Nuwe ANC-leierskap in Wes-Kaap gaan hande vol hê

Ebrahim Rasool (Foto: ANA)

Die span wat deur die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) aangestel is om sy Wes-Kaapse leierskap oor te neem gaan hul hande vol hê om hul doelwit te bereik, naamlik om die ANC te kry om weer in die Wes-Kaap te regeer.

Die verkose provinsiale uitvoerende komitee van die ANC is ontbind nadat hulle nie die streekskonferensies en provinsiale konferensies georganiseer het om hulself te vervang nie. Maar die nuwe span wat dinge moet regruk, bevat die presiese verdelingslyne wat die provinsiale ANC lamgelê het.

Die ANC het in Mei se algemene verkiesing sy swakste provinsiale uitslae ooit behaal en net 27% van die stemme in die Wes-Kaap op hom verenig. Die verkiesingspoging onder leiding van oudpremier Ebrahim Rasool het in chaos en mislukking geëindig toe alles van kiesersvervoer tot kosvoorsiening aan partywerkers skeefgeloop het.

Die nuwe leierskapspan staan onder leiding van die voormalige LP Lerumo Kalako en Ronalda Nalumango. Rasool is ook lid saam met verskeie van sy sterkste ondersteuners, maar saam met hom op die span dien ook die man wat hom uitgedaag en as provinsiale leier ontsetel het, James Ngculu, en die vrou wat ’n enorme rol gespeel het in sy afsetting te midde van die sogenaamde bruin koevert‑skandaal waar joernaliste na bewering omgekoop is vir goeie dekking.

Ook in die span is onder meer die huidige leier van die ANC in die Wes-Kaapse wetgewer, die hardwerkende Cameron Dugmore, wat Rasool se LUR vir onderwys was, die parlementariërs Richard Dyantyi en Zou Kota, asook die voormalige provinsiale sekretaris, Faiez Jacobs, en nog ’n voormalige sekretaris, Songezo Mjongile.

Die span se eerste taak sal wees om die takstruktuur van die ANC in die provinsie te laat herleef en elke tak ’n aksieplan te laat uitwerk, sodat provinsiale en streekkonferensies gehou en ’n nuwe leierskap demokraties verkies kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Kallie ·

En dan wil die klomp die Wes-Kaap “regeer”. Stig af Kapenaars, ASAP!!!!

JohanR ·

Gee my ‘n groot vet bruin koevert Ebrahim Rasool dan sal ek vir die ANC stem,,,,,NOOIT!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.