Nuwe adjunk-OB benoem

Adv. Kholeka Gcaleka is benoem as nuwe adjunk-OB. (Foto: Twitter)

Adv. Kholeka Gcaleka is uit ʼn kortlys van agt kandidate vir die pos van nuwe adjunk- Openbare Beskermer (OB) benoem.

Die portefeuljekomitee oor justisie en korrektiewe dienste het gister beraadslaag nadat onderhoude met die kandidate vroeër gedoen is.

Die komitee het aanvanklik 29 benoemings of aansoeke ontvang, waarvan drie dit teruggetrek of van die hand gewys het. Uit die oorblywende 26 kandidate het ses nie voldoen aan die vereistes vir die pos nie en is dus glad nie daarvoor oorweeg nie.

Verlede maand is agt kandidate vir die kortlys bekend gemaak. Hulle was advokate Shadrack Nkuna, Gcaleka, Moshoeshoe Moshoeshoe, Puleng Matshelo, Lwazi Kubukeli, Noxolo Mbangeni, Sonwabile Mancotywa, asook Buang Jones.

Die kandidate se akademiese kwalifikasies is nagegaan en hulle moes sekerheidsklaring ondergaan, waarna Mancotywa aan die proses onttrek het.

Die kandidate se CV’s is ook op die parlement se webwerf bekend gemaak en die publiek kon insette daaroor lewer.

“Die komitee verwelkom die beduidende openbare belang in die proses. Die komitee het ook ingestem om die openbare deelname te fasiliteer sodat die proses deursigtig en oop is. Ons is dank verskuldig aan die publiek vir hul bydrae tot die proses wat gehelp het om dié benoeming in die nasionale vergadering te maak,” het Bulelani Magwanishe, komiteevoorsitter, gesê.

Gcaleka is ʼn voormalige regsadviseur van oudmin. Malusi Gigaba en was in dié pos toe die howe wesenlik bevind het dat Gigaba onder eed gelieg het.

City Press het vroeër berig die DA en EFF het ten sterkste kapsie gemaak teen Gcaleka en het Moshoeshoe vir die pos ondersteun, terwyl ANC-LP’s haar as voorkeurkandidaat gesteun het.

Die EFF het Gcaleka selfs vóór die onderhoudproses as kandidaat verwerp, terwyl die DA se Glynnis Breytenbach haar “verdedigend en emosioneel” genoem het. LP’s van albei partye het hul “beswaar” teen en “verwerping” van Gcaleka as kandidaat te kenne gegee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
André-Chris

En dit is nou Woensdag, Black Friday is eers oormore, hoe donkerder kan die nuusprentjie dan nou raak voor die groot winskopiedag?

Genieve

Andre-Chris Hahahah lekker lag ek vir jou..sy was Gigaba se regsadviseur

JohanR

Blykbaar wou geen ander politieke party die een he nie, maar die ANC het haar deurgedruk. Nou is daar ‘n ANC Openbare Beskermer en ‘n ANC Adjunk. Die sterre hulp ons!! Ons kan seker maar net dankie se dat die nie Buang Jones was nie?

Dewald Reynders

Geen wit kandidaat oorweeg nie ?? Baie duidelik as deur kortlys kyk. Sou graag wou weet wat rede is ?? Almal skree ten hemele maar die ANC kry dit weer eens reg…. O a eh eh….

George in Bloem.

Hahahahahaha!!! Spul onbevoegde grapgatte.