Nuwe adjunk-visekanselier vir die Puk

Prof Daryl Balia (Foto verskaf deur die NWU)

Die Raad van die Noordwes-Universiteit het ʼn nuwe adjunk-visekanselier vir die Potchefstroomkampus aangestel.

Dr Bismark Tyobeka, voorsitter van die NWU Raad, het in ʼn verklaring gesê prof Daryl Balia, uitvoerende dekaan van die NWU se Fakulteit Teologie, is as adjunk-visekanselier: Toegewysde Funksies en Kampusbedrywighede, Potchefstroomkampus aangestel.

Hy sal die leisels oorneem by prof Fika Janse van Rensburg, wat sy termyn aan die einde van 2018 voltooi. Balia se aanstelling is vir ’n vaste termyn van vyf jaar, met ingang van 1 Januarie 2019.

Balia, ’n gesoute kerkhistorikus, is vroeër vanjaar as uitvoerende dekaan by die NWU aangestel. Sy loopbaan sluit onder andere in dat hy die dekaan van die Fakulteit Teologie aan die Universiteit van Durban-Westville was (waar hy die Sentrum vir Konstruktiewe Teologie begin het); dat hy die internasionale direkteur by die Universiteit van Edinburgh was; asook die direkteur van institusionele beplanning, transformasie en gehalteversekering van die Sentrale Universiteit van Tegnologie in die Vrystaat, aldus die verklaring.

Hy het ook as afdelingshoof vir beheer by die Instituut vir Sekerheidstudies in Kaapstad, as die algemene sekretaris vir die International Association for Religious Freedom in die Verenigde Koninkryk, en as die hoofdirekteur vir die Openbare Dienstekommissie gedien.

Prof Balia het omvattende ervaring in projekbestuur, wat insluit dat hy aan die voorpunt van die organisering van nasionale en internasionale gebeurtenisse is. Hy het reeds verskeie boeke en verslae gepubliseer en het talle artikels en boekhoofstukke in ander publikasies bygedra.

Tyobeka het Balia met sy aanstelling gelukgewens en hom alles van die beste vir hierdie nuwe uitdaging toegewens.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Gemaskerde Sopbeen ·

Maar is sy KULTUUR en MOEDERTAAL Afrikaans? Dan moet julle nie tjank as hy dit nie bevorder, beskerm en laat groei soos dit hoort nie…..

Boerseun ·

@ Gemaskerde sopbeen, hoekom sal hulle iemand aanstel wat Afrikaans gaan bevorder en vertroetel as die EFF begin kitaar slaan daar? Geen manier…

Gemaskerde Sopbeen ·

Boerseun, dis presies my punt. Onder die dekmantel van “inklusiwiteit” sit die NWU (‘skuus amper sê ek PUK) se bestuur VOL mense wat nie Afrikaans praat nie, nie Afrikaans dink nie, nie Afrikaans ondersteun nie, nie ‘n Afrikaanse kultuur het nie……….en dan wonder mense hoekom die “laaste Afrikaanse Universiteit” in SA besig is om sy gat te sien….?? As jy Afrikaans wil bevorder en beskerm….stel Afrikaanse mense aan….hulle is nog die land vol.

Boerseun ·

Sopbeen ek is verbaas dat die PUK so lank gehou het as laaste Afrikaanse bastion. Nooit gedink ons sal hierdie verval beleef nie.

Boerseun ·

Ek is verbaas dat die PUK so lank gehou het as laaste Afrikaanse bastion. Nooit gedink ons sal hierdie verval beleef nie.

Bossie ·

Ag my hel, wat laat julle dink die NWU wil Afrikaans bevorder?

Gwen ·

Dit is lank reeds bekend, maar die Puk is op sy laaste asem. Almal wat aktief aan die ondergang meegewerk het (soos prof. Fika, en dr. Eloff) behoort die Afrikanergemeenskap om verskoning te vra.

Vaarwel Afrikaans as onderrigtaal aan openbare universiteite.

Gemaskerde Sopbeen ·

Om verskoning vra help nie? Daar is ‘n gesegde wat lui….”dis altyd maklike om om verskoning te vra, as om toestemming te vra….” Die ruggraatloses wat eintlik maar net hulle pensioenuitbetalings beskerm het…….het maar net agter hulle vorige president aan gehandel…..oorgegee, gerittereer, mooi gepraat, gesmeek, onderhandel, afgestaan, opgegee, gebuig, aanbid, heuningkwas geswaai en uiteindelik gevlug voor die resultate van hulle aksies. Shame man….

Gwen ·

@Gemaskerde Sopbeen, ek hoor jou, maar as ek hier sê wat ek wil sê vee hulle my kommentaar uit, en daarmee my stuiwer in die armbeurs.

Kom ons bou ·

En so word alles wat WIT en AFRIKAANS was vervang en vernietig ….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.