Nuusmaker van die jaar aangekondig

Argieffoto

President Cyril Ramaphosa is Donderdag deur die Nasionale Persklub as hul topnuusmaker van 2018 aangewys.

Hierdie jaarlikse toekenning word sedert 1980 deur dié klub toegeken. Benoemings word gegrond op die hoeveelheid mediadekking wat die wenner in ʼn kalenderjaar ontvang het sowel as die impak daarvan. Die Persklub het Donderdag in ʼn verklaring verduidelik dat werkende joernaliste individue vir die titel benoem waarna die finale besluit in die hande van die klub se uitvoerende komitee gelaat word.

Die Nasionale Persklub is die grootste klub van sy soort in Suid-Afrika wat werkende joernaliste verteenwoordig.

Volgens Jos Charle, voorsitter van die klub, is Ramaphosa ʼn prominente figuur sedert sy inhuldiging as Suid-Afrika se vyfde president verlede jaar.

Charle erken dat die besluit om Ramaphosa as nuusmaker aan te wys ’n maklike een was aangesien slagspreuke soos die “New Dawn”, “Ramaphoria” en “Thuma Mina” sedertdien die nuus in 2018 oorheers het.

“Alle oë is nou op Ramaphosa om te sien hoe hy ’n beskadigde landstoestand asook die politieke omgewing wat kabinetskommelings, staatskaping, korrupsie asook ondernemings in staatsbesit insluit, gaan hanteer,” sê Charle.

Voormalige nuusmakers soos deur die Persklub aangewys, sluit in: Die voormalige presidente, Jacob Zuma, Nelson Mandela, FW de Klerk en Thabo Mbeki asook Charlize Theron en die hutsmerk #FeesMustFall.

“Gupta Leaks” het verlede jaar koning gekraai. Die jaarlikse nuusmaker van die jaar-funksie sal na verwagting later vanjaar in Pretoria plaasvind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Jannie ·

BWAHAHAAA!!! LOL!!! Nie geweet sirkusnarre kry ook toekennings nie!!!

Nico ·

Lys bietjie die vorige jare se nuusmakers van 1980 af. Sal baie interessant wees.

ne ·

Dalk is CR volgende jaar weer die nuusmaker – maar vir heeltemal ‘n ander rede.

Cilliers ·

Cyril, as jy daardie aand wat jy die toekenning ontvang jou toepraak lewer, lees ook sommer die misdaad statistiek, met vermelding en natuurlik die syfers vir plaasmoorde.

Dankie, die uwe

Philip ·

Die Persklub bestaan ook seker deesdae deur CR (anc) ondersteuners. Ai die wêreld lag vir hierdie banana republiek met als wat hier aangaan. Wag net vir CR se naam wat nog moet opkom by Zondo kommissie.

EK wonder ·

5de president vanaf 94.
5de president aangaande die ANC.

Ons het egter heelwat presidente voor ‘94 ook gehad indien sekere mense nie bewus is daarvan nie.

Stoffel ·

Onthou die ANC se kalender betreffende SA dateer slegs van 1994 af.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.