Nuwe Akademie-hoof wil groter bewustheid van Afrikaans en instelling skep

prof-anne-marie-beukes-sa-akademie-vir-wetenskap-en-kuns

Prof. Anne-Marie Beukes sal op 1 Junie die leisels oorneem as die nuwe uitvoerende hoof van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns. Foto: Verskaf.

Deur Alet Rademeyer

Prof. Anne-Marie Beukes is geen onbekende of onbeminde in taal- en akademiese kringe nie.

Daarom dat haar aanstelling vanaf 1 Junie as die nuwe hoof van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns wyd verwelkom word.

Beukes neem die leisels by die historikus dr. Dioné Prinsloo oor wat die pos vir twee termyne beklee het.

Beukes het baie jare aan die destydse Randse Afrikaanse Universiteit (RAU), later bekend as die Universiteit van Johannesburg, asook aan die Universiteit van Pretoria (UP) deurgebring. By elk van dié instellings het sy twee grade verwerf. Sy het ook in die eerste dekade van die nuwe Suid-Afrika in die staatsdiens gewerk. Sy is ook ’n voormalige voorsitter van die Afrikaanse Taalraad en het nege jaar op die Wêreldraad van Vertalers gedien, waarvan drie jaar as visepresident.

Sy beskou haar aanstelling by die Akademie as ’n “lekker idee aan die einde van ’n lang akademiese loopbaan”. Haar kontraktermyn is vir drie jaar en in dié tyd beplan sy om haar voete te vind en lekker in te klim by die werksaamhede van die Akademie.

Volgens Beukes sal sy haar laat rig deur die missie en visie van die Akademie wat gegrond is op die bevordering van die wetenskap, tegnologie en die literatuur in Afrikaans en die kunste, asook die bevordering van die gebruik en gehalte van Afrikaans (primêr binne Suid-Afrika).

Dit is egter vir haar belangrik dat uitvoering gegee word aan groter bewusmaking van Afrikaans by die breër publiek sowel as die Afrikaanse gemeenskap.

“Ons moet werk om te voldoen aan die groter behoefte wat daar is om meer van Afrikaans te weet.”

Beukes meen die opleiding van kinders en studente om in ’n veeltalige wêreld te kan werk en presteer, is van kardinale belang.

“In die woorde van Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, stem ek saam met hom dat ons nie net met onsself kan praat nie.”

Beukes voel ook baie sterk daaroor dat Afrikaans in die kennis- en tegnologie-era ook sy plek volwaardig in die kuberruim moet kan volstaan. Sy wys op die belangrike werk wat, onder meer Maroela Media en Viva in hierdie verband doen, asook die werk van die Taalkommissie.

Sy sê dis ook ’n drogredenasie dat alles in die wêreld net Engels is en dat alle navorsing of onderrig daarom ook net in Engels moet wees. Sy sê daar is wonderlike geleenthede, ook by die Akademie, vir studente om navorsing vir ’n meesters- of doktorsgraad in Afrikaans te doen en dit natuurlik ook internasionaal in Engels te laat publiseer. Volgens Beukes is een van die groot uitdagings ook om ouers bewus te maak om hul kinders in Afrikaans te laat onderrig en te studeer.

Beukes meen ook die wonderlike pryse waaronder die Hertzog-prys, wat sekerlik dié beroemdste prys van die Akademie is, moet ook vir jong akademici en navorsers ’n aansporing wees om in die taal te werk.

“ ’n Taal bestaan ter wille van mense. Dit bemagtig of ontmagtig mense. Ons moet die taal nie verabsoluteer nie en altyd onthou dat dit daar is ter wille van mense.”

Beukes se uitnodiging is daarom ook dat meer mense hulle moet vergewis van dit waarmee die Akademie besig is. “Kom ons vat hande en raak betrokke.”

Sy meen om groter bewustheid vir Afrikaans en die Akademie te skep, is een van die geringe aanpassings wat gedoen kan word om die webwerf van die Akademie ook in Engels beskikbaar te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Jane ·

Uitstekend prof Beukes dit is tyd om terug te slaan . tyd om dinge te doen wat vir ONS ook belangrik is . . ons taal en kultuur moet OOK respekteer word .. BAIE STERKTE.

Jerry ·

Die veeltalige kwessie moes lankal al op die agenda gewees het en nou dat dit wel op die agenda geplaas is, is dit n riem onder die hart om daarvan kennis te neem. Soos wat die tyd gaan aanstap, gaan meer en meer selfbeskikkende gekwalifiseerde Afrikaansprekende jeugdiges hulself selfbeskikkend in die buiteland wil vestig of in die buiteland wil werk vir voor die hand liggende redes en daarom is veeltaligheid een van die uiterse noodsaaklikhede vir die jeug. Net soos daar nooit toegelaat mag word dat die jeug se vryheid van uitdrukking onderdruk word nie, net so mag die Afrikaner ook nie toelaat dat die jeug se vryheid van keuse en assosiasie onderdruk word nie, veral nie deur die Afrikaner self nie!

Therese van Schalkwyk ·

Veels geluk met die “lekker idee aan die einde van ‘n lang akademiese loopbaan”.
Mag die Engelse webwerf van die Akademie groter sukses vir die Afrikaanse Taal meebring as wat die afgelope 25 jaar die geval was. Akademiese Afrikaans is na alles uitgewis op universiteitsvlak ongeag vele indrukwekkende curriculum vitae.
Wie weet, dalk is die Engelse meer geïnteresseerd?

Nagmaalwyn ·

Sy moet net seker maak alles wat die Akademie doen word goed gedokumenteer. Plaas harde afskrifte in ‘ n tydkapsule. Oor 100 jaar kan mense die kapsule oopmaak en die uitgesterfde taal bestudeer.

Philippus Janse van Rensburg ·

Baie geluk met u aanstelling!
Beslis, ‘n taal bestaan ter wille van die mense, die praters en gebruikers van ‘n taal! Sonder dat ons eers geweet het of daar enige vrae omtrent ons taal was, het ons dit gepraat en onsself leer verstaanbaar maak aan ons huismense. Waar dit saak gemaak het of ons ons diepste behoefte kon oordra aan mekaar. En dit geld vir alle mense, want daar is geen ander manier waarop ons kan menswees nie. Daar is ‘n wonder in elke taal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.