardes van die grondwet, geboorte gee aan hierdie soort van optrede – of dan ten minste die verskoning in die hand werp om tot wetteloosheid en geweld oor te gaan.” (Lees die volledige verklaring).

Daar is egter ’n ander, vir baie onverklaarbare, prentjie. Terwyl Suid-Afrikaners gewoond geraak het daaraan dat die land, veral sedert die bewindsaanvaarding van pres. Zuma, skouspelagtig op bykans enige saakmakende indeks agteruit boer, was daar die afgelope twee jaar twee uitsonderings.

Eers is die tempo waarop Suid-Afrika op die korrupsiepersepsieindeks tuimel, gestuit, en met die jongste indeks het die land selfs sy posisie met enkele plekke verbeter. Met Nkandla wat in die lug hang, en die land wat selfs swakker as Nigerië en die DRK op die omkoopindeks vaar, lyk dié ommekeer verdag. In die media is dié nuutste bevinding min of meer verswyg, want enigeen wat dit as feit aanbied loop die gevaar om sy eie geloofwaardigheid in te boet. Dit handel immers oor persepsies.

Byna net so vreemd. Binne enkele jare het Suid-Afrika van die mees persvrye land op die kontinent, en 21ste in die wêreld, teruggeval tot die 52ste plek. Verskeie Afrikalande was toe meer persvry as Suid-Afrika.

Die hoofrede wat Verslaggewers Sonder Grense aangetoon het vir die land se kreeftegang was die sogenaamde snoerwet, maar sprake van ’n mediatribunaal, en Julius Malema se “gasvrye” hantering van ʼn BBC-joernalis het ook agteruitgang op die indeks verseker.

Maar verlede jaar “verbeter” Suid-Afrika se posisie skielik tot die 42ste posisie. VSG verduidelik dit was grootliks omdat Zuma “geweier” het om die snoerwet te teken. (VSG was vooraf reggehelp dat dit bloot vir tegniese wysigings na die parlement terugverwys is).

Vanjaar “verbeter” die land se posisie verder tot die 39ste posisie, en is Suid-Afrika skielik meer persvry as selfs die VSA. Toe bedank hierdie kommentator as lid van die groep wat onder meer jaarliks die vraelys oor die stand van persvryheid in Suid-Afrika invul – ’n min of meer daglange taak.

Hierdie nuutste plasing op die indeks word bekend gemaak terwyl die seinblokkering in die parlement plaasvind. Dit vind plaas na ’n uittog van mense uit die Independent-mediagroep na die groep oorgeneem is deur eienaars wat die ANC baie simpatiek blyk te wees, en van die grootbase ’n ANC-byeenkoms geklee in ANC-T-hemde (plus ander klere darem ook) bywoon.

Dit vind plaas te midde van die storm weens die regering wat ’n buite-proporsionele groot deel van sy advertensiebegroting in die Guptas se New Age stort. Die “vooruitgang” op die indeks vind plaas terwyl die SAUK-TV onder andere beeldmateriaal toon waar ’n groot deel van die SAUK se topbestuur ’n gebedsbyeenkoms bywoon om te bid vir Zuma se herverkiesing in Bloemfontein, waar die SAUK-TV die uitjouery van Zuma tydens oud-pres. Nelson Mandela se gedenkdiens in Soweto uitsensor, en die aand met staatsrede die TV-kameras op die speaker gerig hou terwyl die EFF uitgesmyt word.

Sonder bewyse is dit onmoontlik vir ’n kommentator om te sê Suid-Afrika se onverklaarbare verbetering op sekere indekse hou met diplomatieke lobbywerk verband. Maar iewers is iemand nie objektief nie, en hierdie kommentator wil nie graag daardie een wees nie.

Watter beeld moet die kommentator voorhou as die woordeboek kwalik kan voorbly met nuutskeppings soos kleptokrasie, nepokrasie, sekurokrasie, Zumafisering en talle ander?

Toegegee, die tafereel wat geskets word lyk surrealisties. Vir enigeen met ’n waardestelsel is dit ondenkbaar dat dit so gaan. En dat die president die ontsteltenis hieroor so komies vind dat hy daaroor lag – iets wat nogal sterk herinner aan koningin Marie-Antoinette wat glo gesê het as die armes nie brood het om te eet nie, laat hulle dan koek eet – dit terwyl sy self in absolute luukse gebaai het – klink net onvanpas.

En alles wat verkeerd loop is apartheid se skuld, of kolonialisme, of sommer Jan van Riebeeck (en deesdae sommer die arme kokkerotte ook) se skuld.

Suid-Afrika is lank nie die eerste land waar die, by terugskoue, onmoontlike gebeur het nie. Duitsland het in die aanloop tot die Tweede Wêreldoorlog heel demokraties Adolf Hitler tot diktator van die land verkies. Stemme wat in Joodse ouetehuise en -hospitale uitgebring is, toon dat die meeste Jode, minstens plek-plek, ook die “ja”-stem uitgebring het.

Natuurlik is daar goeie stories ook. Daar is gekwalifiseerde goeie stories ook, omdat nie al die “goeie stories” net goeie gevolge het nie soos om ’n land afhanklik te maak van maatskaplike toelaes.

Maar die ou spreekwoord lui immers: ’n ketting is net so sterk soos sy swakste skakel. En as die swakste skakel boonop die heel boonste skakel in die ketting is, dan is dit problematies.

Kommentators kan nie meer vir die land ’n prentjie van melk en heuning voorhou, terwyl dit so gaan nie. Om te wys op die buitengewone welvaart wat ’n deel van die bevolking beleef, is een ding, maar om dit voor te hou as die norm oor hoekom dit eintlik goed gaan is, in die woorde van die NG Kerk ’n “ooglopende gebrek aan insig in die lotgevalle van miljoene in ons land”. Meer. Dit getuig van die ongevoeligheid waarteen die Bybelboek Jacobus dit het: “Ek was honger en…”

’n Kommentator wat bydra daartoe dat volstruispolitiek vastrapplek kry, het net so min ʼn bestaansreg as die een wat ʼn donker wolk se silwer randjie nie wil raaksien nie.

Dit wat vandag afspeel, surrealisties of te nie, is môre deel van die geskiedenis. Dan kan dit nie meer verander word nie. Maar mag dit so wees dat die kommentators darem soveel insigte in gister se gebeure geplaas het dat gister die nodige lesse kan oplewer om aan ’n beter toekoms te bou. Dis immers die Solidariteit Beweging se uitgangspunt, en dit behoort ons elkeen s’n te wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

boer ·

Ja, dis baie mooi om so te kan skryf, redeneer, uiteensit. Maar dit help my net mooi niks. Daar kort ‘n antwoord, ‘n oplossing. Dit kan nie so aanhou nie. Help ons, DA, Solidariteit, AfriForum, VryheidsFront Plus, …God.

Johan van Rensburg ·

En steds lag Zuma.Toon gen bekommernis van hoe ons land al dieper in die gemors verval.

Pieter Bender ·

Goeie naand Herman.

Dit is n voorreg om jou artikels te kan lees.

Om jou artikels te lees verbeter drie aspekte in my lewe…my vermoee om beter te kan redeneer, n breer perspektief rakende politiek en my taal-Afrikaans.
Ek vind jou artikels insiggewend.

Byvoorbaat dankie vir die artikels wat nog geplaas gaan word. Verskoon die afwesigheid van my leestekens.

Groete…

Pieter

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.