Nuuskommentaar: Kom ANC-vriend Kuba in uit Amerikaanse koue?

Argieffoto

Argieffoto

In Suid-Afrika is soveel ontwikkelings soos die Openbare Beskermer se jaaroorsig, die kommerwekkende woelinge binne die SAID en die omstrede Ellen Tshabalala se bedanking as voorsitter van die SAUK-raad wat roep om ʼn nuuskommentaar, maar die verwikkelinge tussen Kuba en die VSA gaan so ’n groot invloed op Suid-Afrika hê dat dit nou eers onder die loep geneem moet word.

Die ANC het reeds sy blydskap uitgespreek dat die VSA na meer as 50 jaar van geen amptelike betrekkinge met Kuba nie, nou in die rigting beweeg van betrekkinge normaliseer. Suid-Afrika onder die ANC het immers uit sy eie geldelike nood R350 miljoen afgeknyp om Kuba ekonomies aan die dryf te help hou.

Die nuus is ook deur ʼn groep links-liberales in Suid-Afrika verwelkom. Die Burger neem in sy hoofartikel ’n verstandiger standpunt in. Hoewel die koerant die genormaliseerde betrekkinge verwelkom, is dit omdat geglo word dit sal uiteindelik tot die val van die kommunistiese diktatuur in Kuba lei.

Maar gaan die VSA nou werklik betrekkinge normaliseer met ’n eilandstaat wat hulle as ’n argiefstuk uit die tyd van die Koue Oorlog beskou? Kuba is immers een van die min oorblywende “suiwer” kommunistiese state.

Die antwoord is hoogstens deel “ja”. Pres. Barack Obama, wat op die oomblik besonder ongewild in die VSA is en pas, ironies, op die Republikeine moes staatmaak om die nuwe Amerikaanse begroting goed te keur om ’n herhaling van die “shut down” te verseker, hét bepaalde uitvoerende funksies waar hy dinge sonder die goedkeuring van die kongres kan aanpak. Maar ’n groot deel van sy voorgenome normalisering van verhoudinge met Kuba hang van kongresgoedkeuring af, en wanneer kongres volgende jaar weer byeenkom, het die Republikeine ’n meerderheid in beide huise.

Verskeie peilings oor veral die afgelope dekade toon dat die meerderheid  Amerikaners ten gunste van die normalisering met Kuba is. Gallup wys egter daarop dat die meerderheid Republikeine daarteen gekant is.

Uit Republikeinse geledere het reeds stemme opgegaan dat Obama oor sy Kubaanse avontuur in die bek geruk gaan word. Dit handel heel moontlik nie net oor ʼn afkeer in die Castro-dinastie nie (daar is bykans ’n miljoen Kubaanse vlugtelinge in die VSA, insluitend die Castro’s se suster). Die Republikeine, wat reeds voor die onlangse midtermynverkiesing die Huis van Verteenwoordigers beheer het, is hoog de josie in vir Obama omdat hy, soos hulle dit sien, sy uitvoerende magte oorskry het om sekere van sy opvattings op die Amerikaners deur te stoomroller. Daar is trouens sprake dat Obama dalk selfs in ’n staat van beskuldiging geplaas kan word hieroor.

Op die oomblik is dit moeilik om ’n suiwer idee te vorm oor hoe sake gaan ontwikkel, omdat die Amerikaanse pers nog besig is om die saak, soos dit in die VSA bekend staan, te “overanalyze”. Lees gerus die Los Angeles Times se hoofartikel hieroor en die CSM se opvolgartikel.

’n Ander faktor speel egter ook ʼn rol. Terwyl die ganse wêreld wysgemaak word dat dit die VSA (of dan Obama) is wat die toenadering soek en basies “skuld erken” oor die sanksies en ander strafmaatreëls teen Kuba, glo baie Amerikaners die toenadering kom van Kuba se kant af. In ’n omvattende artikel beredeneer die CS Monitor die rol wat die dalende olieprys op die ekonomie van Venezuela het, en so weer Venezuela se vermoë om die Kubaanse ekonomie te dra, in die wiele te ry.

Die kort en die lank is dat Kuba se eie kommunistiese ekonomie nog nooit die land in staat gestel het om die kommunistiese paradys te word wat die Castro’s in die oog gehad het nie. Aanvanklik is die Kubaanse ekonomie gedra deur die Sowjet-Unie, wat goedkoop olie verskaf het en suiker teen ’n verhoogde prys ingevoer het. Met die uiteenval van die Sowjet-Unie en die instorting van kommunisme wêreldwyd, is Kuba deur ’n krisis getref, waaroor die Kubaanse regering steeds ’n digte sluier van geheimhouding trek. Daar word vermoed dat baie mense in daardie periode tussen 1989 en 1999, bekend as die “spesiale periode,” van die honger gesterf het. Die Kubaanse ekonomie het met 25% gekrimp.

Die ridder op die wit perd wat Kuba se sosialistiese “paradys” verder sou dra, was Hugo Chavez, Marxistiese president van Venezuela. Volgens skatting het Venezuela se bydrae tot die Kubaanse ekonomie jaarliks tussen $5 miljard en $15 miljard bedra (wat die Suid-Afrikaanse bydrae onbenullig laat klink). Dit is ongeveer 15% van Kuba se BNP. Onder die hulp was spotgoedkoop olie aan Kuba. In ruil het Kuba mannekrag beskikbaar gestel soos dokters en ander mediese personeel om inhoud aan Chavez se eie “sosialistiese paradys” te skenk.

Maar toe plof die Venezolaanse sosialistiese ekonomie in, en Chavez sterf. En toe tuimel die olieprys boonop.  Venezuela het nou reuse kragonderbrekings, en tekorte aan noodsaaklike goedere en lewensmiddele. Onlangs het Chavez se eertydse spesiale vriendin op Facebook geadverteer dat sy enigeen vra om haar te help om noodsaaklike medisyne in die hande te kry. Die afgelope maande het die geldeenheid met 30% getuimel.

Kortom, Venezuela kan nie meer help nie. Selfs al sou Rusland wou help, is die land se ekonomie nou erg in die knyp. In die afgelope maande het die waarde van die roebel in ’n vryval gegaan, en met ongeveer die helfte in waarde gedaal. Boonop knyp die verskerpte sanksies Rusland, en pres. Wladimir Poetin, in ’n poging om sy mense moed in te praat, praat nou erg bont en vererger net die situasie.

Die afleiding dat die toenadering dus eintlik van Kuba se kant kom, en dat die afgelope 18 maande intensief agter die skerms (eintlik in diepe geheimhouding) onderhandel is met selfs die pous wat betrokke was, lyk dus heel lewensvatbaar.

Voor die kommunistiese oorname in Kuba is die land se ekonomie grootliks deur die VSA, of dan Amerikaners, gedra. Nie alleen is intensief in die nywerheid belê nie, maar baie duisende Amerikaanse toeriste het jaarliks die paradysagtige vakansiebestemmings op Kuba besoek. Maar Kuba was geen demokrasie nie, en die Baptiste-familie het die eiland met ’n ysterhand regeer.

Indien die huidige inisiatief wel van Kuba se kant gekom het, kan verwag word dat daar sekere voorwaardes sou wees wat eintlik die VSA se algehele buitelandse beleid kenmerk. Hoe meer demokraties ’n land is, hoe hartliker is die Amerikaanse regering. Hoe minder korrup, hoe vriendeliker is die Yanks.

En die Yanks hou nie daarvan dat hul buitelandse beleggings genasionaliseer word, soos wat in Kuba gebeur het nie.

Maar Kuba is die tiende mins persvrye land ter wêreld na hy van die vorige jaar af boonop agteruit geboer het. Dit lyk dus nie baie waarskynlik dat pres. Raul Castro se liberaliseringsinisiatiewe tot dusver veel om die lyf gehad het nie. Kuba is die 63ste mees korrupte land in die wêreld – aansienlik meer korrup as Suid-Afrika. Kuba is in 1982 tot die VSA se lys van lande gevoeg wat terrorisme steun. Vandag bestaan die lys uit net vier lande, Kuba, Iran, Soedan en Sirië.

Om die Republikeinsbeheerde kongres te oortuig om die normaliseringsplanne in Kuba te steun, sal Obama die lede moet oortuig dat Kuba ook van sy kant toegewings maak. Obama se eie gewildheid is te ver daarmee heen om met wollerige stories aangesit te kom dat dinge “vanself” sal regkom as die VSA net ophou om so dwars te wees.” Kuba het immers bewys dat hy nie aarsel om sy eie mense se lewens op te offer om kommunisme in stand te hou nie.

Die ANC gaan waarskynlik ’n hele ruk moet wag voor Kuba nie meer bakhand sal kom staan nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: SA-nuus

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae