Nuuskommentaar: Patriotiese nuus

SAvlagIs patriotiese nuus noodwendig goeie nuus?

Die vraag is (opnuut) op die tafel na pres. Jacob Zuma in antwoord op ‘n vraag in die parlement gesê het sy oproepe om meer patriotiese nuus is nie ‘n poging om by die redaksionele inhoud in te meng nie, en dat die ontbloting van korrupsie op ‘n regverdige en gebalanseerde wyse ook tel as patriotisme.

Waarnemers sal min of meer saamstem dat die prez se meer gebalanseerde siening ‘n aanpassing is op vroeëre uitsprake, onder meer toe hy kommunikasiekundestudente toegespreek het en ‘n ideaal gestel het oor wat hy as goeie joernalistiek beskou het.

Uit regeringskringe is dit al dikwels duidelik gemaak dat beriggewing wat fout vind met die ANC-regering as onpatriotiese optrede beskou word. Die teenargument is dat dit juis op lojaliteit teenoor die land neerkom om daarop te wys wanneer die regering droogmaak.

En met ‘n naderende verkiesing wat vir die ANC baie belangrik is, is ‘n beeld van ‘n land waarvan die soustreinwiele loskom ‘n klip in die maag.

In heterogene lande is die vraag oor wat patriotisme is gewoonlik ‘n nog moeiliker vraag. Let maar op hoeveel politieke partye het gewaag om enigsins by wyse van mediavverklarings kommentaar op die afloop van die Boeremagverhoor te lewer. Harde vrae word gevra oor die wysheid van die DA om die wysingswetsontwerp op gelyke indiensneming – die wet wat rasbegunstiging (affirmative action) in die wetboek reël. Is die DA nie nou dislojaal teenoor daardie kiesers wat die party van ‘n nul tot die amptelike opposisie gevoer het nie?

Die soort vrae word oor die hele wêreld gevra. Is die Tibettane wat ongelukkig is dat hulle in hul eie land vreemdelinge gemaak word onpatrioties? China se hantering van minderhede kom gereeld onder die skoot van instansies soos die Unrepresented Nations and Peoples Organisation (UNPO), en pas het mense, vermoedelik Oeigoere – ‘n Moslem-etniese minderheid – in Beijing in ‘n skare op die Plein van Hemelse Vrede, Tiananmen-plein, ingery. Terwyl die gebruik van terreur as manier om minderheidsregte op te eis selde veel internasionale steun geniet, loop sentimente vir minderhede self diep – van die lot van die Batwa (Pigmee) tot die San in Botswana, die Tibettane en vele meer.

Hier te lande het die Hervormde Kerk onlangs ‘n dag van verootmoediging gehou. Onder die talle kwessies soos die droogte en plaasmoorde wat aan die bod gekom het, is ook geskryf dat ‘n toenemende aantal lidmate soos vreemdelinge in hul eie land voel. Hierdie gevoel van vervreemding in eie land blyk ook sterk uit die sosiale netwerk-gesprekke van die Bruin Belangebeweging (BB). Is dit nie eerder ‘n geval van die regering wat dislojaal teenoor minderhede is nie, as dat lede van minderhede dislojaal teenoor die land is nie? Die grondslag van demokrasie is immers dat die regering in algemene belang moet regeer.

Mense reageer egter selde ooreenkomstig hul eie oortuigings, hetsy deur onkunde of weens ander oorwegings. Terwyl baie Amerikaners die tea party-faksie binne die Republikeinse Party verkwalik vir die onlangse “shut down” en dié groep geknou is danksy die media se uitbeelding oor wat gebeur het, dui die mees onlangse Rasmussen-peiling aan dat wanneer Amerikaanse kiesers se beginsels self getoets word, dan stem 42 persent met die tea party saam, presies net soveel as wat met die beginsels van pres. Barack Obama saamstem. Maar onder presies dieselfde ondervraagdes meen net 34 persent die tea party is goed vir die VSA, teenoor 43 persent wat meen dit is sleg vir die land. Soos Obalix sou sê: “These Americans are crazy.”

Maar is dit anders elders ter wêreld – ook hier in Suid-Afrika?

Vir ‘n politieke party wat wye, algemene steun in Suid-Afrika wil verwerf, is dit byna net so moeilik as om ‘n klomp Smarties so in die lug te gooi dat hulle mooi gesorteer by mekaar gaan lê.

Ook in Suid-Afrika is dit duidelik dat ‘n baie groot deel van die kiesers min erg daaraan het of die partye wat hul steun kry – selfs hoogs lojale steun – se beginsels hoegenaamd met hul eie beginsels ooreenstem. Partye wat ‘n skerp klem plaas op beginselkwessies, reduseer maklik tot nispartye.

Kennis deur goeie, goedgebalanseerde en onbevoordeelde inligting is die eerste stap om kiesers as goed ingelig toe te rus. En nie alle media in die land is lojaal aan die reg van burgers om op dié wyse ingelig te word nie.

As die kieser dan keuses volkome in stryd met sy eie beginsels maak, dus willens en wetens dislojaal aan homself is, is dit die persoon se reg.

In hierdie taai en dikwels onlogiese omgewing berei partye voor vir volgende jaar se verkiesing, en dit is geen maklike taak nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, SA-nuus

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae