Nuusleser Andrew Barnes verlaat eNCA

Andrew Barnes. Foto: Twitter

Andrew Barnes. Foto: Twitter

Die uitsaaier eNCA het Donderdag aangekondig dat Andrew Barnes, senior nuusleser en mede-aanbieder van Newsday op e.tv en eNCA, sy bedanking ingedien het.

Die uitsaaier het gesê Barnes verlaat eNCA aan die einde van April “om sakebelange oorsee na te streef”.

“Dit was ʼn ongelooflike reis hier by ‘e’,” het Barnes gesê. “Ek kon my kinderdroom uitleef om ʼn TV-nuusleser te wees en te berig uit plekke soos Washington DC, New York en Londen.”

Barnes was 15 jaar lank betrokke by eNCA.

“Ná 23 jaar in die uitsaaiwese verlaat ek Suid-Afrika saam met my lewensmaat om ʼn nuwe lewe in my gunsteling deel van die wêreld, Suidoos-Asië, te begin. Ek gaan my jarelange ervaring wat ek in opleiding en ontwikkeling opgedoen het, gebruik om my eie onderneming in Kambodja op die been te bring. Alhoewel ons die land sal mis, is ons opgewonde dat die tyd aangebreek het om ons vlerke te sprei.”

Mapi Mhlanga, nuusdirekteur van eNCA, het Barnes bedank vir sy 15 jaar van toewyding en professionalisme. “Andrew sal gemis word en dit is moeilik om die Kaapstad-kantoor sonder hom in te dink. Ek is oortuig sy nuwe projek sal suksesvol wees.”

Barnes het vroeër vanjaar hoofopskrifte gehaal toe hy Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, gespot het oor haar uitspraak van die Engelse woord “epitome” terwyl sy die 2015-matriekuitslae in Januarie bekend gemaak het. Tugstappe is teen hom gedoen en hy moes onder andere publiek op die lug om verskoning vra en hy is vir ʼn tyd lank verhoed om op die lug te verskyn.

Michelle Craig, mede-aanbieder van NewsDay van 13:00 – 16:00 op kanaal 403, sal die program tydelik alleen aanbied, het eNCA bygevoeg.

Lees alle vorige berigte oor Andrew Barnes op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

xa ·

So gaan almeer mense wat belasting betaal emmigreer uit hierdie banannarepublic, en dan gaan hulle maar peanuts moet uitdeel as social grants.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.