
Mense staan by die Lyttelton-polisiestasie in die tou om hul vuurwapens in te handig. (Foto: Du Preez de Villiers)
Min. Bheki Cele het gister tydens ʼn vraag-en-antwoord-sessie in die parlement gesê die moontlikheid van ʼn nuwe wapenamnestietydperk word nie uitgesluit nie.
Die minister het ʼn jaar gelede op ʼn soortgelyke vraag van die VF Plus laat blyk dat hy die versoek oor ʼn nuwe amnestietydperk vir die inhandiging van vuurwapens sou oorweeg, aangesien so ʼn versoek volgens hom “billik” was.
Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, het die minister Woensdag gevra of hy steeds van voorneme is om ʼn nuwe amnestietydperk te bepaal waartydens vuurwapens sonder vervolging ingehandig kan word, asook watter datum hy daarvoor in die vooruitsig stel.
Die minister is ook gevra of vuurwapeneienaars dan weer die geleentheid sal kry om aansoek te doen om ʼn lisensie vir vuurwapens waarvan die lisensie verval het en of die wapens tuis bewaar kan word, gegewe die hoë voorkoms van vuurwapendiefstal by polisiekantore.
Cele het bloot die moontlikheid van verdere amnestie daargestel, aangesien die wet dit moontlik maak.
Slegs ʼn klein aantal wapens is deur die vorige wapenamnestie in Januarie verlede jaar ingehandig. Sommige wapeneienaars het die administrasieproses boonop as ʼn “nagmerrie” bestempel. Cele het Dinsdag erken sodanige amnestie gaan gepaard met ʼn moeilike administrasieproses.
Die VF Plus sal ʼn opvolgvraag in die polisie se parlementêre portefeuljekomitee vra oor die moontlikheid dat ʼn persoon aansoek kan doen om die lisensiëring van ʼn vuurwapen waarvan die lisensie verval het.
“Dit sou net billik wees om so ʼn versoek toe te staan, aangesien dit nie die skuld van vuurwapeneienaars is dat daar ʼn administratiewe chaos by die polisie se sentrale vuurwapenregister heers nie,” sê Groenewald.
Maroela Media het vroeër berig probleme by die sentrale vuurwapenregister vererger en dat aansoekers soms jare wag vir hul lisensieaansoeke om verwerk te word.
Cele het verlede jaar reeds erken dat die tweede en laaste amnestietydperk erg ontwrig is en dat baie vuurwapeneienaars daardeur geraak is.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
15 Kommentare
Ek wag nou reeds 15 maande vir my Bevoegdheidsertifikaat!!!
Behou jou vuurwapens !!! Jy gaan hulle nodig he !!!!!
Sluit aan by n Jagters- of Sportskiet organisasie, Bietjie meer papierwerk en moeite, maar die moeite werd. Het 8 weke gewag vir my lisensie goedkeuring en nog 4 vir die lisensiekaartjie. Boonop is jou lisensie dan 10 jaar geldig.
In kommentaar op wat Gerd Lourens sê, ek dink die aangewese vuurwapenbeampte (DFO) by wie die aansoek ingedien is, speel ‘n groot rol. Ek het een keer meer as ‘n jaar laat ‘n hernuwing gedoen, (self skuldig, vergeet) en die laaste hernuwing 3 weke voor vervaldatum (polisiestasie se skuld – toe gewees vir weke weens covid) en elke keer ontvang ek hernuwing binne weke. Het buitendien groen lisensies. Het my aansoek die laaste keer uit getik, en die poliesman het gesê dit moet met die hand gedoen word. Toe ek dit weer in tikvorm bring, het hy moedeloos sy skouers… Lees meer »
Jy bel om uit te vind wat aan die gang is en niemand antwoord nie, drie weke later bel jy die bevelvoerder en dan gee hy vir jou die nommer van die persoon wat daarmee werk, presies dieselfde niemamd antwoord nie. Uit pure moedeloosheid gaan jy polisiestasie toe en praat met die man wat daarmee werk. Hy se net as hy nie siek is nie is hy nie daar nie. Hoe moet jy nou aansoek doen vir jou vuurwapen lisensie. Belaglik verby.